Deur Lisa Aspeling, versorg deur Mariette Snyman. Foto’s Pexels
1. Jou visum
Al gaan jy net vir ’n paar weke soontoe, bied die Verenigde Koninkryk ’n standaard ses maande-toerismevisum aan vakansiegangers. Jy moet ’n beduidende aantal dokumente verskaf: sorg dus dat jy minstens ’n maand voor jou vertrek aansoek doen. Dit laat genoeg tyd vir die prosessering van die visa en enige onvoorsiene oepsies.
Wenk
Move Up (www.moveup.co.za) kan help om jou aansoekproses glad te laat verloop. Hulle hanteer alle soorte VK-visumtipes en belowe selfs ’n geld terug-waarborg.
2. Jou vlug
Jy is dalk verplig om toeristeklas te vlieg, maar jy kan nog verder op jou vlugte spaar. Desember en Januarie word as hoogseisoen beskou, en die groot aanvraag na vliegkaartjies beteken hulle is gewoonlik duurder. Die goue reël vir vlugbesprekings is: hoe vroeër jy jou kaartjie koop, hoe goedkoper sal dit wees.
Wenk
www.kayak.com en www.rometorio.com is twee van ons gunsteling-laekoste internasionale vlugwebwerwe. (En Kersdag en Oukersaand is gewoonlik die goedkoopste hoogseisoendae om te vlieg.)
3. Jou verblyf
Wie sê jy moet deur jou nek vir oorsese akkommodasie betaal? Onthou jy die romantiese Kersfliek, The Holiday, met Kate Winslet en Cameron Diaz? As jy ’n huiseienaar is, of as die persoon by wie jy huur nie omgee dat jy onderverhuur nie, kan jy hierdie Kerstyd ’n house swap oorweeg. Sluit aan, betaal die registrasiefooi, skep ’n profiel, kyk na die moontlikhede en kontak die eienaars. As jy nie ’n opsie vind wat kan werk nie, kan jy krediete aan ’n eensydige reëling wy. Gaan gerus na www.lovehomeswap.com vir opwindende opsies!
Wenk
Jy kan jou ook as ’n huis- of troeteldieroppasser beskikbaar stel en gratis oorsee gaan bly. Hiervoor moet jy ook by jou gekose webwerf registreer, die registrasiefooi betaal en ’n goeie passing vind.
4. Jou vervoer
Afgesien van vlugkoste en akkommodasie, kan daaglikse vervoerkoste ’n aansienlike duik in jou begroting maak. As jy ’n volle dag aan die besienswaardighede buite Londen wil bestee, kan jy ’n motor huur, maar in Londen self is die gewilde Oyster Card jou beste roep. Die Oyster Card stel jou in staat om die moltrein, bogrondse treine of stadsbusse te gebruik sonder om kontant saam te dra. Koop net jou Oyster Card, laai geld op by die naaste treinstasie, en tik dit op die aangewese plek wanneer jy deur die draaihek beweeg of op die bus klim.
Wenk
Ons kan nie besluit watter een nuttiger is nie: die Citymapper app wat Londen se reisroetes, metodes en pryse vergelyk, of die Rick Steves’ Audio Europe app vir topklas begeleide staptoere in Londen.
Lees ook: Apps wat enige vrou se lewe makliker kan maak
3 Tuinmaak-apps om jou te help
5. Jou vermaak
As die oudste kultuursentrum in die Engelssprekende wêreld bied Londen ’n reuseverskeidenheid vermaak, toere en museums. Hier vind jy alles – van ongewone restaurante en verstommende kunsuitstallings tot van die heel beste teaterproduksies. Maak seker dat jy minstens een van die volgende hoogaangeskrewe produksies onder oë kry: Wicked, The Play That Goes Wrong, The Lion King of Mathilda. Toegangskaartjies skop af met ongeveer £25 (R500). Bespreek vroeg om seker te maak jy kry jou sitplek.
Wenk
As jy weeksdae om 13h00 by Trafalgar Square is, kan jy ’n wêreldklas klassieke musiekkonsert by St Martin in the Fields bywoon. Daar is geen toegangsgeld nie, maar hulle aanvaar donasies ten bate van die instandhouding van hul pragtige, ou kerk. Kry die konsertskedule op hul webblad.