Die betekenis van Kersfees
Die einde van ’n jaar is gewoonlik ook partytjietyd, maar die een viering wat vir baie mense uittroon, is Kersfees. Die betekenis van Kersfees en die voorafgaande Advent gaan dikwels verlore tussen die reëlings vir die somervakansie, die kommersialisering van Kersfees en die dolle gejaag om tog net vir almal ’n eksklusiewe geskenk te kry.
Jy kan wel tussen alles deur steeds die gebruike en gepaardgaande simbole van Kersfees in stand hou en oordra aan die mense wat vir jou belangrik is en die boodskap van vrede en hoop uitdra.
Vir die tydperk van Advent, wat die voorbereiding is vir die viering van Kersfees, is die kleure purper, malvapers, silwer, grys, donkerblou en leikleur, almal koningskleure in afwagting op die koms van die Koning. Tradisioneel is die kleure vir Kersdag en daarna, goud, groen, rooi (vreugde) en wit (Christus se teenwoordigheid).
Die drie tradisionele simbole van Advent en Kersfees is die Adventkrans, die Kersboom en die stomp van Isai.
Die krans herinner ’n mens aan die koninklike of oorwinnaarskroon en Christene aan die koms van hul Koning en sy oorwinning. Die sirkel is natuurlik ’n simbool van ewigheid of oneindigheid en vir Christene simboliseer dit die ewigheid en trou van God se liefde. Die krans word tradisioneel op ’n tafel gesit, uit die dak gehang of by die voordeur geplaas. Soms word die krans op die plek gesit waar die Kersboom gaan staan. Vier Sondae voor Kersfees met die aanvang van Advent word die krans met vier kerse in Adventskleure (meestal blou of pers) op sy plek geplaas. In die middel is een wit kers wat Christus simboliseer. Die eerste vier kerse word een vir een op elke Adventsondag aangesteek en die wit een op Kersdag om die fees van die koms van die Lig te vier.
Op Kersdag, of reeds op Oukersaand, word die hele huis met kerse versier om die koms van die Lig te vier. Vandaar dan ook die naam Kersfees – fees van die kerse. Die simboliek van die kerse verwys na die voorspellings in die Ou Testament dat Jesus gebore gaan word. “Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn” (Jes.9:1), maar dit verwys ook na Christus wat gesê het: “Ek is die lig van die wêreld.” (Joh.8:12) en ander soortgelyke verwysings na lig in die Nuwe Testament.
Die Kersboom het ’n baie sterker godsdienstige betekenis as wat die meeste mense vermoed. Dit verwys na die boom van die lewe in die paradys, en herinner so aan die Skepping en dat Christus weer sal kom om ook die Skepping te verlos. Die versierings aan die boom was oorspronklik klein ornamentjies van vrugte (’n verwysing na die takkie wat uit die stomp van Isai sal uitspruit en ’n loot wat daaruit sal groei en vrugte dra (Jes. 11: 1), veral appeltjies wat reeds vroeg ’n simbool van Christus was. ’n Wonderlike gebruik is dat die gesin elke jaar nuwe Kersversierings aankoop of self maak as simbole van die geskiedenis van die gesin. Die boom hoef natuurlik nie in die huis te wees nie. ’n Boom in die tuin kan Oukersaand nog feesteliker maak.
Dikwels word ’n droë tak of stomp met ’n rooi lint versier, of ’n droë tak vir ’n Kers- boom gebruik, maar min mense weet waarna dit verwys. Dit verwys inderdaad na die stomp (stam) van Isai in Jes.11:1 waar die geboorte van Jesus voorspel word: “’n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai (die stamboom van Jesus), ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra.”
Die gebruik van geskenke met Kersfees simboliseer die geskenke wat die wyse manne vir Jesus gebring het en herinner aan die geskenk van God die Vader aan die mensdom. Verder verwys die gee van geskenke ook na die legendes rondom St. Nikolaas wat later die beskermheer van skoolkinders geword het. In sommige lande is dit ’n tradisie dat St. Nikolaas (alias Sinterklaas, oftewel Kersvader) in die nag in die geheim geskenke vir die kinders bring. Die gebruik met die gee van geskenke gaan in die gees van Kersfees en die barmhartigheid van Jesus dikwels ook gepaard met die uitdeel van geskenke aan arm, behoeftige en eensame mense, en in dié tyd ook uit te reik na die randfigure van die samelewing.
Groen-en-wit Kersfees met ’n krans van Kersboompies (gemaak met swaardvarings) in potjies mos en seweweeksvaringtakkies vir individuele Kersboompies by elke bord.
’n Grys (tradisonele adventkleur) penny gum-krans afgerond met Oldman’s Balls en rooi lint gee ’n vars gevoel aan die tradisionele adventkrans.
Dooie takke as ’n simbool van die Stomp van Isai in ’n curly willow-krans, afgerond met vars groen en rooi om die loot wat uitgroei, uit te beeld.
Grys slangbos, inheemse fynbos en herwinde leikleur papierblomme gee die adventkrans gelyktydig ‘n moderne en inheemse gevoel.
Sirkels as simbool van ewigheid uit swaardvaringblare.
Wit en groen, die tradisonele Kersfeeskleure, nuut ingespan met ’n groepering van vetplante, mos, siprestakkies en tuinvars Erigeron.