Daar is hope vermaak vir ouers en kinders insluitend mistieke avonture vir kinders, en spookhuistoere vir volwassenes. Daar sal ook ’n vertoning deur die McLaren-sirkus wees.
Dit alles vind plaas in die rustige omgewing van Irene op die atmosferiese huismuseum se gronde.
Daar sal ’n veilige speelplek vir kinders wees en groter kinders kan deelneem aan “Pokemon Go”. Daar is ’n “Hunt ” en baie “Pokestops” op die terrein met kunsaas om Pokemon (waarvan sommige baie skaars is) aan te lok.
Die man met 100 stemme, die bekende buikspreker-cum-towenaar en komediant, Gareth Lush, sal elke uur vermaak aanbied.
Die skepper van die bekende Mystery Ghost Bus-toere van Suid-Afrika, Mark Rose-Christie, bied spook-toere elke halfuur binne Smutshuis self aan. Dit is na bewering een van die bekendste spookhuise in die land en die donkerkamer, “Fright Night”, se grillerige atmosfeer sal jou koue rillings gee.
Jy kan deur verskeie kunsstalletjies dwaal. Bring jou piekniekkombers saam en kuier onder die bome terwyl die kinders op Kersvader wag.
Die sanger Pieter Strydom sal optree terwyl gaste die potjie-buffet en ontwerpersbier asook geregte by verskeie kosstalletjies geniet. Kinders kan geregte van Ouma’s Restaurant & Pub se Pokémon-spyskaart bestel.