Motorfietsstyl
Die motorfietsbaadjie is een van daardie items wat jy altyd op die loopplanke sal sien – of dit nou in leer of suede is; vir winter of somer. Boonop kan dit enige uitrusting moderniseer. Wees motorfietssjiek en dra dit saam met ’n paar leerstewels en denims of hou dit elegant met ’n eenstuk of maksirok. Hoe ookal, jy kan van dag tot aand op hierdie item staatmaak.
Kantoorbaadjie
Die kantoorbaadjie is kenmerkend aan sy omvoukraag en snyersnit, hoewel dit deesdae ook as ’n lospassende snit gedra kan word vir ’n informeler voorkoms. Kantoorbaadjies skep ’n professionele voorkoms wat dikwels by klere van dieselfde styl gedra word, byvoorbeeld die knopieshemp en hakskoene. Vir ’n informele koffie-afspraak is jeans en tekkies egter die beste keuse.
Militêr
Met sy kenmerkende kleur en detail, skep hierdie baadjie ’n styl van sy eie. Let wel: dit is egter nie dieselfde as ’n parka met sy kappie en intrektoutjies om die middel nie. Die militêre baadjie is perfek vir daardie laag-op-laag voorkoms. Hoewel dit dikwels saam met jeans gestileer word, kan jy dit, met ’n gordel om jou middel, ook saam met lospassende rokke of rompe dra om steeds ’n gekurwe silhoeët te skep. Kikker dit op met moderne en bonkige bykomstighede.
Denim
As jy twyfel, kies denim. Dit is stylvol, speels, vroulik én klassiek; afhangende van hoe jy dit stileer. Hierdie jaar is denim-op-denim hoogmode met ekstra detail soos borduur- of appliekwerk. Kies ’n korter snit om by hooggesnyde jeans of rompe te dra sodat dit jou middel beklemtoon. Vir ’n moeitelose sjiek voorkoms, dra dit saam met ’n maksierok en ’n paar enkelstewels.