– Erdinger Weissbräu Dunkel is ’n donker koringbier wat met fyn hop en donker mout in Beiere gebrou word.
– Grolsch Premium Lager is ’n Hollandse bier wat sedert 1615 vervaardig word en in ’n unieke bottel versprei word.
– Duvel Belgium is ’n goue ale wat in België gebrou en twee maande verouder word.
– Corona Extra is wêreldwyd een van die topverkopers en word in Mexiko gebrou. Dit word tradisioneel met ’n lemmetjieskyfie in die bottelnek gedrink.
– Boddingtons Pub Ale is oorspronklik van Manchester, Engeland, en het ’n romerige tekstuur en goue kleur. Dié blikkies het ’n unieke affêrinkie binne-in wat die bier skommel en meebring dat elke glas met ’n lekker lagie skuim geskink word.
– Abbaye de Leffe Brune is ’n donker Belgiese ale wat oorspronklik in ’n klooster deur monnike gebrou is.
– De Verboden Vrucht is ’n sterk vrugtebier met ’n donkerrooi kleur.
– Peroni Nastro Azzurro is nie net ’n gunstelingbier onder vroue nie, maar die gunsteling in Italië, waar dit gebrou word. Dit het ’n verfrissende, helder smaak.
– Guinness Draught is ’n Ierse bier in ’n spesiaal ontwerpte botteltjie wat die bier laat skuim wanneer jy daaruit drink. Die bier het ’n karamel-en-mout-smaak met ’n bitter nasmaak.