Lank, lank gelede het ek ‘n vertoning van die wêreldbekende kabaretkunstenaar Herman van Veen in die Pretoriase Staatsteater bygewoon. Die atmosfeer was gelaai. Die gehoor was meegevoer. En toe, nà die laaste buiging, wys hy terloops na ‘n sydeur en sê dat hy daar met enigiemand sou gesels.
Ek was verstom. Hoe kon hy so gemaklik van die beskerming van sy sterstatus afstand doen en hom blootstel aan volslae vreemdes se opdringerigheid of kritiek?
Vandag verstaan ek dit beter. Iewers maak elkeen van ons ‘n lewenskeuse tussen keer en hanteer.
Beleef ons die werklikheid as gevaarlik, gaan al ons skanse op. Binne ons grensdrade voel ons veilig, maar hulle hou ook mense en ervarings buite ons bereik. Die rede hoekom ons dit nie met die lewe wil waag nie, skryf Oriah Mountain Dreamer in The invitation, is ons begeerte na ‘n voorspelbare uitkoms en die behoud van ons trots. Ons wil assebliéf tog net nie sleg lyk nie.
Die alternatief is om oop te wees – vir moontlike morsige belewenisse, ja, maar ook vir mense en gebeure wat ons verras, laat tintel en ontroer. En as ons per ongeluk ‘n giftong in ons ruimte toelaat, moet ons dit maar so goed moontlik hanteer en mediese hulp gaan soek. Wie het nou weer gesê mediese kenners is soms darem net absoluut aanloklik verpak?