Somersdae in die Stellenberg-tuine in die suidelike voorstede van Kaapstad kan jou kop laat duisel. Jy kan begin dink jy is tussen die diepperse en bloue van Monet se gevierde tuin by Giverny in Normandië, Frankryk. Duisende mense stroom jaarliks daarheen om dié Impressionis se lewende tuinskilderye te sien met die gekwaak van ’n opgekikte koor Franse paddas tussen die oorbekende waterlelies op die agtergrond.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Maar in hierdie tuin op hierdie Vrydag in Januarie vanjaar staan daar tussen die eksotiese blommeweelde van delfiniums en irisse iets Afrikaans in die bloute geplant: ’n Jong vrou in ’n sagte grys rok wat jou laat dink aan ’n silwergrys lamsoortjie waaraan ’n mens liggies wil raak omdat alles so satynglad en mooi is. Haar naam is Katryn en haar van is Kruger. Meer Afrikaans kry jy nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Sy is maar pas twintig. Al duikel sy sedert haar vyftiende langbeenjaar vlinderfyn deur die internasionale modewêreld wat hulle wil vergryp aan dit wat hulle nie kan vasvang of besit nie. Want hierdie Katryntjie wil elke keer Keerweder, na dit wat haar gevorm het en haar telkens weer aard – ’n ouerhuis en ’n gemeenskap waarin sy vroeg reeds geweet het wat regtig saak maak.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
Katryn, na haar ouma vernoem, was die een oomblik nog ’n kind met wakker blou-groen oë wat boeke verslind, netbal speel, huiswerk doen, Sondae kerk toe gaan en woonwavakansies op Hartenbos hou. En toe sien die model Robert Bester (destyds Zac in 7de Laan) al 1,8 m van haar in ’n winkelsentrum raak. Hy het dadelik geweet die gesig met die prominente, donker wenkbroue, lang wimpers, helder vel en gevoelige mond het wat dit verg om vanaf voorblaaie na die wêreld te kyk.
Robert het sy dae gehad om haar oorblufte ouers en jonger broer te oortuig dat hy nie een of ander sluiper is nie, maar hy kon hulle uiteindelik oorreed om ’n agentskap te bel. Modelwerk was nooit deel van die grasieuse slimkopkind se prentjie van haar toekoms nie. Sy was “mal oor skool” by Hoërskool Tygerberg, lees soos ’n July-perd en wou bloot soos die meeste van haar maats ná skool Stellenbosch toe.
Haar pa, Pieter, is ’n finansiële adviseur en haar ma, Aletta, ’n bedryfsredakteur vir die Stad Kaapstad. “Dis van haar dat ek my liefde vir boeke en skryf kry.” (Katryn was een jaar die wenner van die ATKV se nasionale skryfkompetisie vir haar prosawerk en die jaar daarop naaswenner.)
Maar dinge het ’n omvangryker wending geneem. In een van die soort verhale waarvan Hollywood-flieks gemaak word, was die beskermde, voorstedelike tiener byna oornag een van die internasionale modewêreld se grootste nuwe gesigte. Agt maande ná die dag in die winkelsentrum is sy grootoog Parys toe, vergesel van haar besorgde ouers om vir die internasionale IMG-agentskap te werk met kantore in New York, Londen, Milaan en Parys.
Een van die vele leerkurwes op die pad van skoolbank na loopplank was om onder die wakende oog van ’n afgetrede Amerikaanse model haar loop op 12 cm-hakke te kan kry. Die maand daarna is sy Milaan toe vir ’n fotosessie vir Prada se Lookbook (’n prestige-glansbrosjure) en voor haar 17de verjaarsdag kon sy reeds gesogte kliënte soos Louis Vuitton, Givenchy, Chloé en Valentino by haar lysie voeg.
Vir laasgenoemde was sy die model wat die vertoning begin en geëindig het, ’n sonderlinge eer. “Ek het soms gevoel of ek myself wil knyp. Party van die produksies is enorme, glad geoliede affêres wat met militêre presisie uitgevoer word. Vir een het hulle ’n trein en ’n stasie gebou net sodat die modelle tien minute op die trein kan vertoef voor ons een-een uitklim.”
Nadat sy in 2011 steeds graad tien met akademiese erekleure verwerf het, het sy in 2012 voltyds begin werk. Met meer as vyftig modevertonings vir nog swaargewig-modename soos Ralph Lauren, Diane von Fürstenburg (“sy het ons byna met haar parfuum verdrink”), Donna Karan, Victoria Beckham en Stella McCartney.
Een van die baie internasionale tydskrifte wat haar opgeraap het, was Vogue – vir modeartikels in Frankryk, Brittanje, Japan, Mexiko, Duitsland, Rusland en Korea. Die Afrikaanse kindjie wat oornag moes grootword, het saam met die byna koorsige verkenning van die buitewêreld ook gou haar ontwikkelende binne-wêreld leer ken.
As sy nou terugdink aan daardie eerste dol tyd, is dit eintlik of alles vervaag het.
Die verlange na haar huis, skool, vriende en die lekker netbal was in daardie eerste jaar soms groot. “Ek was in New York toe my oupa siek word. Dit het my laat besluit om eers ’n ruk huis toe te kom, net weer iets van myself terug te kry.”
Die noodgedwonge self-bewustheid waarin modelwerk ’n jongmens laat beland, is iets wat jou spontaneïteit en onbevangenheid kan steel, iets waarteen sy probeer waak. “Ek noem myself ’n halwe plaaskind, een wat kaalvoet boomhuise help bou het, of saam met my nefies tussen die lang gras, beesmis en rivier op my oupa se melkplaas rondkerjakker het. Die einste nefies was van Citrusdal en daar het ons net so lekker by die rivier visgevang, ure in die swembad gespeel en mielies en vrugteslaai geëet.
“Op besoek aan ons het my oom se bakkie ook altyd gekreun onder al die vrugte vir die Kapenaars. In skerp teenstelling daarmee dwing modelwerk jou – in ’n stadium wat jy nog nie seker is van wie jy is nie – heeltyd in daai lyk-ek-reg, ís-ek-reg vrae in. Dit konfronteer jou met alleenheid en jouself soos nooit tevore in jou lewe nie. Niks is mos so weerloos en eensaam soos ’n vrou voor ’n spieël nie, soos die liedjie sê.”
Sy moes leer om te dínk: “Modelle het dikwels, ondanks al die hoe-ha oor hul voorkoms, ’n swak selfbeeld. Die strewe na perfeksie maak dat jy jouself heeltyd vergelyk met ander wat langer of korter of maerder as jy is. Dis aaklig.”
Katryn was gelukkig altyd aktief en van nature slank. “My gesondheid is belangriker as die bedryf se vereistes om plankdun te wees. Maar ’n mens het sekere verpligtinge en ek probeer om verstandig te eet, hoewel ek myself ook daardie sporadiese lekker stuk koek of wat ook al gun. Eintlik weeg ek my nooit nie, maar glo my, dit kan nogals daunting wees as die agentskap die dag jou mates neem!”
Haar geloof was vir haar deurgaans ’n groot anker in ’n bedryf wat van oppervlakkighede wemel. Die fyn gesiggie is nadenkend as sy sê: “Daardie grondslag het my gehelp om mettertyd meer beheer te neem, regtig te dink oor wat ék wil hê sodat jy jouself nie verloor in ’n poging om almal te probeer behaag nie. Jy is weg op jou verjaarsdag of ’n geliefde se gradeplegtigheid, en soos die dokumentêre rolprent oor modelle, Coat Hanger, wys, het die uitdrukkinglose ‘poppe’ wel emosies en ’n eie lewe.”
In 2012 het Models.com haar as een van die beste nuwe gesigte oftewel modelle bestempel. “Hulle het verwys na die ‘onkeerbare momentum’ van my opgang. Maar my ouers het nogtans soms geworstel oor of hulle my moes weggestuur het. Hulle het nie die bedryf geken nie en het besef hulle kan my nie beskerm nie. Ons het saam besluit om ten koste van daardie momentum eers briek aan te draai.”
Sy het in 2013 deur Cambridge University begin studeer sodat sy haar matriek verlede jaar kon klaarmaak, iets wat haar aan selfvertroue laat wen het. “Ek kon steeds werk, maar op ’n baie meer beperkte skaal omdat ek tutoriale klasse in Kaapstad moes bywoon. Dit was ’n manier om terug te sny en weer beheer oor my eie lewe te neem.”
Sy grinnik. “Ek moes maar aanvaar dat my ma my weer vra om die vuilgoeddrom uit te sit saam met ’n waarskuwing dat ek moet dophou wat in die straat aangaan!”
Die werksaanbiedinge het nie opgehou nie. “Ek het noudat ek weer meer werk, begin om in my vrye tyd verskeie kort kursusse in joernalistiek en sake-bestuur te doen. Die kreatiewe spanwerk van modelwerk is stimulerend maar dis belangrik om my horisonne te verbreed, ook meer oor dinge buite die bedryf te leer. As ek eendag klaar is daarmee, moet ek gereed wees vir volgende geleenthede. Jy moet mos maar die grond voorberei vir die reën …”
Twee mense wat ook deel is van haar kompas op die onvoorspelbare pad wat sy, “eintlik gebou vir roetine,” nou bewandel, is Jo-Anne Strauss, voormalige Mej. Suid-Afrika, en haar vriend, Cilliers Kies. “Ek kry deesdae foto’s van Jo-Anne se babaseuntjie en sy kry foto’s van my twee bruin worshondreuntjies. Almal wat my ken, weet ek is dolverlief op hulle!”
Die twee skoonhede het nog iets gemeen: albei se liefdes in hul lewe is dokters. Cilliers, ses jaar ouer as Katryn, is nou in sy tweede jaar internskap by Khayelitsha se distrikshospitaal.
“Sy werk daar gee ook vir my perspektief op die lewe. Ons het mekaar op Hartenbos leer ken, sy ouers is ook ernstige kampeerders. Ons het nog net ’n maand lank uitgegaan toe ek begin reis.”
Deesdae stel sy haar daarop in om twee maande lank baie hard te werk “maar dan moet ek eers weer twee weke huis toe en Cilliers toe om balans te kry. Ek het agtergekom ’n mens kán soms ‘nee’ sê”.
Toe ons later by ’n restaurant groet, staan sy asof bestel voor ’n skubliesroos met beeldskone, slanke stamme. Die wind speel om die lang bruingebrande bene, lig die wit sonrokkie op. Katryn keer laggend. Haar rok het fietsies op. Vars en vrolik. Nes die 19-jarige wat al wuiwend in haar splinternuwe wit Volksie wegry.
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.