Onrusrivier, Hermanus, Wes-Kaap, Suid-Afrika.
Die woorde “Hier en Daar” heet gaste welkom by die wit-gekalkte huis met die blou dak. Dis naby die see, met ’n plaat groen tussenin en ’n tuinlushof agter die blou hekkies. Hier woon, leef en skep Katinka Heyns (69), bekend as aktrise, regisseur en vervaardiger in radio-, televisie-, rolprent- en teaterkringe.
“Dis ’n storiehuis; ’n pretensielose strandhuis wat vroeg in die jare sestig gebou is. As ek my oë soggens oopmaak, sien ek die see en as ek my oë saans toemaak, hoor ek haar op my voorstoep. Dis ongelooflik,” sê sy.
Katinka en haar man, die ontslape Hertzogprys-bekroonde dramaturg en skrywer Chris Barnard, het die huis 33 jaar gelede gekoop. Aanvanklik was dit net ’n vakansiehuis. ’n Outydse strandhuis met dik mure en houtdeure met koperknoppe.
“Dit was ons en die vyf seuns se Kersfeesbestemming. Prakties. Bestand teen sandvoete, nat swembroeke en handdoeke en honger kinders. ’n Enorme yskas, en ’n blad waar die alikreukels en perlemoene skoongemaak is. Die Kook en Geniet was ook byderhand en ‘Japie se gunsteling’ het nou en dan sy kop uitgesteek. Die vleis en koekies en beskuit wat Idah gebak het, het van die Transvaal af saamgekom. Chris se ma se yslike ysterpot en my ouma se ysterpan is steeds hier. Daar was nie ’n TV nie en Chris kon sy draagbare radio’tjie sit net waar hy wou. Die nuus,
U Eie Keuse, sport.”
Katinka sê die huis is nie meer “Daar” nie. Die huis is nou “Hier”. Hier, in die TV-kamer, word jare se persoonlike herinneringe teen die mure bewaar: foto’s van laggende kinders, vriende en familie en foto’s van haar en Chris deur die jare. Jan Rabie en sy vrou, die skilder Marjorie Wallace, was hul bure. Etienne Le-roux het hier ’n strandhuis gehad. Koos Human, Klaas Steytler, Elsa Joubert en natuurlik Uys Krige was hul sielsmense. Die huis se hart was oop.
Dit lyk vandag anders. Dit is nou die huis van ’n vrou én ’n romantikus. Katinka en Chris was albei versamelvoëls van boeke en nóg boeke. Sy koester haar versameling getekende boeke. Die boekrak wat haar oupa Frans gemaak het, is volgepak met die boeke wat Chris geskryf het. Dis ’n heilige kolletjie in die sitkamer onder ’n pragtige skildery van Wendy Malan. Trouens, die huis wemel van magiese skilderye deur dié skilder. Engele en duiwe, skoenlappers en fantasie. Ook Judith Mason. Uys Krige se ma, tant Sannie, wat Marjorie geskilder het, kyk toe met haar strooihoed en blou lint op haar kop. Katinka is nie snobisties oor afdrukke nie en geniet steeds die Picasso-duif en Rembrandt se Eensame Vrou. Sade. Skulpe. Vere. Herhalende temas soos perde en vlinders, voëls en engele; haar oumagrootjie se porseleinteestel en koperlamp en ’n antieke staanhorlosie met ’n mooi gesiggie. En die gebedelappies van oor die wêreld wat haar vriendin Elmarie fyntjies aan die wit gordyne gestik het. En hoede. Die huis wemel van hoede, onder meer ’n strooihoed met helderkleurige lapblomme wat aan Anna Neethling-Pohl behoort het. En Katinka se perdryhelm uit vervloë dae.
Al die rolprentplakkate en -toekennings het ook iewers ’n hoekie gekry waar hulle die verhaal vertel van Katinka se reuse-nalatenskap. In haar veertig jaar in die bedryf het sy vir KRUIK en TRUK in stukke van Chekhov, Ibsen en Shakespeare tot Jochem van Bruggen en Gerhard Beukes gespeel. Sy het haar debuut as rolprentaktrise in 1968 in Jans Rautenbach se rolprent Katrina gemaak, gevolg deur onder meer Jannie Totsiens (1970), Pappalap (1971), Eendag op ’n Reëndag (1974) en die gewilde TV-reeks Willem.
Daarna het sy baanbrekerswerk as regisseur en vervaardiger gedoen met onder meer treffers soos Fiela se kind (1988), Die Storie van Klara Viljee (1992), Paljas (1998) en Die Wonderwerker (2012). Paljas was die eerste Suid-Afrikaanse rolprent wat vir ’n Oscar in die afdeling beste buitelandse rolprent benoem is.
Katinka is al met verskeie toekennings vereer, waaronder die internasionale Crystal-toekenning vir Vroue in Rolprente. Sy is ook die eerste vrou wat in die Nasionale Rolprent- en Televisie-stigting se Hall of Fame opgeneem is en deur die Departement van Kuns en Kultuur as raadslid van die Nasionale Rolprent- en Videostigting aangestel is. Sy is ook deur haar alma mater, die Universiteit van Pretoria, met ’n Laureatus-toekenning en ’n eredoktorsgraad vereer.
Haar onlangse rolprent as vervaardiger is Die Rebellie van Lafras Verwey – wat resensente as ’n “grootse rolprent-ervaring” bestempel het. Dit is gegrond op die 1971-hoorspel wat Chris en hul seun, Simon, in 2014 in ’n eietydse draaiboek verwerk het.
Simon maak sy debuut as regisseur. Katinka en Simon het kort voor Chris se dood in 2015 aan die rolprent begin werk – juis in hul huis Hier en Daar.
“Dit is ’n onthouhuis, maar ook ’n nóú-huis – met soveel mooi. Ook maar goed Chris het jare gelede ’n huis in die Laeveld gebou. Met dié kon alles wat blou is, hiernatoe kom. As jy nie van blou hou nie, is jy in die moeilikheid,” skerts sy.
Daar’s ’n aardsheid hier.
Die destydse twaalfsitplektafel het plek gemaak vir ’n handgemaakte tafel en agt stoele. ’n Massiewe geelhouttafel staan in die kombuis. Twee pragtige geelhouttafeltjies pryk in haar slaapkamer en die twaalfsitplektafel van dwarslêers op die voorstoep is ’n wenner. “Hier word behoorlik gekuier! Ek is gepla met tafels!” Sy skater.
Die verskeidenheid spieëls, wat hulle heelpad van Sonneblom saamgepiekel het, nooi heeltyd die lig in die vertrekke in. “Ek kon ook nie van die klavier ontslae raak nie en was nog nooit spyt nie. My ma, Katie, was ’n begaafde pianis en ek sien en hoor haar nog speel.”
Die huis is ook omskep in ’n wintershuis. Die ou klipvuurherd was al daar, maar die dak is intussen met riete uitgevoer. Dis warm én mooi. Die bank naby die kaggel is ’n heerlike storie-vertel-en-kuier-plek met wyn en allerhande kosgoeters byderhand.
Van kos gepraat. “Niemand op Onrus kook so lekker soos my vriendin Malet nie, en niemand braai so lekker vleis soos my vriendin Martie nie. Ek hou gewoonlik by pasta en maak soms iets eksoties uit een van die vele pragtige kookboeke wat Chris vir my gegee het. Voor in een het hy geskryf: ‘Vir jou lief, omdat ek weet jy hou van mooi prentjies. Geniet dit! Chris.’ Ek het dadelik losgetrek en ’n hond uit ’n bos gekook! Daar is lekker restaurante op Onrus en in die Hemel-en-Aarde-vallei, maar dis ’n luukse. Dis heerlik om kruie en spinasie uit die tuin te eet.”
Haar tuin is ’n ware lushof. Plante van oraloor. Varings uit Knysna en die Laeveld. Wilde jasmyn, spinnekoplelie, noem-noem, frangipani en wildevy van Chris se plaas, Thulani. Blomplante van vriendinne deur die jare. ’n Takbokvaring, vetplante, magrietjies en madeliefies, malvas, orgideë, waterlelies, spelde-kussings. Alles en nog wat. O ja! En natuurlik Margaret Roberts se sonneblomme met die wit pitte! Hulle groei dwarsdeur die jaar. Die helfte van die oes behoort aan die voëls. Fisante, kransduiwe, janfrederikke, swaels en patryse. En ander, waarvan sy die klanke ken, maar nie die name nie.
Niks jaag Katinka nie. Op ’n koue dag sal sy snoesig in die bed bly en, sonder dat iemand dit weet, steeds haar verpligtinge nakom en e-posse beantwoord. Of, jy kry haar in die somer bo-op haar motorhuis. “Daar is ’n dakruimte waar ’n mens in die son kan lê sonder dat iemand jou sien. Dis waar ek soms lê en die son aanbid terwyl ek na die see staar. Die belangrikste is dat die huis vir my die mooiste huis op aarde is, want die siele van my geliefdes dwaal hier rond.”
Willempie, die Duitse pointer, slaap in die winter by haar in die kamer. Stella, Chris se rifrug, slaap in haar huisie op die voorstoep en die twee corgis, Tiekie en Tango, in ’n snoesige hokkie in die agterste binnehof. Die binnehof, waar malvas oorheers, hang vol voëlhokkies, sommige antiek.
Soos gisterherinneringe.
Katinka en die bekroonde kameraman en rolprentmaker Koos Roets het mekaar in 1969 op die stel van Jannie Totsiens ontmoet. Hy het haar mentor agter die lens geword en sy het baie oor kamerawerk en beligting by hom geleer. Hulle is in 1971 getroud en hul seun, Reghard, is twee jaar later gebore. Kort daarna het sy en Koos die produksiehuis Sonneblom Films gestig.
En toe, meteens, het Katinka in ons voorkamers kom kuier as die naïewe, verstrooide Pennie in die gewilde komediereeks Willem. Tobie Cronjé was te sien in die titelrol. Katinka en Tobie het oornag die land se lieflinge geword.
Katinka en Chris Barnard is in 1978 getroud. Die professionele verhouding tussen haar en Koos is nooit verbreek nie. Hul laaste samewerking was in 2012 met die rolprent Die Wonderwerker.
Katinka was die regisseur, Chris die draaiboekskrywer en Koos die beligtingskameraman.
Katinka koester haar kinders. “Ek het Chris se drie seuns -Johan, Stephan en Tian – uit sy eerste huwelik met Annette, ’n puik aktrise en ’n baie beter ma as ek, sien grootword. Hulle het een naweek per maand en elke tweede vakansie by ons gekuier. Die lekkerste was Desembers op Onrus. Veral toe hulle klein was en Jan Rabie hulle geleer duik het – perlemoen en alikreukel uithaal en skoonmaak en gaarmaak. My twee biologiese seuns, Reghard en Simon, het hul liefde vir die see, soos ek, by my pa, Wilhelm, geërf. Hulle verskil soos dag en nag, wat dit interessant maak. Reghard is’n adrenalienslaaf maar hy het ’n baie sagte kant en is lief vir mense en diere. Hy het soos Koos, wat ook nog twee pragtige kinders, Werner en Lara, uit ander huwelike het, ’n optimistiese gees en ’n heerlike sin vir humor. Ek is so bly dat Koos geluk gevind het saam met sy vrou, Eunice Visser.”
Katinka sê Simon is, soos Reghard, ook ’n mens-mens, met ’n sensitiwiteit wat hom al gepootjie het. “Maar hy het ’n fantastiese vermoë om op te staan. Hy is uiters kreatief en dis interessant om te sien dat hy Chris se filosofiese kant en my liefde vir visuele storievertelling geërf het. Hy is baie soos Chris en sy droë sin vir humor laat my baie lag. Dis interessant om te sien hoe Simon se talente hulle ontvou en dis ironies dat ek, Chris, Simon en juis
Tobie saam aan Lafras gewerk het. Dit was die laaste projek waarby Chris betrokke was.”
Katinka is dankbaar en tevrede. “Ek besef meteens hóé geseënd ek was – en steeds is! Kom ons volstaan met die slot van Chris se reisverhaal ‘Trekswaels’. ‘In myle gemeet, is die wêreld skrikwekkend groot – hoe groot presies sal jy selfs ná ’n voetreis oor albei pole nie mooi besef nie. Van hart tot hart gemeet, is dieselfde wêreld ’n baie klein en vertroude plattelandse dorp.’”