“Dit voel of my huis ’n oorlogsone is. Die kinders baklei oor elke denkbare ding. Dit kry net nie end nie. As Boetie wil saamspeel, is dit nie reg nie, as hy nie wil saamspeel nie, is dit ook nie reg nie. ‘Wie sit voor in die kar?’ ‘Wie kolf eerste?’ ‘Wie kry eerste roomys?’ Dit hou net aan en aan. Ek is al so siek en sat vir die ewige: ‘Ma, hy trek my hare.’ ‘Ma, sy vat my … ‘ ‘Ma, hy is ’n vark!’”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Alle kinders baklei die een of ander tyd met hul broers en susters. Dis normaal en deel van grootword, al is dit vir baie ouers soms sleg en ontstellend. Dit bederf dikwels die atmosfeer in die huis, op ’n uitstappie en maklik ’n hele vakansie. Ouers sit soms met hul hande in hul hare oor hoe wreed hul kinders teenoor mekaar kan wees.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Ina*: “Ek het gedink dis maar ’n kinderagtige ding wat my seun sal ontgroei, maar dit hou net nie op nie. Ek is skaam om jou te vertel watter wrede dinge hy kan doen en sê. Hy is al ’n tiener, maar hou net aan om sy sussie te treiter. Kleintyd het hy haar hare of ore getrek, sy vingers in haar neus gedruk, maar nou maak sy woorde haar nog baie seerder. En dis of ek eenvoudig magteloos is om iets te doen om die patroon te stop.”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Susan*: “Ek voel gedreineer ná ’n middag se sessie in die motor. Ek kan nie glo dat my twee kinders ná net twee minute in mekaar se geselskap al so te kere kan gaan nie. As ons ry om Nina* ná skool op te laai, is daar vrede, maar sodra sy in die motor klim, breek daar oorlog uit. Ek moet hulle heeltyd uitmekaar hou en sommer ook Salomo speel om agter te kom wie het nou eintlik met die twak begin. Teen daardie tyd straf ek sommer altwee en verbied hulle om TV te kyk. Oombliklik begin die geveg van voor af. Dis Pieter* se skuld dat sy ook nou gestraf is. Ek voel soms ek kan die berge invaar.”
Die wortel van die kwaad
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Die wortel van gevegte tussen kinders het dikwels klein-klein hul oorsprong in die wyse waarop die kinders om hul ouers se tyd, liefde, aandag en aanvaarding meeding. Die eerste kind het al die aandag, tyd en liefde gekry. Elke volgende kind moet dit deel. Fotoalbums wys dit duidelik: Van die eerste kind is daar hope foto’s, maar met die geboorte van elke volgende kind raak die foto’s telkens minder soos die ouers se tyd en aandag tussen kinders verdeel word. Die kinders se verskillende persoonlikhede, ouderdom en behoeftes dra ook tot hul gevegte by.
Kyk vir ’n keer uit die kind se perspektief daarna: Hoe sal dit voel as jou man sy arm om jou sit en sê: “Liefie, jy is vir my so spesiaal en oulik, ek het besluit om nog so ’n wonderlike vroutjie soos jy te kry!” Maar as die nuwe vroutjie kom, is sy weerloos en moet daarom dikwels eerste gestel word. Jy is genoodsaak om die aandag, liefde en tyd wat eens joune was, te deel. Skielik is daar dinge wat jy nie meer kan doen nie, want die nuweling beperk jou kom en gaan. Dis nie maklik nie. Vir die oudste kind is sy nuwe boetie of sussie die oorsaak van die tyd, aandag en liefde wat hy verloor het en hy haal al sy frustrasie, hartseer en woede oor die verlies op die kleintjie uit. Boonop kry hy nog raas daaroor ook. Sulke kinders word dikwels baie vindingryk en skelm en knou die nuwe kindjie af sodra die ouers nie kyk nie. Verder doen hy sy bes om die ouers sover te kry om minder van die kleintjie te hou. Die tweede een is te klein om haar te verweer en haar eerste verdedigingsmeganisme is om te huil en later om te klik: “Ma, hy knyp my.” En so ontstaan daar dikwels ’n haat-liefde-verhouding.
Die jonger een tree dikwels onwetend juis op ’n ander manier as die ouer kind op om sy ouers se guns te wen, want hy het klaar agtergekom hy kan nie met die ouer een meeding nie. Ouboet is vinniger of beter in balspeletjies. Daarom wil kleinboet nie saamspeel nie, want hy verloor altyd. Hy sal liewer in skoolwerk, of iets anders probeer presteer. Dié soort kompetisie is amper op oorlewing ingestel en is so oud en instinktief soos die natuur – selfs diere doen dit. Baba-arende sal hul boeties en sussies uit die nes skop om al die kos en sorg te kry. Anel*: “My kinders kan oor elke denkbare ding baklei: In die motor oor wie voor sit, of na watter radiostasie ons luister. Durf Lené saam met die radio sing, irriteer dit Martin grensloos. Maar môre sing hy weer saam en irriteer dit haar. ’n Lang pad is ’n nagmerrie: ‘Kyk, sy lê oor die hele sitplek.’ As sy slaap, mag daar nie ’n deeltjie van haar lyf aan sy kant van die sitplek raak nie. Of hy gryp haar selfoon – ‘want sy is so selfsugtig dat sy nie eens vir my die mooi liedjie wil aanstuur nie’, en hy probeer dit vinnig self doen. Teen daardie tyd waai die hare natuurlik al. Dis asof die een net nie die ander enigiets gun nie. Of hy wil nie die fliek kyk waarvoor sy lus is nie. Op die ou end kan nie een iets kyk nie, want hulle kan nie tot ’n vergelyk kom nie. Of, om die saak te probeer beredder, moet óns namens hulle ’n ooreenkoms bereik: ‘Vandag kan sy kies waarna ons kyk en môre kan hy kies.’ Maar dit gebeur eers ná ’n oorlog.” Kinders voel dikwels dat die ander een bevoorreg of voorgetrek word: “Sy stuk koek is groter” “Ek kon eers op vyftien ’n selfoon kry, hy kry al een op twaalf.” Hulle sal selfs vra: “Vir wie is Ma die liefste?” En dit help nie om te sê jy is vir albei ewe lief nie. Sê eerder: “Julle is albei vir my spesiaal, maar jy is my enigste seun. In die hele wêreld is daar net een Pieter wat ek so kan liefhê.” Net soos jy elkeen op ’n unieke manier liefhet, is dit ook onvermydelik dat jy nie vir al die kinders dieselfde kan gee nie. Omstandighede, persoonlikhede en behoeftes verskil en daarom kan kinders nie altyd dieselfde kry nie. Hoe gouer hulle dit leer, hoe beter, anders ruk sake iewers hand uit. hanteer die saak met wysheid Die gesin is die oefenplek waar kinders vir hul toekomstige verhoudings toegerus word. Hier leer hulle konflikhantering, emosionele vaardighede, om te deel en nie met selfsug net op hulself te fokus nie.
Maar dis ook die plek waar hulle gehelp word om ander met liefde te aanvaar, ongeag hul foute of probleme. Bakleiery help kinders om hierdie vaardighede te ontwikkel, solank hulle mekaar nie knou met seerplekke en jare later as hulle al volwassenes is, nog met gevoelens van verontregting en bitterheid sit nie. Dit gebeur gewoonlik as hulle voel dat een of albei ouers die ander kind kies sodat hulle in die proses ook hul ouer verloor. Daarom moet ouers kinders se gevegte met groot wysheid en omsigtigheid hanteer. Al baklei alle boeties en sussie soms, is daar tog baie gesinne waar broers en susters mekaar se vriende is en in die algemeen in vrede en harmonie saamleef. Dis gewoonlik gesinne waar almal mekaar met respek hanteer en waar daar min selfsugtigheid is. Hulle deel op ’n volwasse manier en alles draai nie net om een se behoeftes nie. Hulle gee om vir mekaar, aanvaar mekaar en geniet elkeen se uniekheid sonder om te kompeteer oor wie die beste is: “Jy verskil van my en dit maak jou nie beter of swakker as ek nie, net anders.” Dis gesinne waar mense se liefdeswoorde nie gehoor hoef te word nie, want jy kan dit sien.
Maak só as hulle baklei
Probeer so min moontlik inmeng. Laat hulle hul eie gevegte hanteer, hul eie probleme oplos en hul eie verhoudings maak werk. Maar stop woorde en dade wat seermaak. “Wag! In hierdie huis maak ons nie mekaar seer nie.”
As dinge te erg raak, laat hulle vir ’n tydjie afsonderlik “afkoel” tot hulle weer op ’n ordentlike manier met mekaar kan praat.
Fokus liewer op ’n oplossing en ’n wen-wen-situasie as om die skuldige te probeer bepaal.
Moenie hulle met mekaar vergelyk of kant kies nie: “Sê vir hom wat is jou probleem … wat pla jou? … hoe kan julle dit oplos?” Help albei om aanpassings te maak; vir mekaar te verbaliseer wat gedoen kan word om die kwessie te verbeter. Vra: “Wat is die beginsels in ons huis?” Beskryf gewoon wat jy sien, hoor en voel en wat jy dink behoort te gebeur. Hulle moet leer hoe om hul emosies en woede op ’n aanvaarbare
manier te kommunikeer.
Erken sy emosies en kommunikeer begrip: As hy sê: “Ek haat hom, hy irriteer my so,” kan jy antwoord: “Jy klink kwaad en jy wens hy wil jou goed uitlos.”
Ouers kan só help om goeie verhoudings tuis te vestig:
Wees ’n rolmodel in konflikhantering. Ouers wat mekaar en hul kinders met respek hanteer en van ander mense met respek praat, stel ’n voorbeeld wat hul kinders meestal volg. Die teendeel is ongelukkig ook waar. As ouers na ander mense verwys as idiote en varke, is die kans goed dat hul kinders die negatiewe gedragspatrone gaan volg as hulle kwaad word.
Stel duidelike verwagtinge en beginsels waarvolgens dinge in jul huis gebeur: “In ons huis noem ons mekaar nie skelname nie … vloek ons nie mekaar nie … skree ons nie op mekaar nie … hou ons op as die ander een sê dis nie vir haar lekker nie.” Betrek hulle in die besluit oor die beginsels en die konsekwensies vir almal wat nie by die beginsels hou nie.
Maak seker dat elke kind in die huis geliefd, aanvaar en gewaardeer voel. Gee elke kind genoeg individuele liefde, aandag en ’n eie plek en ruimte. Moenie kinders met mekaar vergelyk nie en laat elkeen sy uniekheid ontwikkel met aktiwiteite wat sy besondere eienskappe en talente na vore bring.
Maak seker elke kind het tyd en ruimte om soms sy eie ding te doen, soos die geleentheid om alleen met sy eie speelgoed of maats te speel sonder dat hy dit hoef te deel.
’n Eie kamer waar die ander kind net met sy toestemming mag kom, gee die kind die ruimte om homself te kan beskerm en aan ’n geveg te onttrek.
Doen gesinsdinge. Onderneem uitstappies, gaan op vakansie of speel speletjies sodat julle as gesin saam kan pret maak en lekker ervaringe met mekaar deel. Dit gaan oor die sáám speel en doen, sonder dat daar met mekaar gekompeteer word.
Moenie probeer om “regverdig” te wees en vir die een te gee wat jy vir die ander gee nie. Kinders moet leer dat hulle individue is wat nie altyd dieselfde nodig het of kan kry nie.
Moenie kinders etiketteer met opmerkings soos: “Is jy weer die moeilikheidmaker?” nie. Kommunikeer eerder jou verwagting dat sy anders kan optree: “Ek isseker jy kan dit op ’n positiewe en vriendelike manier sê.”
BRON: SIBLINGS WITHOUT RIVALRY DEUR A. FABER & E. MAZLISH. *SKUILNAME IS GEBRUIK EN DIE VERHALE IS MET BETROKKENES SE GOEDKEURING VERTEL. ANYS ROSSOUW IS ’N SIELKUNDIGE IN MENLOPARK, PRETORIA (082 801 1830).
Suzette en Skye: Sielsmaats met die liefde saamgesnoer Suzette van der Merwe…
Vanjaar se kortlys, wat van dié jaar se gemoedstoestande en gesprekke opsom, is deur OUP…
Goeie kommunikasie in ’n verhouding laat die liefde blom. Maar soms eindig verskille in ’n…
Deur Rediscover Dairy Voorbereidingstyd: 5 minute Gaarmaaktyd: 20 minute Bedien: 4 porsies Porsiegrootte: 300…
Riaan Grobler, ’n geliefde radio-omroeper by Pretoria FM asook bekende skrywer en sanger, bewys weer…
Bestanddele 45 ml (3 e) olie 4 klein lamskenkels, die sening afgesny 2 wortels,…
Hierdie webwerf gebruik koekies.