Mandy Lee Miller is ’n Kaapse ma, skrywer, aanlyntydskrifeienaar en ma-weesblogger (sien foto bo saam met haar dogtertjie, Charlotte Rose.) Mandy Lee voel so sterk daaroor dat kinders veilig moet wees in ’n motor dat sy op 18 Julie ’n landswye veldtog van stapel gestuur het. Dit duur 67 dae.
“Die Nelson Mandela-stigting beskryf die viering van Mandela-dag as ’n geleentheid vir mense om te besef hulle het die mag om van die wêreld ’n beter plek te maak. Dis ’n oproep tot aksie. Ons veldtog, #CarseatFullstop, is in pas hiermee. Elkeen kan die boodskap op hule sosiale netwerke deel en, wie weet, dalk ’n jong lewe red!
“Die veldtog vra mense ook om hul ou karstoeltjies aan Car Seats for Kids te skenk.”
Kyk na die feite
Volgens Mandy Lee spreek die feite vanself. “Motorongelukke is die vierde grootste oorsaak van onnatuurlike sterftes onder Suid-Afrikaanse kinders. En motorstoeltjies verminder die risiko van ’n sterfte met 71% vir babas en 54% vir peuters!
“Tog word net 15% van ons kinders op die oomblik in motors in stoeltjies gesit. Hoewel daar verseker mense is wat nie die duurste stoeltjies kan bekostig nie, is daar baie opsies op platforms soos Gumtree.
“As dit nog steeds te duur is, kan jy by die NPO Wheel Well’s Car Seat for Kids-veldtog aanklop. Hulle versamel karstoeltjies in enige toestand en herstel dié wat hulle kan.”
Het jy geweet?
- Dis onwettig om in Suid-Afrika rond te ry met ’n klein kind wat “los” rondskud
- Kinders moet met hul rug na die voorruit ry tot op ten minste vier jaar
- Alle kinders onder 1.5m – kinders steek tussen die ouderdom van 10 en 12 jaar hierdie merk verby – behoort in ’n booster seat te ry. ʼn Sitplekgordel is ontwerp vir ’n volwasse man langer as 1.5m.
“Deel hierdie inligting oral waar jy kan,” sê Mandy Lee. “As een ouer dit sien en voortaan sorg dat ’n kind veilig vervoer word, het jy dalk ’n lewetjie gered!”
Meer inligting by
Daar is ook ’n nuusbrief waarop jy kan inteken