Verlede jaar leer die vyftienjarige Lara Barnard in haar biologieklas van die hart. En van haar pa, Chris Barnard. Hy wat die eerste hart van een mens in ’n ander se borskas oorgeplant het.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Sy was vier toe hy gesterf het. Dis iets waarmee sy stoei. Sy ken nie hierdie wêreldberoemde vreemdeling van wie almal praat en weet nie. Sy kan hom ook nie onthou nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }En tog moet iets van sy durf, drif en dryfkrag deel wees van wat sy is. Sy lyk na haar ma, maar almal sê daar is baie van hom in haar; die trane wat so maklik loop, die omgee vir mense wat swaarkry, die sendeling–ding wat haar verlede Kersfees weer al haar geskenkgeld na ’n inrigting vir hawelose kinders laat neem het.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Haar ma Karin, altyd een wat glo jy hanteer dinge, het ’n klasbesoek aan die museum by Groote Schuur-hospitaal gereël. Sy sê: “Die uitstalling is iets besonders. En Lara móés dit gaan konfronteer. Die oudiovisuele aanbieding met Chris – mos ook máklik emosioneel … Dit was soos ’n sluis wat oopgaan. Lara het snot en trane begin huil. Sommer voor haar maats.”
Dit was of iets reggeskud het. “Sy moes hierdie kwartaal in kuns ’n grafiese uitbeelding van haar lewe doen,” vertel Karin. “Chris figureer sterk daarin, selfs die baboesjka-poppies wat hy vir haar uit Rusland gebring het, het ’n plek gekry.”
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Dis of die aanvallige jong tiener laag op laag bly ontdek soos sy die ingewikkelde mosaïek van haar pa se veelvuldige lewe inmekaar probeer pas.
Sy weet nou sy is ’n Barnard soos die res. Al het sy nie soos haar broer Armin (24) herinneringe van sy pa se ou wynrooi leerbaadjie teen sy wang nie. Of soos Christiaan (39) en Frederick (41) (uit sy huwelik met Barbara Zoellner) ’n verlange na voete-op-die-aarde tye saam op ’n geliefde Karooplaas nie. Of soos Deidré (63) (uit sy eerste huwelik met Louwtjie), ’n kosbare tyd beleef toe ’n groot deel van hom nog aan haar en nie aan die res van die wêreld behoort het nie.
Armin was twaalf toe Chris die oggend op Ciprus nie betyds by sy asmapompie kon kom nie. Sy ouers is in die voorafgaande jaar geskei. Maar Karin het die twee kinders nog die dag voor hul Dedda se vertrek na sy huis in Higgovale, Kaapstad, geneem om te groet. Niemand kon raai dis die laaste keer nie.
Sy was buite haarself van skok toe die nuus haar bereik. “Ek het vergeet van die klein, kwetsbare vierjarige onder my blad.”
Dis nog somer in Seepunt toe Karin, nou mevrou Saul Berman, vanjaar die deur van die huis hoog teen die hange vir my oopmaak. Op byna vyftig (sy verjaar in November) is sy steeds ’n vars blomkelk op ’n lenige steel. Gemaklik in oefenklere met al die slanke kurwes ná vier swangerskappe nog perfek op hul plekke.
“Ek oefen drie keer per week in die gimnasium – ons het een in die huis,” vertel sy sonder skroom. En ander dae stap hulle van hul indrukwekkende woning knap onder Leeukop tot by Clifton. En dan weer heelpad boontoe met die trappies op huis toe. Karin kán rek om by te bly.
Oudword – “daardie verbrande skande” soos Chris dit genoem het – was nog altyd vir haar ’n relatiewe ding.
“Ek het op 42 my laaste kind gehad, vlak voor Armin se matriekafskeid,” vertel sy ligweg geamuseerd. “Toe sit ons met babelas en babadoeke onder dieselfde dak!”
Dit was ’n geval van déjà vu. “Ná my en Chris se troue, sy was 25, hy 65, het Frederick gesê ons moet tog asseblief nie nog kinders hê nie. Maar dit was al wat ek van jongs af wou doen: trou en kinders hê!
Sy skaterlag. “Sy reaksie toe ek vir hom vertel ek is swanger met Lara, was net ’n verslae: ‘We don’t have a family tree; we have a grapevine!’”
Dit het sedertdien ’n gesegde in die uitgebreide familie geword, “Suid-Afrika se eie Kennedys”, soos een hulle genoem het. ’n Familie wat deur alles heen nie die liefde of ’n strewe na lewensegtheid verpas het nie. Daar is aangehou om verhoudings wat gekneus was, uit te stryk en te versorg. Vandag pas hulle op ’n vreemde manier steeds in mekaar, by mekaar.
Ná Chris se dood, so tragies omdat hy oud en alleen was, het die familie eintlik nader aan mekaar beweeg. Volgens Karin was “al die onbenullige vetes skielik vergete, die oomblik en almal se band met Chris net soveel groter as dit”.
Voor sy en hy uitmekaar is – sy was 37 toe sy die moeilike besluit moes neem – kon selfs haar onvoorwaardelike aanvaarding dinge nie meer red nie.
“Roem kan ’n mens bederf. Chris was ’n uitsonderlike mens. Iemand wat nie ’n steen onaangeraak sou laat om mense se fisieke pyn te probeer verlig nie. Ek het ’n groot deel van wat ek vandag is aan hom te danke.
“Maar so eg en op die aarde soos wat hy was, kon hy later nie sonder al die bewondering nie. Hy moes gedurig oorsee. Dit is wat hom gemotiveer het. Hy wou nooit … ” Sy tas na woorde, sê dan stil: “Hy kon nie net tevrede wees met my en om vir Armin by die skool te gaan haal nie. Hy het nog die week voor sy dood uit Israel gebel om te sê hoe opgewonde hy is oor die genetiese navorsing wat hulle daar doen.”
Terwyl haar eerste man die mediese wetenskap se grense verskuif het, moes Karin die wetenskap van moederskap onder die knie probeer kry.
Sy was swanger met Lara toe sy omstrede outobiografie The Second Life verskyn het – met uitvoerige beskrywings van al sy bedkaperjolle met bekendes soos Sophia Loren.
“Chris was ’n flambojante man met ’n algehele onvermoë om oneerlik te wees.” Daar blink trane in die helder oë. “Die boek was die waarheid. Dit was wie hy was – nie net die professor wat almal wou sien nie.”
Sy glimlag weer. “Ek moes maar kop afhou en deurdruk. Daar was een dag – vir my een van die moeilikstes – ek sal dit nooit vergeet nie. Hy was oorsee vir die boek. Op ’n Britse joernalis se vraag: ‘Do you still sleep with your wife?’ het Chris sonder om te dink, geantwoord: ‘If I don’t sleep with her, somebody else will.’
“Die Britse pers het op loop gesit daarmee. En Huisgenoot was kort op hul hakke. Armin was al op skool op Bishop’s. Ek het ’n brief van ’n anonieme ouer gekry: ‘You are disgusting; you should take your child out of our school.’”
Sy kyk see se kant toe, daar waar dit op hierdie oggend lyk of niks die gladde blou spieël kan versteur nie. “Ek het snikkend skool toe gery. ’n Dierbare Mrs Taylor het vir my suikerwater ingejaag en gesê ’n mens steur jou nie aan naamlose briewe nie. ‘Smyt dit in die asblik. Jy het ’n pragtige kind.’”
Waar sy nou in haar truspieëltjie kyk, is Karin net dankbaar, daardie moeder van alle deugde. “Ek was begenadig met ’n gelukkige tweede huwelik. En ek voel nog goed.” Die ondeunde lag is terug.
“Dis net as ek soggens my bril opsit om in die spieël te kyk dat ek besef waarom ouer mense se sig liefs moet verswak!”
Die dik bos blinkbruin hare glip oor haar skouer. Op die foto’s in die talle fotoboeke wat sy saamstel van familievakansies is dit ’n sprankelende vrou wat na jou kyk. Die spore wys nie. Maar dis meer as net ’n goed opgepaste bikini-lyf en melk-en-heuning vel. Karin se ongekunstelde manier van doen het vroeg reeds hand aan hand geloop met volwassenheid. En opgewassenheid. Dis of sy die lewe omarm soos hy is, nie soos sy dit noodwendig sou wou hê nie. Sy is wel soms besorg oor hoe dinge in die land ontwikkel en dit krap haar nes ander vroue om as haar kinders ongelukkig is, of haar man spanning by die werk het. Maar sy is omgewe van ’n kalmte wat net dié beskore is wat nie na hulleself op soek is nie – iets wat haar ’n gewaardeerde lid van ’n kom-plekse familie maak.
Iewers lees ek dat Karen Visser, Deidré se dogter en voormalige topmodel, sê Karin hou die familie soos ’n ware matriarg bymekaar. “Dit het seker ook iets te make met haar heerlike etes, van boerekos tot tiramisu. Maar haar en Saul se ont-spanne, gelukkige huis is meestal ons bymekaarkomplek met groot geleenthede.”
Dit was hierdie man se sterk geloof – hy kom uit die Joodse ortodokse tradisie – wat haar na hom aangetrek het toe sy hom ontmoet, vertel Karin. “Dit was die grondslag wat hom op die regte pad gehou het ondanks sy pa se dood toe hy twee was.” Sy glimlag. “Nou sê hy natuurlik hy was ’n beter Jood voor hy my ontmoet het, maar deesdae is hy ’n beter mens …
“Ek het in hom ’n wonderlike pa vir al ons kinders, een wat sáám met jou oor ’n berg klim as dit moet en jou in klein én groot dinge bly ondersteun. As daar ’n probleem is, roep almal net: ‘Saulie!’
“Lara en hy het onlangs saam na die liedjie ‘Dance with My Father’ geluister. Sy het spontaan daarop gereageer met: ‘As ek eendag trou, wil ek met jóú daarop dans, Saulie.’ Sy oë het sommer vol trane geskiet – hy is verskriklik lief vir haar.”
Saul is, soos Karin se pa destyds, in die boubedryf, ’n man wat soggens in ’n oorpak en werkerstewels werk toe gaan. “Hulle was hier naby besig met ’n ontwikkeling toe Zach (7) onlangs verjaar het. Sy pa het gereël dat sy geskenk, ’n fiets, met die hyskraan in die tuin afgelewer word. En al die maatjies kon ’n bietjie sement aanmaak om te ‘bou’.”
Elke kind se koms was vir Karin anders. “Met Armin was dit vir my ’n ongelooflike skok – daardie eerste ses weke se gesukkel met die borsvoeding het my laat dink my lewe is onherroeplik verby. Vir Lara wou ek net koester – sónder borsvoeding! Die res van die wêreld kon wat my betref maar vergaan.” Leah (10), ’n naam wat Karin bekoor het sedert sy vir Leah Tutu ontmoet het, was “Saul se baba. Hy het altyd ’n eie gesin begeer. Sy is as vyfjarige alleen saam met hom Israel toe”.
En die bekkige Zach met sy goue krulkop was uit die staanspoor almal s’n.
Haar besluit om na die Joodse geloof oor te gaan, is geneem “omdat Saul so goed vir my en my kinders was en dit vir hom so belangrik is. Sy oom, ’n rabbi, het my op sy geduldige, wyse manier geleidelik in die ryk Joodse tradisie ingelyf. Dit was ’n groot voorreg om vir nege maande elke oggend ’n uur met hom deur te bring. Hy het tot vir my ’n Afrikaans-Hebreeuse gebedeboek (sadoer) gegee. Ons kinders is in Christenskole, maar die twee jongstes gaan elke Vrydagaand saam met hul pa Schul toe. Ons steek teen sononder kerse op vir die Sabbat wat deur die nag brand. En dan seën Saul as pa van die huis die kinders voor ons hoendersop – die Jode se penisillien! – en kitka, gevlegte brood, eet. Ons vier die Joodse en die Christelike godsdienstige feeste saam met enigeen van die familie wat kan aansluit.
“Soms voel ek of ek nêrens meer heeltemal hoort nie. En tog voel ek oneindig verryk. Die Joodse kultuur het vir my baie geleer oor vrygewigheid en betrokkenheid. En respek vir die ouderdom. In die Joodse tradisie versorg jy jou pa en ma. Dit is en bly jou voorreg!”
Die blinkblou oë glinster lewenslustig. Ons groet. Sy moet ’n kind by die skool gaan kry. Nou net weer ’n ma. Maar met daardie spesiale iets wat ’n mens wil laat sê: Karin, jy is ’n ster.
*Hierdie artikel het oorspronklik in die Junie 2013-uitgawe van rooi rose verskyn.
MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…
Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…
Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…
Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.
Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…
Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…
Hierdie webwerf gebruik koekies.