Saamgestel deur Anet Schoeman. Hooffoto: deepblue4you/istock images
Jy glo dit gebeur net met ander mense, want jy is oplettend en wakker. Tot jy op ’n dag ingedagte of moeg is en nie toets of jou voertuig wel gesluit is na jy die afstandbeheer gedruk het nie. En met jou terugkeer kom jy agter jou skootrekenaar is uit die kattebak gesteel.
Seinblokkers of “jammers” blokkeer die sein wat van jou afstandbeheer gestuur word om jou voertuig te sluit. En dis verrassend maklik om dit reg te kry. Die meeste afstandskakelaars vir hekke werk op dieselfde frekwensie as dié vir jou voertuig. Al wat die seinblokker hoef te doen, is om terselfdertyd die hekafstandbeheer te druk sodra jy die voertuig per afstandbeheer sluit. Die heksein blokkeer dan die motorsein en siedaar! Die voertuig is nie gesluit nie.
Moenie bloot jou voertuig sluit en dan wegloop nie. Toets altyd by die handvatsel of jou motor werklik gesluit is. Indien dit nie gesluit is nie, klim in jou motor en ry weg. Dis heel moontlik dat die skelms jou van êrens naby dophou. Dis traumaties om ’n slagoffer van seinblokkers te wees en dit berokken ook groot skade.
Praat ook met jou versekeraar om te hoor presies wat jou eie polis dek. Voorheen het versekering net eise uitbetaal vir gesteelde goedere uit voertuie sonder insittendes as daar merkbare tekens van geforseerde ingang was. Weens die toename in diefstalle deur seinblokkers het van die versekeraars die regulasies verander en betaal nou ook uit al was daar nie merkbaar met die voertuig gepeuter nie. Tog is dit onderhewig aan bepalings en voorwaardes.
Wenke
- Moet geen waardevolle items in jou motor los nie. As dit nie anders kan nie, maak seker dat jy dit in die kattebak toestluit waar niemand dit kan sien nie. Moet ook nie by die winkelsentrum uitklim en oop en bloot jou skootrekenaar in die kattebak toesluit nie. Sluit dit eerder in jou kattebak voor jy by die kantoor vertrek.
- Moenie alleenlik op die klank van jou afstandsluitskakelaar let nie. Kyk hoe die motor sluit en luister na die “biep” van die skakelaar.
- Toets of jou voertuig wel gesluit is deur die handvatsel te probeer.
- Parkeer so na as moontlik aan die ingang van die winkelsentrum omdat daar meer mense en voertuie is.
- Pas op. Wees op die uitkyk vir agterdogwekkende mense wat in die omgewing rondhang.
Hierdie inligting is verskaf deur Old Mutual
Lees ook: Wat om te doen as jy in ’n motorongeluk beland
Lees ook: Wees ’n geduldige bestuurder