Die Kansa-geselligheid wat rooi rose in samewerking met verskeie borge aanbied, het nie net ’n groter bewustheid van kanker geskep en broodnodige geld vir die vereniging ingesamel nie, maar ook in statuur en styl gegroei. Elke jaar kom sit al meer Kansa-ondersteuners aan die teetafels. Danksy die gasvroue wat elkeen volgens ’n gegewe tema ’n teetafel vir tien dek (kompleet met teestelle, blomme, versierings en eetgoed) en dan kaartjies aan hul gaste verkoop, is dit ’n swierige en vrolike affêre.
Yolanda Maartens Brown, bekende vermaakpersoonlikheid, is ons gasspreker. Sy het onlangs haar radiowerk laat vaar en wil nou die drome waar maak van kinders wat ’n pad met kanker en ander lewensbedreigende siektes stap.
Kom luister gerus hoe sy vertel dat jy jou soms sien in plekke waar jy dit nie verwag het nie, en deur ander se oë lyk dinge vir jou dalk ook anders – jy sien jouself dalk vir die eerste keer.
Success Lekabe van OFM is weer ons seremoniemeester vir die oggend. Haar spontane geaardheid en aanbieding maak haar veral gewild onder luisteraars. Sy sê sy is ’n sportfanatikus wat ook daarvan hou om stories te vertel en lewens te verander.
Leah gaan vir die vermaak sorg. Haar klank het nie ’n spesifieke teikenmark nie, maar sy is gewild onder oud en jonk. Die jonger geslag hou van die nuutheid van haar musiekstyl en ouer mense sal hou van di nostalgie wat haar lirieke optower.
Pret en pryse!
Bring ’n ekstra geldjie vir die lootjies wat jy daar moet koop om vir die verskeie geskenke in aanmerking te kom.
Waar en wanneer
DATUM
Saterdag 3 September 2016
TYD
09:00 vir 09:30
PLEK
Kopano Nokeng, Bloemfontein
KOSTE
R200 per persoon wat deur ’n gasvrou uitgenooi word, of ’n tafel vir ander gaste dek
TEMA
Herwin
Vir besprekings en inligting oor die verantwoordelikhede van ’n gasvrou, kontak Adel Wiid by [email protected] of bel 051 444 2580.