Kanker: Wat om te sê – en nie te sê nie deur Anet Schoeman.
Vroue vertel
“My einde was as mense met jou gesels en jou skaars kans gee om jou sin te voltooi voor hulle jou vertel van iemand wat dieselfde kanker gehad het en ná ’n uitgerekte siekbed ’n pynlike dood gesterf het.” – Karien (65).
“’n Siekte kan jou isoleer, want jou lewe staan op sy kop en vir ander gaan die lewe doodgewoon voort. Dis goed as iemand laat blyk dat hy bewus is van jou situasie deur iets te sê soos: ‘Ek is so jammer om van jou diagnose te hoor.’ Daarna kan die gespek oor ander goed handel.” – Rika (50).
“Ek kon slange vang as mense vir my sê hulle weet presies hoe ek voel. As ek vra of hulle kanker gehad het, was die antwoord gewoonlik nee. Net so erg is diegene wat jou heeltyd maan om positief te bly.” – Cindi (45).
“‘Dit is borskanker, maar ons het baie opsies.’ Dit was my chirurg se woorde ná die biopsie, en hoewel dit bitter slegte nuus was, het sy kommentaar my meer in beheer laat voel.” – Lika (50).
“Ek het een oggend my kaal kop met groot moeite met ’n funky hoedjie verdoesel en eintlik heel goed gevoel tot ek ’n groep vriende nader. Toe hulle my sien, het almal skielik doodstil gebly. Hulle kon netsowel gesê het: ‘Chips ouens, hier kom sy’. Dit was die einde van my lekker dag.” – Tina (27).
“Ek wens mense wil nie jou behandeling bevraagteken nie. Daar is verskeie soorte borskankers en elke pasiënt se behandeling word pasreg vir haar gekies. Dis uitputtend om elke slag te hoor: ‘Hoekom kry jy steeds chemo / bestraling? My vriendin / suster het baie minder sessies gehad.’” – Marí (60).
“Ek was keelvol vir survivors wat my vertel het hoe kanker die beste ding was wat met hulle gebeur het en hoe hulle nou ’n beter mens is en die lewe soveel meer waardeer. My lewe was wonderlik voor kanker en ek het reeds passievol geleef, dankie.” – Suret (52).
“Die heel, heel ergste is as vriende niks sê nie en jou vermy. As hulle my in die straat sien aankom, stap hulle oor na die ander kant, of maak of ek onsigbaar is. As jy onbeholpe voel, stuur ’n SMS, kaartjie of e-pos met iets soos: ‘Ek is jammer om te hoor. Ek dink aan jou.’” – Santie (42).
Lees ook: Borskanker: dis tydmors om jou borsondersoek vir kankerknoppies verkeerd te doen
Sê en doen dit
- Ek weet nie wat om te sê nie, maar ek wil hê jy moet weet ek gee om.
- Ek is jammer om van jou diagnose te hoor.
- Ek dink aan jou./ Ek bid vir jou./ Ek gee om vir jou.
- Konsentreer op vandag.
- Ek is hier om te luister as jy met iemand wil praat.
- Wat beoog jy om te doen en hoe kan ek help?
- Bied hulp aan en wees spesifiek. “Ek wil graag vir jou ’n ete maak. Watter aand pas jou en waarvan hou julle?” Of bied aan om iemand na ’n chemo- of bestralingsessie te neem en geselskap te hou.
- Moenie huigel nie, maar as die persoon goed lyk, sê so.
- Sê: “Dis goed om jou te sien” eerder as “Hoe gaan dit?” Mense het nie altyd lus om oor hul siekte te praat nie.
- Laat jou deur die persoon se reaksie en persoonlikheid lei. Sommige mense praat maklik daaroor en maak grappe. Ander is privaat daaroor.
- Respekteer hul besluite oor hoe hul kanker behandel moet word – al stem jy nie saam nie.
Sluit hulle by reëlings en planne in. Laat hulle self besluit of hulle daarvoor kans sien. - Vra vooraf of jy kan kom kuier, of hulle in die hospitaal besoek. Nie almal sien kans vir besoekers nie.
Moet net nie dít sê nie
- Ek weet hoe jy voel. Nee, behalwe as jy dieselfde kanker of behandeling gehad het, weet jy nié hoe die persoon voel nie.
- Dis jou eie skuld. Dis nie nou die tyd om vir mense te vertel dat as hulle geoefen het / uit die son gebly het / nooit gedrink of gerook het / gewig verloor het / minder gestres het / ens. hulle nie kanker sou gekry het nie.
- Ek weet net wat jy moet doen.
- Jou buurvrou se dogter het dalk pas haar mediese graad cum laude verwerf, maar dit beteken nie sy weet meer as die spesialis wat die kankerlyer behandel nie. Moenie raad gee oor behandeling as jy nie opgelei is nie.
- Ek voel hulpeloos.
- Ek kan sien jy’t gewig verloor. Of: Jy lyk bleek vandag. Moenie kommentaar lewer oor die persoon se voorkoms as sy nie goed lyk nie. Sy weet dit en voel reeds selfbewus daaroor.
- Ek weet nie hoe jy cope nie.
- Respekteer privaatheid. Moenie oorvertel as iemand jou in sy vertroue neem en van die diagnose vertel nie. Hulle moet self besluit wie dit mag weet.
- Moenie bekommerd wees nie.
- Ek het iemand geken wat dieselfde kanker gehad het en sy is dood. As die storie ’n goeie einde het, kan jy dit noem, anders nie.
- Hoeveel tyd het die dokters jou gegee?
- As dit algemene kennis is, maar die persoon het dit nie persoonlik vir jou gesê nie, kan jy wel sê: “Ek het gehoor van jou diagnose en is baie jammer.”
- Jy moet hieroor praat.
- Enigiets is beter as om niks te sê nie en die persoon te vermy.
Lees ook:Borskanker sonder die knoppie: is dit gevaarliker?