kategorieë: BlogsOntspanning

Kanker-smanker-keriekstiek-stanker: ’n nuwe lente is aan die kom

Borskanker is ’n ding van seisoene. Omgekeerde seisoene waarin jy nie seker is wat volgende kom nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Alles begin met winter. Die diagnose. Dit is asof alles om jou verstil en in ’n oogwink verander, verdor en verlelik. Daar is die bangwees vir die koue wat desnoods gaan volg, die allenigheid van ’n pad met kanker. Al wat troos is die wete dat God en sy kombers van liefde die pad saam met jou gaan stap, altyd gereed om jou betyds toe te gooi sodat die koue nie tot in jou gebeente dring nie. Ten spyte van die gedagte aan daardie liefdeskombers is jy skrikkerig omdat jy nie weet of jy dit gaan regkry om end-uit een van die dapperes te wees nie. Jy wonder of jy dalk jouself, jou God en jou mense gaan teleurstel deur ’n kankerlyer te wees en nie ’n kankerstryder nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Chemoterapie is, onverwags, hoogsomer. Daardie warmste, ongemaklikste deel van die somer wanneer jy by tye hoop vir herfs. Eerder dan koeligheid; die son wat anders op jou val, jou nie uitsonder en skroei nie. Jy leef van die een behandelingsessie tot die volgende. Geen skadu in hierdie somerlandskap nie, net daardie stap in die versengende hitte. Een voet voor die ander. Een voor die ander. Nou en dan, genadiglik, ’n koeler dag, spesiaal vir jou gestuur deur jou Vader wat sien hoe jy uitgeput raak van die baklei teen die hitte. En in hierdie hoogsomer leer jy jouself ken. Dit is die tyd wanneer die lyers en stryders van mekaar geskei word. Verskrompel jy, of lig jy jou ken en bal jy jou vuiste vir hierdie ding wat so hard probeer om jou onder te kry?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Bestraling praat saggies van die lente, skimp daaroor. Daardie opgewonde afwagting is daar, want die einde is in sig. Jy hou die naakte boomtakke dop vir vars, groen blaartjies. Jy weet dit kom en jy wag, jy wag, jy wag. Al sien jy nog niks nie wéét jy die blaartjies en die bloeisels kom. Op daardie laaste, wonderlike dag van bestraling spring jou hart in jou op en niks kan jou glimlag keer nie. Sien, die lente is skielik in volle swang, jy voel dit in elke vesel en elke sel. Jy juig. Die winter en die somer van borskanker is oplaas verby en jy het dit oorleef.

Maar skielik bevind jy jouself in ’n ander soort winter. Onverwags, ’n seisoen waarvoor jy heeltemal onvoorbereid was. Want die tyd ná behandeling is, so dink mens, ’n tyd van verlossing. Dit is anders as wat jy gedink het. Dit is die tyd waarin jou liggaam vir maande lank werk en sukkel, sukkel en werk om die gif van chemo uit jou liggaam te werk, die tyd waarin die moegheid so erg is dat jy huil daarvan. Dit is tyd ’n waarin jy ’n mens sonder klassifikasie is. Nie kankerlyer nie, nie kankerstryder nie, net ’n bleek wese met sakke onder die oë; ’n bol seer spiere wat met ’n ouvrouskuifelstappie veg om werkstake en huistake met ’n mate van deeglikheid te voltooi. In hierdie winter sit die vyand jou in situasies waar jy verbyster staan voor die werklikheid. Jy loop in ’n klerewinkel rond op soek na iets om jou nuwe, ronde lyfie en jou bors met Fiona the Fake Boob fatsoenlik te laat lyk, iets wat behoorlik bedek. En daar, by die rakke waar die swemklere uitgestal word, kloek ’n spul vroue saam. Hulle hou die klein stukkies bont lap in die lug op en praat oor die komende vakansie en die strand, staan opgewonde in die ry voor die aantrekkamer om aan te pas. Jy loop eerder. Dis niks lekker nie. Jy is nie een van hulle nie. Jou klassifikasie het verander.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Maar elke winter hét ’n lente, dit hét. Maak nie saak waardeur jy gaan nie. Dit het borskanker my geleer. Hier sit ek nou aan die beginpunt van ’n nuwe lente. Oor drie dae, op die sestiende Maart, gaan ek weer onder die mes. In dieselfde hospitaal waar my bors ’n jaar en sewe maande gelede afgesit is, gaan ’n dokter vir vier ure lank aan my werk. Aan die einde van daardie paar ou uurtjies gaan ek ’n splinternuwe bors hê.

Op die sestiende Julie 2015 het ’n teatersuster met sagte oë vir my gesê ek het net een bors toe ek haar met die wakkerwordslag daardie lewensveranderende vraag vra. Ek hoop daardie suster van my is weer in die vertrek buite die teater. En hierdie keer gaan sy vir my sê daar sit jou wrintiewaar twéé borste wanneer ek vra. Net drie slapies voordat ek die getroue en geduldige Fiona the Foob in die kas langs my pruik kan bêre. Hier kom ’n ding, mense.

’n Nuwe avontuur wag.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Stel die verbruiker se ervaring eerste! MSI se reis van 20 jaar om ’n ryk van skootrekenaars te bou

’n Nalatenskap wat daarop gebou is om hul verbruikers te verstaan  Oor die afgelope 20…

3 hours Gelede

Het jy wat dit vat vir ‘Die brug’ se tweede seisoen?

Iewers op ’n eiland met ’n toring staan nog ’n skatkis wat R1 miljoen kontant…

9 hours Gelede

Smelt-in-die-mond-koekies

Maak 30 koekies • 500 ml (2 k) koekmeel • 80 ml (1⁄3 k) kakao…

10 hours Gelede

Geurige tamatie-en-wors-gebak

Geurige tamatie-en-wors-gebak. Resep deur Vickie de Beer   Lees ook: Geurige worsies met sampioene en…

10 hours Gelede

Gebakte Carbonara

Vir hierdie heerlike gebakte Carbonara druk jy die blokkies mozzarella tussen die pennepasta in! Resep…

10 hours Gelede

Ribollita

Ribollita is ’n Toskaanse sopbredie. Dit word soos ’n sop gemaak maar is so lekker…

10 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.