Hoe skaarser ‘n kommoditeit, hoe hoër die prys, sê die ekonome. Die vraag is of dit op stilte van toepassing is.
Stilte – die soort wat jy kan hóór – is raar in ons stadsjapiebestaan. Daar is altyd ‘n radio, TV, liedjie, fliek, YouTube-snit, winkelaankondiging, gesprek, “Ma!”, blaffende hond of verkeersgedruis wat ons ore in beslag neem. Kry jy jou sit op jou woonkamerstoel om vir ‘n verandering in die stilligheid met jouself te gesels, kom jy agter die yskas voer sy eie monoloog. Of die creepy lig sy kop bo die swembad se watervlak en sluk mondevol lug voor hy van goeie maniere onthou.
Die naweek was ek so gelukkig om op ‘n rustige landgoed tussen Franschhoek en die Paarl te kuier … en ‘n lang ent te gaan stap. Ek vermoed daar was ‘n nasionale (sport)veldslag op TV, want op die paadjie langs die grensdraad was daar nie ‘n siel in sig nie. Net ‘n stroompie wat om plate aronskelke kabbel, perde wat op ‘n buurplaas wei, sonlig, groot bome, en nog groter berge wat deur ‘n Reusehand teen die blou lug staangemaak is. En stilte soos ek dit lanklaas ervaar het: ‘n ruimte wat die middag geluidloos omvou.
Ek het gewonder of die eienaars van die lieflike huise op die landgoed bewustelik agter die vredigheid aan gekoop het.
Terug in Johannesburg soek ek stukkies stilte. Ek vind dit op my erfie in ‘n ou woonbuurt wat knus tussen ‘n reeks koppies en sportvelde lê, in die soem van die bye om die petria en jasmyn, en in my stiltetyd waar ek ‘n dag vol mense en dinge aan die Bron van Stilte afstaan.
Stilte is nie regtig skaars nie. Ons kan dit in die vorm van ‘n ver-van-hier bestemming koop, of dit onverwags agter ons eie tuinhekkie ontdek – ‘n kosbare, kostevrye saamdra-kommoditeit.