Kan hoop jou help herstel? deur Mariette Snyman
Die hart van herstel
Waar daar lewe is, is daar hoop, lui die spreekwoord.
Tog is dit nie in alle gevalle waar nie. Mense wat erge fisieke of emosionele pyn verduur, verloor soms die laaste greintjie lewensdrif.
Is hoop net ’n gevoel, of behels dit meer? Hoekom hou party mense in moeilike omstandighede daaraan vas terwyl ander moed verloor?
Vrae soos dié het die Amerikaanse mediese spesialis en navorser, dr. Jerome Groopman, aangespoor om The Anatomy of Hope: how people prevail in the face of illness (Random House, 2005) te skryf. As onkoloog het hy dekades lank geworstel met die manier waarop hy slegte nuus aan pasiënte moes oordra. Moes hy die rooskleurigste prentjie skilder sodat hulle hoopvol kon bly, of moes hy die feite klinies oordra sodat hulle nie onder ’n illusie sou verkeer nie?
Hoe meer dr. Groopman oor hoop nagedink het, hoe meer het die kompleksiteit daarvan hom getref. Hoop is soos ’n diamant met talle fasette, skryf hy. Dit hou verband met ons denke, emosies en fisieke welsyn, en dis altyd ’n tweerigtingstraat. Hoop kan ons byvoorbeeld aanspoor om die pynlike aspekte van ’n ingreep soos bestraling te verduur, maar fisieke pyn kan ook ons gevoel van hoop laat verflou.
Hoop word verder beïnvloed deur ons verhouding met ander, onsself en, as ons gelowig is, met God. Ook hier is die uitwerking wedersyds. So kan ’n hegte band met geliefdes ons die moed gee om dapper teen ’n siekte te veg, maar ’n gebrek aan vertroue in die mediese personeel wat na ons omsien, kan ons positiewe houding ’n knou gee.
Lees ook: Trauma na kanker – vang dit jou?
Ware hoop, vals hoop
Hoop het betrekking op élke dimensie van menswees, wat ’n netjiese omskrywing daarvan bemoeilik. In The Anatomy Of Hope onderskei dr. Groopman tussen vals en ware hoop.
Die gewilde siening dat ons die krag van ons denke kan inspan om die kliniese uitkoms van feitlik enige siektetoestand te beïnvloed, is volgens dr. Groopman ’n growwe veralgemening. Hoop is nie ’n towerstaf uit ’n sprokie nie, beklemtoon hy. “Blinde optimisme benadeel ons vermoë om die werklikheid in perspektief te sien en weldeurdagte besluite te neem. Wanneer pasiënte met ’n lewensbedreigende siekte vir my sê hulle wil niks van die probleme en risiko’s weet nie, dring ek daarop aan dat hulle ’n bietjie inligting oor hul toestand en die behandelingsmetodes inwin. Ek verstaan dat hoop soms broos is en deur vrees vernietig kan word, maar deur jou kop in die sand te steek, skep jy vals hoop.
“Vals hoop kan aanvanklik minder emosionele pyn skep, maar dis ’n wankelrige fondament wanneer jy ’n siekte beveg. Dit verkrummel sodra iets onvoorsiens gebeur, of wanneer die pad te steil raak. Ware hoop is op die lang duur ’n verstandiger opsie.”
Die kern van ware hoop lê daarin dat jy ’n beter toekomsvisie kan oproep. Al het jy ’n ontstellende diagnose ontvang, of voel jy baie siek, kan jy jou tóg voorstel dat jy vorentoe in ’n mindere of meerdere mate beter sal voel. As jy hierdie verbetering nie kan “sien” nie, lyk die pad vorentoe uitsigloos.
Ware hoop het ’n kognitiewe sowel as ’n emosionele komponent. Om ons ’n beter tydstip in die toekoms te kan voorstel, het ons inligting nodig. Gestel jy het ’n ernstige siektetoestand. Die prentjie
wat jy daarvan het, steun deels op inligting oor die siekte en moontlike behandelingsmetodes. Dié verstandsaspek is onlosmaaklik aan ons emosies verbind. In gevoelsterme kan hoop omskryf word as die vertroostende, opheffende gevoel wat jy ervaar wanneer ’n gesonder toekoms voor jou geestesoog vorm aanneem.
Ware hoop impliseer ’n skerp blik op die werklikheid. Dit neem kennis van bestaande bedreigings en gevare, maar ook van strategieë waardeur hulle getakel kan word. “Ek probeer inligting só aan pasiënte oordra dat hulle ’n duidelike beeld van die beste sowel as die slegste scenario het,” sê dr. Groopman. “Sommige dokters fokus slegs op angswekkende statistieke wat pasiënte sonder hoop laat, terwyl ander die ware toedrag van sake verswyg of versuiker.
“Ek mik vir die tussengrond wat die waarheid én hoop kan akkommodeer. Saam kyk ek en ’n pasiënt na die moontlike verloop van die siekte en na die behandelingsopsies tot ons beskikking. Ek doen my bes om eerlik te wees. Ek sê byvoorbeeld: ‘Ons weet nie of die behandeling sal werk nie. Dalk werk dit nie – maar dit kan. Die uitkoms is nie gewaarborg nie, maar moontlik.’ As ek glo die behandeling kan doeltreffend wees, probeer ek my oortuiging nie net deur my woorde nie maar ook deur die uitdrukking in my oë aan die pasiënt oordra. Hoewel ek soos alle mense feilbaar is, is dit vir my belangrik om die vertroue wat tussen dokter en pasiënt ontwikkel te eer en te versterk.”
Dr. Groopman voel geen dokter behoort soos ’n regter op te tree deur ’n vaste uitspraak te lewer wat aandui hoeveel dae, weke of maande die pasiënt nog sal lewe nie. “Veral vroeg in die verloop van ’n lewensbedreigende siekte het ’n pasiënt die volste reg om teen alle verwagting in te bly hoop. Feit is: elke siekte se uitkoms is onseker. ’n Gewas het nie altyd die mediese handboek gelees nie, en ’n terapie kan onvoorsiens ’n dramatiese uitwerking hê. Daarby lewer mediese navorsing voortdurend nuwe moontlik-hede op. Ek het al meermale gereken ’n pasiënt hoop vergeefs op remissie, en dan gebeur dit tog.”
Volgens dr. Groopman gee die besef dat hulle keuses het, pasiënte ’n mate van beheer oor hul omstandighede. Hulle voel nie algeheel uitgelewer aan die siekte nie. “Pasiënte met ware hoop benader ’n situasie kalmer en neem merendeels gepaste besluite oor behandeling. Soms wil ’n pasiënt aanvanklik nie eens ’n behandeling oorweeg nie. As die dokter meen die behandeling het ’n kans om te werk en dan kan vasstel hoekom die pasiënt dit weier, kan die saak uitgeklaar word.”
As voorbeeld beskryf dr. Groopman die geval van ’n pasiënt wat in sy jong dae in die Viëtnam-oorlog geveg het. Die man se makker het ’n sekere vorm van kanker gekry en binne ’n week ná die
diagnose gesterf, maar in daardie week ingrypende mediese prosedures ondergaan en bomenslik gely. Toe dr. Groopman se pasiënt hoor hy het ook kanker en dat die behandeling hom dalk kon genees, het hy botweg geweier. Sy makker se lyding, wat hy as sinloos beleef het, was in sy geheue ingebrand. Eers toe hy kon insien dat hy ’n ander soort kanker het, dat behandelingsmetodes verbeter het, en dat hy enige tyd die behandeling sou kon staak, het hy ingestem.
“Hoop gee ons die moed om ons omstandighede te konfronteer, die energie om te doen wat ons kan om ’n beter uitkoms te bereik, en die veerkrag om ongemak, pyn en onsekerheid te verduur. Baie keer is die eerste treetjie die swaarste,” sê dr. Groopman.
Laat hoop ruimte vir twyfel? “Ek glo so. Dis die groot paradoks van ware hoop: omdat niks volledig vooruit bepaal is nie, is daar nie net rede om te vrees nie maar ook te hoop. Natuurlik kom daar soms ’n tyd in die gang van ’n siekte wanneer die onvermydelike aanvaar moet word – maar selfs in die aangesig van die dood word van my pasiënte deur hoop gedra. Hul hoopvolle visie vir die toekoms verskuif na ’n ander dimensie. As daar nie meer hoop is vir die liggaam nie, is daar hoop vir die siel.
Die wetenskap wys …
The Anatomy of Hope verwys na wetenskaplike navorsing wat die volgende bevindings opgelewer het:
- Positiewe oortuiging (belief) en verwagting (expectation) kan pynimpulse blokkeer deur die vrystelling van endorfien en ensefalien wat die uitwerking van morfien naboots.
- In sekere gevalle kan hoop ’n beduidende uitwerking hê op fisiologiese prosesse soos hartklop, asemhaling, bloedsomloop, spysvertering en motoriese funksie – prosesse wat die verloop van ’n siekte sowel as pasiënte se reaksie op behandeling beïnvloed.
- Herinneringe kan hoop wek en voed, soos wanneer pasiënte onthou hoe iemand anders baie moeilike omstandighede deur-staan en teen alle verwagting in oorkom het.
- Wanneer ons vir onsself ’n spesifieke doelwit stel, besluit hoe ons dit gaan bereik en antisipeer hoe dit gaan voel wanneer ons daar kom, betrek ons sekere netwerke in die brein wat ’n gevoel van hoop skep.
- Ons dink gewoonlik aan die liggaam-siel-konneksie in terme van die invloed van ons denke en emosies op ons liggaam, maar dit werk ook andersom. Wanneer ons organe aangetas is, ons liggaamstelsels ingee, of daar ander wanfunksies is, versterk dit gevoelens van vrees, angs en wanhoop. Namate beterskap intree, stuur die liggaam al meer boodskappe om die brein oor die terug-keer na gesondheid in te lig. Kliniese behandeling kan ’n groot uitwerking op ons sielkundige welstand hê.
Dr. Groopman het Suid-Afrika besoek op uitnodiging van die ‘Reach for a Dream Foundation’: reachforadream.org.za
Soos ek dit sien – een leser vertel
Kanker is in 2016 by Ursula* gediagnoseer en sy is op die oomblik in remissie.
“Ek beskou my nie noodwendig as ’n hoopvolle mens nie. Dit voel of ek maklik platgeslaan word, maar as ek ’n ruk oor die situasie gedink het, voel dit of daar tog ’n oplossing kan wees en kan ek aangaan. Ek probeer om my maar net met die probleme van die betrokke dag besig te hou.
“Die oorspronklike diagnose was soos ’n vuis wat my van êrens af omgeklits het. My ma het altyd gesê daar is nie kanker in ons familie nie. Ek eet gesond en is nie onaktief nie. Ek het wel ’n aangebore hartprobleem, maar dit word goed deur medikasie beheer. Die hartspesialis het altyd gesê: ‘Jy weet waaraan jy sal doodgaan: jou hart.’
Toe my vrouedele ná die kankerdiagnose verwyder moes word, het ’n spesialis wat ’n ginekoloog sowel as ’n onkoloog is die operasie gedoen. Ek het geweet ek is in goeie hande. Die helfte van die kliere wat uit my buikholte verwyder is, was kankerpositief.
“Die bestralingsonkoloog het mooi verduidelik wat die bestraling sou behels, wat die risiko’s was, en praktiese wenke oor byvoorbeeld die gebruik van seep gegee. Die bestraling was nie so erg nie hoewel dit my baie moeg gemaak het.
“Die onkoloog wat oor die chemobehandeling moes besluit, het nie goed gekommunikeer nie. Die chemo het my so siek gemaak dat ek daarmee wou ophou. Een van my vriende, ’n lektor in verpleegkunde, het gesê ek kon nie sommer net ophou nie. Ek het met die bestralingsonkoloog, wat ek as simpatiek en empaties ervaar het, gaan praat. Ek het verwag sy sou sê ek kon die behandeling maar staak. Maar sy het gesê al word ek so siek dat ek in die hospitaal beland, móés ek die chemobehandeling voltooi, wat ek toe ook gedoen het.
“Toe daar drie maande later kolletjies op my long ontdek is, het die chemospesialis gesê ek het net ’n jaar om te leef omdat die kanker klaar versprei het – ook dat hy nie behandeling sou aanbeveel nie omdat ek die eerste keer so sleg daarop reageer het en die behandeling hierdie keer sterker sou moes wees. Maar ek moes goed daaroor nadink en hom dan oor my besluit inlig.
“Dit het my minder hoopvol gemaak en ek was weer heeltemal platgeslaan, maar my kinders en vriende het gesê dat die dokters net raai – selfs vir ’n geneesheer is soveel onbekend. Hulle wou hê ek moes die chemo uittoets; ek kon mos enige tyd daarmee ophou. Al was die onkoloog se reaksie aanvanklik so negatief, het hy baie moeite met die chemo gedoen en elke keer tydens my chemosessies ingeloer. Ek het vertroue in hom.
“Ek het tydens die operasie en behandelings nie oor herstel gedink nie, net gekonsentreer op elke stap wat ek moes deurgaan. Jy weet jy moet doodgaan, maar dis eerder in jou agterkop as ’n werklikheid. Wanneer jy so ’n diagnose kry, staar jou verganklikheid jou vierkant in die gesig. Jy weet daar is nie uitkomkans nie – dis die weg van alle vlees, en dus ongelooflik naby, nee, bý jou, saam met jou.
“Ek is nie bang om dood te wees nie, net om hulpeloos te wees en van ander afhanklik – maar ek probeer werklik om nie daaroor te tob nie.
“Wat my gehelp het om deur my siekte staande te bly, is om nie sommer net te gaan lê en wag dat die siekte my meesleur nie maar om te veg, sonder om te weet of dit enigsins gaan help. My verhouding met my volwasse kinders is baie sterk, al woon hulle oorsee. Ons het feitlik elke dag kontak en hulle kom elke jaar kuier. Ek het ook vriende wat werklik omgee en wil help.
“Baie hang af van hoe die sieke op die behandeling reageer, hoeveel steun hy of sy het, en hoe sterk die persoon fisiek én innerlik is. My doel is om maar net elke dag te leef asof dit ’n groot voorreg is, nog ’n dag wat my gegun is.”
*skuilnaam