Dit is piknagdonker. 03:55 skyn die klokradio langs die bed. Ek en die spanjoel lê en loer vir mekaar en sy raak kriewelrig.
Haar rede om wakker te wees is klaarblyklik ’n nood en ek maak of ek snorkerig diep asemhaal. My man staan mompelend op om haar trap af tuin toe te vat.
Mý rede vir wakker wees is ’n blou top, nog ’n langmou T-hemp en ’n mus. Dalk ook sommer ’n ekstra paar sokkies.
Want, sien, my tienjarige vertrek vroegoggend op sy eerste regte-egte skoolkamp. En, al het ons die beste deel van die Sondagmiddag spandeer om die afgemerkte lysie goed te pak, te herpak en wéér te pak, dink ek daar moet plek gemaak word vir nog warm klere.
Dit is nie die klong se eerste kamp nie. Hy was voorheen al op kerkkampe en karatekampe. Hy het dit vreeslik geniet, oorleef en ten spyte van moeë kringe om die oë, vol stories teruggekom.
Maar, daar is nou maar eenmaal iets aan ’n regte skoolkamp in die natuur in die middel van die winter ver buite die dorpsgrense, wat ’n ma laat wakkerlê. En wil laat ekstra warm goedjies inpak. Al is dit skuins voor vier in die oggend.
Met opstaantyd is hy vol aapstreke. Sy opgewondenheid is aansteeklik en selfs die bejaarde persiese kat staan langbeen op van sy warm lêkolletjie en kom sit en bekyk die laaste pakkery. Die spanjoel jaag haar eie stert en Kleinsus mompel dat sy dankbaar is dat dit môre nie weer só ’n sirkus gaan wees nie.
’n Hele halfuur te vroeg stop ons met ’n tas barstens vol warm klere, slaapsak, kombers en kussing en ’n rugsakkie met skryfbehoeftes, flits en piekniekmiddagete by die bus. Kleinsus mompel weer dat sy bly is om ’n slag betyds by die skool te wees en hardloop na haar speelterrein toe.
Ek wou nog die sware kleresak uitlig uit die kattebak, toe het die tienjarige dit in ’n greep en daar gaan hy met lang treë. Ek sluit maar ewe gedwee die kattebak en draf agterna. Groot opwinding heers onder die graad 5’s wat in sweetpakke en tekkies hulle bagasie in klasverband neersit.
Ek smeek nog vir ’n foto van die knaap en ’n maat by hulle bagasie en sien toe dat my teenwoordigheid nou eintlik heeltemal oorbodig is. Met ’n laaste “Geniet dit!” blaas ek maar die aftog en stap kar toe.
So ’n halfuur later kry ek ’n paar foto’s van ’n mede graad 5-mamma. Ek stuur vir my een buurvrou ’n WhatsApp om te hoor of sy dalk van haar kind en maats ’n paar foto’s geneem het wat ek solank op die skool se Facebook-blad kan plaas, maar sy laat weet dat sy nie eers toegelaat is om verder as hulle motor te vorder nie. “Uncool,” het haar dogter gesê met die wegstap.
Ek lag. Nog ’n vriendin laat weet dat haar seun haar nie eers wou baai soen voor sy maats nie. Mammas wat faf is duidelik baie uncool. Tien- en elfjariges in hulle natuurlike habitat – met ander woorde tussen maats en reg vir ’n avontuur – het beslis nie meer ’n paranoïese grootmens nodig wat hulle op ’n ongeleë tyd herinner aan iets embarassing soos om tande te borsel en ’n reënbaadjie aan te trek nie.
Later die oggend kry ek ’n paar foto’s van my kind se klasjuffrou wat saam kamp om op die skool se Facebook-blad te laai. Met vergrootglasoë bekyk ek die foto’s en sien my eie telg met ’n groot glimlag op sy gesig en rooi wangetjies aan die klim en klouter saam met sy maats. Ek let wel op dat hy reeds môre se stel klere aanhet en wonder heimlik wat op aarde hy dan beplan om môre te dra. Maar, solank hy dit geniet.
Ek kyk die foto’s deur vir vriendinne se kinders en stuur dit aan vir hulle. Ek weet hulle loer ook kort-kort na die foon.
Hulle sê “Geen nuus is goeie nuus”, maar ons mammas weet mos ook “’n Foto is meer werd as ’n duisend woorde”.
Wat op aarde het óns ma’s gedoen voor selfone …?
Later die middag is ek in my enigheid nog so half bly vir net een stel huiswerk, mondelinge en spelwoorde toe nog ’n klompie foto’s deurkom van die juffrou af. Ek vergeet skoon van die agtjarige wat haar potlood ongeduldig sit en tik-tik vir die volgende spelwoord en bekyk elke foto aandagtig. Die kinders het duidelik groot pret. Dit lyk na ’n lieflike omgewing waar hulle is. Maar, wag, hoekom het die knaap dan nou OORMÔRE se langmou-T-hemp aan? Dis die derde top vir die dag … Teen hierdie tempo gaan hy die laaste dag van die kamp sy pajamatop moet dra!
Ek stuur ’n foto aan vir my man met ’n opmerking oor die klere. “Ook net jý wat so iets sal raaksien,” antwoord hy droogweg.
Almiskie. Maar, wat dink die knaap gaan hy dra as hy binne die eerste dag deur sy netjies gepakte stapeltjies klere vir die volgende twee dae werk …?
Newermaaind. Hy sal wel iets kry in sy propvol tas om aan te trek – al is dit dan nou nie streng volgens sy beheervraatmoeder se instruksies nie.
Vroegaand kry ons ’n foto van my seun se span in die eetsaal. “Ons het beslis nie sulke lekker kos gekry op ons SOS-kamp nie!” rek my man se oë.
“Was daar dan al iets soos burgers toe Pappa klein was?” vra Kleinsus met ’n skewe glimlag.
Ek dink terug aan die Voortrekkerkampe en Veldskool wat ek in die laerskool bygewoon het. Ek onthou hotdogs met neonpienk weense worsies en blouerige, hardgekookte eiers.
Maar, ek onthou skielik ook hoeveel energie mens gehad het op so ’n kamp en hoe lekker dit was om in die buitelug te wees, kampliedjies saam met die onderwysers te sing en jou skoolmaats op ’n ander manier te leer ken. Met saam sweet en swaarkry en koudkry en lag en leer en skerts op ’n kamp word daar bande gesmee wat dikwels jare hou.
En, skielik weet my moederhart dit maak eintlik glad nie saak as my bloedjie die volgende twee dae dieselfde ou top dra of dalk sou vergeet om sy hare te kam nie. Want, die herinneringe waaraan hy en sy maats nou bou, sal bydra om hom te vorm as mens en sal ’n leeftyd by hom bly.