Jy kan self ’n houttafeltjie maak saamgestel deur Cornel Dunn. Foto’s: living4media/greatstock
Materiaal
- Houtskyf
- Skuurmasjien en skuurpapier
- Draadborsel
- Potlood
- Boor
- Versinkboor
- Tou
- Materiaalband
- Matsnyer
- Karbynhake
- Skietlood
- Oogbout
- Waterpas
Metode
- Skuur die hout met 80 grein-skuurpapier af en borsel die stof met ’n draadborsel af.
- Merk die 3 plekke op die hout waar die gaatjies moet kom – sowat 3 cm van die rand af en 120 grade uitmekaar. Boor die gaatjies. Die deursnee van die gaatjies hang van die dikte van die tou af, maar ongeveer 10 mm.
- Maak albei kante van die gat met ’n versinkboor skoon. Dit lyk netjieser en gee die knope beter vashouplek.
- Merk 3 stukke tou wat ewe lank is. Die lengte word bepaal deur die hoogte van die plafon tot waar jy die tafeltjie wil laat hang. Voeg 30 cm by vir knope in die tou. Draai materiaalband om die tou en sny met ’n matmes af.
- Knoop die tou aan die een kant en ryg deur die gate in die hout. Heg ’n karbynhaak aan die ander punt.
- Om te bepaal waar in die plafon jy moet boor: Sit die hout op ’n stoel of tafel wat so hoog is soos wat die tafelblad moet wees. Gebruik ’n skietlood om die middel van die tafel te kry. Boor die gat in die plafon. Heg ’n oogbout in die gat. Haak die drie karbynhake in die oogbout. Gebruik ’n waterpas om te verseker dat die tafel gelyk hang.
So lyk dit aan die einde!
Vir nog kreatiewe doen-dinge, loer hier