Gebruik jou lekkerste sponskoekresep vir dié een!
Lees ook: Jy kan ’n basiese sponskoek bak
Stap 1
Verdeel die koekbeslag in 4 gelyke dele en kleur elkeen met ’n ander kleur jelkleursel.
Wat is jel-voedselkleursel?
Jel-voedselkleursel word van ’n mieliestroop- en/of gliserien-basis gemaak en gee koeke en versiersel ’n intenser kleur. Die jelkleursel het nie ’n sterk nasmaak nie en help ook dat koeke nie dof word wanneer dit gebak en gevries word nie. Jy gebruik minder hiervan, want jy het net ’n paar druppels nodig. Beskikbaar by bakwinkels.
Stap 2
Skep die gekleurde beslag, een vir een, in die middel van die pan in netjiese konsentriese sirkels.
Belangrik:
Gebruik sowat drie kwart van die eerste twee kleure se beslag, die helfte van die derde en ’n kwart van die laaste kleur. Herhaal die proses in die tweede pan maar begin dié keer met die kleurbeslag waarvan die meeste oor is.
Hoe sny jy ’n koek middeldeur?
• Maak seker die koek is heeltemal afgekoel, of sit gou in die vrieskas.
• Meet met ’n liniaal presies waar die middel van die koek is, en druk ’n sosatiestokkie horisontaal daar in.
• Draai die koek in die rondte en druk nog 3 sosatiestokkies op dieselfde hoogte in die koek in.
• Sny met ’n riffelmes ’n keep om die koek, wat as gidslyn dien.
• Sny nou die koek met ’n saagaksie deur – gebruik die sosatiestokkies as gids.