kategorieë: ReisOntspanning

Jy kan meer romanties reis

Of jy nou vir of teen Valentynsdag is, het eintlik min daarmee uit te waai. Hierdie maand loop jy jou oral vas in hartjies, ballonne en eindelose aanmanings om sjokolade te koop. Reisbestemmings doen ook hul deel met die klem op romantiese etes en spa-behandelings vir twee, maar daaraan hoef jy jou natuurlik nie te steur nie. Enige uittog saam met jou geliefde kan romanties wees, of dit nou na ’n eilandbestemming of die karavaanpark buite die dorp is. Veral as jy ’n paar dingetjies in gedagte hou:

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

1 Droom oor oomblikke eerder as dae

Flieks, romanses en reisadvertensies verkoop aan ons “die volmaakte vakansie” of “die ideale naweek”. Dis seker moontlik dat so iets bestaan, maar min mense (selfs wittebroodspare) het dit al ervaar. Elke wegbreek het momente wat jou verveeld laat gaap, jou humeur laat ontvlam of jou hoë verwagtinge laat platval. Komedies floreer op voorbeelde hiervan.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Een of ander wyse siel het gesê: “We remember moments, not days.” Sien uit na ’n klompie romantiese oomblikke, en laat die res van die reis toe om te wees soos dit wil – al sluit dit ure agter die stuurwiel, ongemaklike matrasse of slegte weer in.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

2 Stel jou oop

Hoe sou jy ’n romantiese oomblik beskryf? Is dit ’n teer aanraking, ’n passievolle omhelsing, oë wat mekaar nie los nie, woorde, woordelose begrip, ’n geskenkie, ’n bederfgebaar, ’n kompliment, of om spontaan saam te lag? Is dit die onverwagse oomblikke wat die grootste indruk op jou maak en wat jy jare later steeds onthou?

Dit kan nie kwaad doen om te dagdroom oor wat vir jou regtig lekker sal wees nie. Soms is ons so bang vir teleurstelling dat ons nie eens ’n verbeeldingsvlug wil waag nie. Maar ’n enkele gelukkige oomblik of twee is nie veel gevra nie, en as ons ons oopstel, is ons meer ontvanklik. (En ’n dromerige kyk in die oë was nog nooit onaantreklik nie …)

3 Waardeer dit behoorlik

In die verliefdheidsfase doen ons dit outomaties: ons laat geen kosbare oomblik ongemerk verbygaan nie. Ons neem foto’s van oulike gesigsuitdrukkings. Ons ervaar elke aanraking met al ons sintuie. Ons bêre liefdesbetuigings in ons hart. Ons lag lekker vir kwinkslae. Ons word tot dankiedrukkies, digterlike e-posse en entoesiastiese Whatsapp-boodskappe aangespoor.

In ’n vreemde omgewing is ons baie keer outomaties meer op die oomblik ingestel, veral as ons besef dat ons nooit weer daardie stads- of natuurtoneel gaan beleef nie – of wanneer ons baie daarvoor opdok!

Die Engelse woord vir waardering, appreciation, sê dit miskien sterker. As jy met jou hele wese op kosbare oomblikke kan inzoem, styg jou ervaring van romanse ’n aks of wat.

4 Bedink verrassings

Dalk ken jy jou geliefde al dekades, of miskien is die verhouding ’n nuutjie. Watter voorkeure het hy of sy? Die maklikste is om aan kosvoorkeure te dink en tydens die wegbreek ’n bederfie, gereg of uitstappie te beplan wat daarby pas.

Met watter aktiwiteit kan jy jou geliefde tydens die reis verras? Kan jy dalk ’n belangstelling wat jou gewoonlik koudlaat saam met hom of haar ervaar? Kan jy uit jou patroon breek en vroeg opstaan of laat opbly, ’n slaggie wegkruip, of ’n verspotte dansie doen? Die gedagte is nie dat jy jou beginsels versaak nie, net dat jy iets ligweg op ’n ander manier doen.

Nie een van hierdie vier dinge is tot ’n reis beperk nie. Jy kan elkeen saamvat huis toe. Dis egter makliker om klein eksperimentjies te doen terwyl jy vry is van jou gewone roetine en verantwoordelikhede.

Kom ons hou duimvas vir ’n tikkie meer romanse – veral as jy dit begeer!

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

‘The Mommy Club’ se Johandri: “As dit soos hoërskooldrama voel, hou ek my afstand”

Showmax se gewilde werklikheidsreeks, The Mommy Club: Van die Hoofstad bied ’n vars, maar soms…

3 hours Gelede

Nuwe herfsspyskaart by Creation is meer as kos en wyn

Deur Maryke Roberts. Foto’s: Clifford Roberts     Creation het ook pas by die Eat…

3 hours Gelede

Koek met sjokolade en souterige karamel

Lewer 1 groot koek   Bestanddele   Karamel met sout 200 g suiker 60 ml…

4 hours Gelede

Vyf vrae aan Anna Davel oor Suidoosterfees se ‘Konsert van Hoop’

Die 22ste Suidoosterfees word ingelui deur ’n indrukwekkende konsert van populêre en klassieke musiek. Anna…

6 hours Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Kristen Raath oor ‘Niggies’ en ma-wees op skerm

Hooffoto: Stavros Cassapis   Sedert die eerste episode van Niggies op kykNET uitgesaai is, het…

7 hours Gelede

PAS BEKEND | Nuwe kykNET-reeks verken dramas en intriges van nuuskantoor

Adri Joubert was vir twee dekades die koel, kalm, gerusstellende gesig en stem van die…

10 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.