Instructions
Voer ’n 24 x 34 cm-pan met bakpapier uit en spuit met kleefwerende kossproei.
1 Meng die gelatien en kookwater liggies met ’n elektriese klitser, en hou eenkant.
2 Verhit die suiker, glukose en water in ’n middelslagkastrol oor matige hitte. Moenie roer nie. Kook tot dit die sagtebalstadium op ’n suikertermometer bereik.
3 Skakel die klitser aan en voeg die stroop in ’n dun straaltjie by. Voeg die vanielje en voedselkleursel by en klits vir 12-15 min. tot die mengsel lig, dik en blink is.
4 Skep die mengsel in die pan en maak vinnig gelyk, want die mengsel set amper onmiddellik.
5 Sif die versiersuiker en mielieblom saam en strooi oor ’n skoon werkvlak. Keer die malvalekkers daarop uit. Sny met ’n koekiedrukker in die gewenste vorm uit. Bêre in ’n lugdigte houer.
(Resep: Donna Hay)
Onthou ...
- Die stroop vir die malvalekkers moet gekook word tot by die sagtebalstadium of 112-116 °C op ’n suikertermometer.
- Sit die suikertermometer eers in kookwater voor jy dit in die stroop sit. As dit direk in die kokende stroop gesit word, kan dit die termometer beskadig. Dit verkort ook die tyd wat dit in die suikerstroop moet wees en verminder so die kans op kristallisering.
- Die suikertermometer moet ook nie aan die boom van die kastrol raak nie. Dit sal die temperatuur meet van die plaat, en nie van die suikerstroop nie.
- Indien jy nie ’n suikertermometer het nie, toets die stroop in koue water. Gooi ’n paar druppels van die warm stroop in yskoue water en vorm ’n balletjie. Haal uit die water. As die balletjie onmiddellik sy vorm verloor, is dit op die sagtebalstadium.
- Laat die stroop vir nog so paar minute kook nadat dit die sagtebalstadium bereik het. As die suikerstroop nie lank genoeg gekook is nie, sal die malvalekkers te sag wees.
- Om te voorkom dat die malvalekkers vassit: Strooi ’n bietjie van die versiersuiker-en-mielieblommengsel op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is.
- Smeer die mes of koekiedrukker met ’n bietjie olie voor jy die malvalekkers sny.