“Ouers wat moeite doen om ’n liefde vir lees by hul kinders te kweek, sal vir die res van hul lewe die vrugte daarvan pluk, want lees bevorder ’n kind se selfbeeld, kreatiwiteit, woordeskat, empatie, spelling en verbeelding.”
Dis die mening van Keina Swart, koerantredakteur en skrywer met twee jeugboeke en ’n bundel essays op haar kerfstok. Sy het drie leesgierige kinders. Hoe het sy dit reggekry om sulke ywerige lesers groot te maak?
Sy glo storietyd is veronderstel om vir kinders die lekkerste tyd te wees. “Lees is nie leertyd nie, dis speeltyd. Kinders sal gou agterkom as dit werk eerder as pret is.” Keina beklemtoon ook dat die liefde vir lees en boeke tuis gekweek moet word. “Die skool of ’n juffrou kan wel ’n kind leer lees, maar daar is ’n reuse-verskil tussen kán lees, en lief wees vir lees.”
Keina se beproefde wenke
• My kinders het van babadae af boeke gehad. Plastiekboeke vir die bad, kartonboeke wat hulle maar kon kou, tydskrifte om uit te skeur (hulle het veral van dié met diere gehou) en prenteboeke, waarin hulle self kon blaai. Die spesiale boeke het ek saans voor slaaptyd voorgelees.
• Ek dink werklik Afrikaanse kinders lees te min, want Afrikaanse ouers lees te min. Dis belangrik dat jou kinders sien jy lees nie net vir werk nie, maar ook vir ontspanning. Vandag is dit een van my grootste lekkertes om op ’n koue dag die kaggel aan te steek en almal onder komberse met boeke of e-lesers te sien.
• Lank nadat my kinders self kon lees, het ek nog vir hulle voorgelees. Ons gesin reis baie en op ver paaie het ek kort-kort ’n hoofstuk gelees. (Kies die regte boek, anders gaan die pa naderhand iets oorkom!) Ons gunsteling-langpadboeke was die Pippie Langkous-reeks deur Astrid Lindgren en Droomoog Diepgrawer deur Leon de Villiers. Selfs my man het naderhand geskree: “Lees nog! Lees nog!”
• Uitstappies na boekwinkels was van jongs af vir my kinders ’n groot bederf. Daar is deesdae wonderlike boekwinkels wat allerhande interaktiewe programme vir kinders aanbied. Dis goed om die kinders aan te moedig om rustig in ’n hoekie van die boekwinkel te sit en lees of deurblaai, en ná ’n uur of wat kan elkeen een boek kies. Ek wou hê my kinders moet besef lees is ’n rustige affêre. Jy nael nie ’n boekwinkel in, gryp iets van die rak af en hol weer uit op pad na die volgende winkel toe nie.
• Ek sou baiekeer in voorleessessies ophou lees en vra wat húlle dink volgende gaan gebeur. Dit moedig kinders se kreatiwiteit aan en skep sommer ’n goeie geleentheid om oor die lewe te gesels.
• Ons het ure lank letterspeletjies in die motor gespeel. Ek sou vra vir woorde wat met sekere klanke begin, woorde wat rym, teenoorgesteldes en daardie ou bekende: name, vanne, diere en dorpe.
• Ek glo as ’n kind nie van lees hou nie, het hy of sy nog net nie die regte boek gekry nie. Stel vas waarvan jou kind hou (ballet, rugby, vliegtuie) en soek boeke daaroor. Dis veral soms ’n uitdaging om seuntjies aan die lees te kry. Navorsing toon dat die meeste seuns nie daarvan hou om van hoogs onwaarskynlike situasies te lees nie. Hulle hou daarvan om iets “nuttigs” te lees wat hulle in die alledaagse lewe kan toepas. My seun het byvoorbeeld van kleins af van feiteboeke gehou. Dan kon hy my ure lank vermaak met hoe hoog, hoe swaar of hoe vinnig alles op aarde is.
• Die eintlike doel is dat ons tog wil hê ons kinders moet léés, nie dat hulle noodwendig ’n bóék moet lees nie. Ouers moet dalk effens meer ontspan en hulp aanbied as kinders goed op die internet (of in ’n tydskrif) wil lees oor dinge waarin hulle belang stel.
• In ons huis is daar ’n groot okkasie gemaak van die dag waarop die kind “groot genoeg” was om ’n leeslampie te kry. Dit was gewoonlik hier rondom die tweede verjaarsdag. Ons het die lampie gaan uitsoek, en dan mag die kind saans ná storietyd vir ’n rukkie nog “lê en lees” en dan self die lampie afskakel. Dit was eintlik niks meer as boeke deurblaai nie, maar het wonderlik gewerk en was iets waarna hulle baie uitgesien het.
Keina meen ook kinders wat baie lees, is meer geneig om empatie met ander mense te hê. “Ek sien dit so baie. Lees leer hulle van ander mense se omstandighede, ander kulture, ander gebruike. Deur te lees, ervaar hulle byvoorbeeld hoe dit is as daar oorlog in jou land is, hoe jy voel as jou ouers geskei is, as jy geboelie word, as jy nie wen nie … Kinders wat nie lees nie, se wêreldjies sluit baie keer net hulself in. Lees leer kinders wat in die wêreld om hulle aangaan, hoe ander mense dink en wat in ander se harte en gedagtes aangaan.
’n Kind wat van boeke hou, sukkel ook minder met akademiese druk. “Van die waardevolste leesraad wat ek nog gekry het, kom van my suster Zanne Kriek, ’n kindersielkundige van Pretoria. Zanne meen ouers besef nie hoe stresvol graad een vir ’n kind is nie. Alles is nuut en Ma en Pa is nie meer daar om te help met alles nie. Die allerlaaste ding wat ’n graadeentjie moet ervaar, is akademiese stres. Dis hoegenaamd nie nodig dat ’n voorskoolse kind al moet kan lees nie, maar dit help ontsettend baie as die kind reeds letters en klanke kan herken, en as hulle miskien drieletterwoordjies soos ‘pot’ en ‘kas’ kan herken as jy dit vir hom uitpak of neerskryf. As kinders dít onder die knie het, volg lees sommer baie maklik.”
Lees ook: Maak kinders met goeie waardes groot
“Lees bevorder taalvaardigheid, akademiese prestasie en beter begrip, spraak en die herkenning van klank, beter kommunikasievaardighede, logiese denke, beter konsentrasie, dissipline en geheue, empatie en respek vir ander”
Wat sê navorsers?
Nuwe navorsing onder leiding van dr. John Hutton van die Cincinnati-kinderhospitaal in die VSA het bevind dat lees in die belangrike fase voor kleuterskool ’n “betekenisvolle en meetbare uitwerking het op hoe ’n kind se brein stories verwerk”, berig die Britse Daily Mail van 25 April 2015.
Die kinders het MRI-skanderings ondergaan wat hul brein-aktiwiteit gemeet het terwyl hulle deur oorfone na stories geluister het. Volgens Hutton is daar meetbare aktiwiteit in die dele van die brein wat ’n kind help om die storie in sy kop te “sien” afspeel. “Dit bevestig die onmisbare rol van verbeelding.”
Leesfeite
• Deur daagliks vir jou kind te lees, gee jy hom ’n voorsprong van ’n jaar bo kinders vir wie daar nie gelees word nie.
• 15 minute per dag se lees kan van jou kleuter ’n leser maak.
• Net 1 uit 8 kinders wat aan die einde van graad een nog nie goed lees nie, sal sonder duur klasse op hierdie vaardigheid kan inhaal.
• 50% van tieners met verslawingsprobleme het leesprobleme.
• 500 boeke in die huis gee ’n kind ’n voorsprong van twee jaar teenoor kinders met minder as tien boeke in die huis as dit by taalvaardigheid kom.
(Bron: The International Publishers Association)
Nog goeie raad
Jaco Jacobs is een van die gewildste kinder- en jeugboekskrywers in die land. Hy het meer as honderd boeke geskryf en vertaal en het ook verskeie ATKV-kinderboektoekennings gewen (jong lesers landswyd stem vir hul gunstelingboeke). Jaco is pa van twee kleuters en weet wat ’n jong leser laat tiek. Hier is sy raad:
• Ouers wat vir plesier lees, is die beste voorbeeld wat ’n kind kan kry. Een van die redes waarom baie kinders nie lees nie, is omdat hulle grootword in ’n huis waar nie ’n leeskultuur bestaan nie. Moenie bloot verwag die skool moet van jou kind ’n boekwurm maak nie – raak aktief betrokke by sy leeswêreld. Bly op die hoogte van nuwe kinderboeke wat verskyn en leer jou kind se leessmaak ken.
• Maak seker jou kind het toegang tot boeke. Dit klink dalk voor die hand liggend, maar nog ’n rede waarom soveel kinders trae lesers is, is omdat hulle nie boeke in die huis het nie en nooit na ’n biblioteek geneem word nie. As jy jou kind wil laat lees, maak seker hy/sy het ’n boekrak met genoeg eietydse, opwindende leesstof daarin.
• Gee kinders die geleentheid om boeke te kies oor onderwerpe waarin hulle belang stel.
• Moenie ’n boeksnob wees nie. Kinders en jongmense is geneig om deur fases te gaan wat hul leessmaak betref. Moenie neerhalende opmerkings maak as jou tiener in ’n stadium net strokiesboeke of liefdesromans wil lees, of as jou kind vassteek by grillers of reeksboeke nie – wees dankbaar dat hy/sy lees!
Lees ook: Help jou kind dié oorgange baasraak