Teleurstelling is van melktandtyd af deel van ’n kind se ervaring: Mamma wil nie vir my die lekkertjie koop nie; my maatjie wil nie meer my maatjie wees nie; ek word nie vir die span gekies nie; my meisie maak uit; my selfoon val in die water; my ouers skei … Maar ongelukkig moet kinders ook maar die ander, moeiliker lewenslesse leer, soos dat die lewe nie regverdig is nie; dat die kaarte nie altyd reg val nie; dat jy soms nie kry wat jy verdien nie (en dikwels is dit ’n genade dat jy nie kry wat jy regtig verdien nie).
Dis ’n lewenswaarheid dat slegte dinge soos ongelukke, siekte, pyn met almal gebeur. Maar dis hoe jy daarop reageer wat die verskil maak. Die mense wat teleurstellings met optimisme en positiwiteit as uitdagings en ontwikkelingsgeleenthede benader, bewys dikwels dat wanneer jy jou hart op iets sit en hard werk, jy berge kan versit en die ondenkbare bereik. Volwassenes wat hierdie ingesteldheid as kinders reeds geleer het, hanteer die aanslae van die lewe gemakliker en suksesvoller. Kinders moet leer dat jou gedagtes, woorde en dade, veral ná teleurstellings, jou toekoms bepaal. Dis juis wat in Suid-Afrika met wit mans gebeur: Hulle is die afgelope jare die swaarste deur regstellende optrede getref. Maar hulle het nie gaan lê en die benadeelde groep geword nie. Die jongste sensusopname wys dat hulle steeds die groep met die laagste werkloosheidsyfer en hoogste inkomste is.
Teleurstellings bied kinders vele leergeleenthede
- Dat geluk nie mag afhang van dinge buite jou waaroor jy nie beheer het nie.
- Om planne te maak en probleme op te los; om op te staan en weer te probeer.
- Dat elke teleurstelling ’n mens verander, laat groei en die geleentheid bied om te leer.
- Dat teleurstellings jou sagter en met meer empatie na ander en hul probleme kan laat kyk.
- Dat daar tog nog iets in jou lewe is om te waardeer en dankbaar voor te wees.
- Dit laat jou oor jou waardes en prioriteite besin: Wat is regtig belangrik in my lewe?Wanneer jou kind in trane na jou toe kom en jy sien die hartseer, pyn of teleurstelling, wil ’n ouerhart ook maar breek. Dan probeer ’n mens instinktief keer dat die lewe die kind verniel, en is die versoeking daar om die teleurstelling te probeer versag, te troos, toe te gee, te gee wat hulle wil hê in ’n poging om met geld wat stom is, reg te maak wat krom is, of namens hulle te onderhandel.Susan* sê: “’n Mens moet jou eie teleurstelling van jou kind se teleurstelling probeer skei. Jy verloor ook iets – iets waarop jy vir jou kind gehoop het. Toe my dogter Ané* se kêrel haar in die middel van haar finale eksamen onverwags los, het haar lewe in duie gestort. Sy, en ons, het gedink dis haar trouman. My selfstandige, onafhanklike presteerder was oornag ’n baba: Sy wou by my in die bed slaap en nie ’n oomblik alleen wees nie. Wanneer ek werk toe gaan, moes haar sussie by haar bly. Sy het nege dae lank byna niks geëet nie en gereeld gevra: ‘Wat moet ek doen? Wat moet ek doen?’ Ons raad was: Haal asem. Ervaar die emosie in al die intensiteit daarvan, al voel jy jy gaan dood. As dit jou omrol, rol maar – ons is hier. “Ek dink wat gehelp het, is dat sy heeltyd met ons gepraat het. Ek moet bieg dat dit baie van ons tyd en emosies geverg het, maar stadigaan kon sy haar al meer losmaak. Ná ’n jaar sou ek sê sy is amper daar. Sy sien nog nie kans vir hartseer of om haar in ’n verhouding te begewe nie. Sy vlug nog so ’n bietjie. Maar sy begin tog, so half speels en versigtig, om weer die landskap van verhoudings te verken.
Wat om nie te doen nie
- Oorreageer.
- Peper die ontstelde kind met vrae.
- Neem iets of iemand anders vir die probleem kwalik.
- Rasionaliseer.
- Raas met die kind, verkleineer hom, of skel hom uit!
- Neem oor en los die probleem vir die kind op.
- Ontken haar emosies sodat sy voel sy oorreageer.
- Gee lang, morele verduidelikings.
- Wees negatief en pessimisties.
- Trek die kind se aandag af sodat hy nie die teleurstelling hoef te beleef en te hanteer nie.
- Vergelyk hom met ander.
- Verwyt die kind.
Wat om nie te sê nie
- Wat! Dis verskriklik! Ek sal daai ou vrek maak as ek hom in die hande kry. Jy gaan nooit hieroor kom nie.
- Wat het gebeur? Hoekom het jy dit gedoen? Hoekom doen jy nie net ’n slag wat ek vir jou sê nie?
- Jy was die beste, die beoordelaars was so onregverdig! Dis nie jou skuld nie, as die ander jou nie uitgelok het nie, het dit nooit gebeur nie. Dis in elk geval nie belangrik nie.
- Hoe kon jy dit doen? Was jy nou simpel? Het jy nie verstand nie? Kan jy nie net dink of konsentreer voor jy iets doen nie? Ag nee! Jy stel my teleur! Jou simpel onnosele ding. Jou slet!
- Los dit vir my, ek sal met die hoof gaan praat, jy hoef jou nie verder hieroor te bekommer nie.
- Dis regtig nie iets om oor te huil nie. Dit gebeur maar met almal en is regtig nie so erg nie. Jy is nou net moeg.
- Jy moet besef almal maak foute. Niemand kan altyd alles kry wat hulle wil hê nie.
- Hoe gouer jy besef die lewe is hard en onregverdig, hoe beter.
- Kom glimlag ’n bietjie, jy lyk so mooi as jy glimlag. Kom ons gaan fliek, dan voel jy sommer beter.
- Hoekom kan jy nie net soos jou boetie wees nie? Waarom moet jy van alles ’n drama maak?
- Sien jy dié grys hare? Dis wat jy aan my doen. Jy sal my nog na my graf stuur.
Los die probleem só op
- Gee jou kind ’n drukkie sodat sy weet jy is daar vir haar. Jou stille teenwoordigheid en fisieke kontak is aanvanklik genoeg.
- Erken eers haar emosies voor jy haar aanmoedig of planne maak.
- Help hulle om te bepaal wat kan verander en wat nie: Gewoonlik kan ek my eie optrede en emosionele reaksies verander, maar nie eksterne gebeure, ander se optrede, keuses en besluite nie.
- Help haar om alternatiewe oplossings te bedink of liefs te fokus op dinge wat sy kán doen – as sy haar roete aanpas, kan sy wel sukses behaal.
Lees ook: Kweek gesonde selfwaarde by jou dogter