Tony Schwartz, skrywer van Be Excellent at Anything, sê ons gedrag is 95% van die tyd gewoonte, of die gevolg van ’n sterk eksterne stimulus. Net 5% van ons keuses word bewustelik gemaak. Hy sê navorsing toon ook dat die meeste van ons ons wilskrag en selfdissipline heeltemal oorskat.
“Vir blywende verandering moet ons minder op die frontale lobbe staatmaak en meer op die primitiewer dele van ons brein waar gewoontes gevorm word. Eenvoudig gestel: hoe meer ons gedrag roetine en rituele word – deur dit bewustelik te oefen – hoe minder energie vereis dit en hoe meer word dit outomaties.”
Hy het vyf stappe geïdentifiseer wat verandering makliker en suksesvoller kan maak.
1 Wees baie presies en spesifiek
Kyk na jou lysie met Nuwejaarsvoornemens. Pleks van “oefen gereeld”, skryf neer watter dae jy wil oefen, hoe laat en presies wat jy wil doen. As jy een van die dae mis, moet jy dit die volgende dag inhaal. Navorsers noem dit “implementation intentions”, en dit verhoog jou kanse op sukses dramaties.
2 Een uitdaging op ’n slag
Moenie al die groot veranderinge wat jy wil aanpak gelyk takel nie. Gee elke nuwe uitdaging jou onverdeelde aandag totdat jy dit baasgeraak het en dit outomaties kom.
“Rekenaars kan verskeie programme gelyktydig laat loop. Maar ’n mens funksioneer die heel beste wanneer jy net een nuwe ding op ’n slag aanpak en bemeester voordat jy die volgende een begin.” (In praktyk kan dit dalk beteken dat jy eers jou nuwe eetpatroon onder die knie kry voordat jy begin oefen – stel vas wat vir jou werk.)
3 Nie te min of te veel nie, net genoeg
Moenie meer afbyt as wat jy kan kou nie. As jy die afgelope paar jaar glad nie geoefen het nie, en skielik oefen jy elke dag ’n uur lank, is die kans groter dat jy ná ’n paar sessies sal tou opgooi omdat dit te pynlik is. Moet ook nie te min aanpak nie, want dan gaan jy nie gemotiveer bly nie omdat jy nie resultate sien nie. Kry jou eie goue middeweg – wat vir jou vriendin werk, gaan nie noodwendig vir jou werk nie.
4 Dit waarteen ons skop, gaan ons bly pla
Dit, sê Schwartz, is die grootste rede waarom diëte so dikwels misluk. “Gewoonlik moet jy dit waarvan jy hou, vermy en uit-eindelik raak dit net te moeilik vir ons beperkte selfbeheersing.”
Dieselfde geld die pieng van die e-posse wat jy probeer ignoreer terwyl jy aan ’n belangrike projek werk. Vermy die versoeking – maak jou e-pos toe en lees dit net op sekere tye, en fokus op dit wat jy mág eet wanneer jy op dieet is en nie op die verbode kosse nie. Beplan jou maaltye en porsies vooruit en sorg dat daar niks in die huis is wat jou kan verlei nie. Hoe minder jy oor ’n aksie hoef te dink, hoe makliker gaan jy daarby hou.
5 Immuun teen verandering?
Schwartz verwys na navorsing wat toon dat ons almal in ’n mate immuun is teen verandering. Maar lees verder: dis bloot omdat ons ’n sekere mate van gemak en veiligheid binne ons gevestigde roetines ervaar, selfs al doen dit ons glad nie goed nie. Navorsing deur Robert Kegan en Lisa Lahey het bewys dat selfs ons mees passievolle toewyding aan ’n bepaalde verandering uiteindelik uitgebalanseer word deur ’n ewe sterk botsende toegewydheid om nie te verander nie, oftewel ’n “competing commitment”.
Vra jou af: Wat keer my om my doel te bereik? Schwartz gebruik die voorbeeld van e-posse wat jou gedagtegang voortdurend onderbreek – is dit dalk omdat jy altyd vir mense beskikbaar wil wees? Besluit nou wat dit is wat jou keer om by ’n dieet te hou/meer georganiseerd te wees/te begin oefen.
“Identifiseer jou competing commitment en besluit dan hoe jy dit kan aanpak sodat jy die verlangde voordele kan kry terwyl jy terselfdertyd die vrese minimali-seer wat verandering meebring.”
In hul boek Change Anything: The New Science of Personal Success (Kerry Patterson, Joseph Grenny et al) identifiseer die skrywers ’n hele klompie tegnieke wat verandering makliker maak. Hier is vyf wat jy in feitlik enige situasie kan toepas.
Identifiseer maak-of-breek oomblikke
Of dit nou in jou werksdag is, of met daardie dieet wat net nie werk nie, elkeen van ons het sulke oomblikke. Jy ken daardie dae wanneer dit voel of jy niks uitgerig het by die werk (of met jou nuwe eetplan nie). Gaan kyk wat saboteer jou. Dalk trek jou e-pos voortdurend jou aandag af – sit dan spesifieke tye uit wanneer jy e-posse antwoord (soos net elke twee uur). Kry jy net nie weer gefokus ná koffie met jou kollegas nie? Iets soos ’n dieet sneuwel ook dikwels omdat ons nie die maak-of-breek-oomblik-ke herken nie. Is vars brood jou swak? Moet dan nie op ’n leë maag verby die bakkery stap nie. Sodra jy weet wat joune is, besluit hoe jy dit gaan verander. (Rehabilitasieprogramme vir verslaafdes gee altyd die raad om mense, roetine en selfs plekke te vermy wat jou na die bottel of dwelms kan laat gryp. Doen dieselfde, of dit nou in jou loopbaan of met ’n dieet is.)
Omring jou met die regte mense en dinge
Sny negatiewe mense (en dinge!) uit jou lewe – of dit nou in jou persoonlike lewe is, of by die werk. Volgens Dorie Clark, Amerikaanse skrywer van Reinventing You en Stand Out, reageer ons op ons omgewing – moenie toelaat dat mense joune vergiftig nie. As jy ’n klomp gewig het om af te skud, bestee (al is dit ook net totdat jy immuun voel teen verleiding) meer tyd saam met die mense wat jou gaan help om maer te word en minder met jou vriendin wat jou verseker jy (en jou ekstra 20 kg) is pragtig nes jy is terwyl sy vir jou koek aandra.
Skep die regte strukture
Sukses gaan nie net oor wilskrag nie, maar meer dikwels oor struktuur. Vestig nuwe gewoontes, sorg dat daar niks verbode kos (of sigarette, as jy wil ophou rook) in jou kaste is nie en vermy ou kuierplekke as dit moet.
Naby of ver?
Afstand speel ’n groot rol in ons lewe, en studies bevestig dit. By die werk raadpleeg jy makliker ’n kollega wat op dieselfde vloer as jy werk, en jy sal meer waar- skynlik oefen as jou oefenapparaat in jou kamer is eerder as in die motorhuis (of in die gim kilometers van jou huis af). As daar koekies op jou lessenaar is, is dit meer waarskynlik dat jy dit sal eet as wanneer jy eers moet opstaan om dit te gaan haal. Kyk krities na dit wat jy wil aanpak en hoe afstand ’n rol speel in jou mislukking. As jy by die werk net nie kan ophou loer na facebook nie, bêre jou foon in ’n kas ver van jou lessenaar af sodat jy elke keer moet opstaan.
Dring aan op goeie, deeglike terugvoer
As jou baas sê hy is nie tevrede met jou verslag nie, moet hy duidelike riglyne gee oor hoe jy dit kan verbeter. Dieselfde geld enige groot projek, ook ’n eetprogram. Moenie jouself paai met vae antwoorde en riglyne nie – vra en lees totdat jy die regte antwoorde kry.
Die eerste Dertig Dae
In haar boek The First 30 Days skryf Ariane de Bonvoisin dat daar bewese maniere is om enigiemand deur verandering te help. Of dit nou egskeiding, ’n nuwe werk, ’n stryd teen siekte of ’n nuwe baba is, of iets soos om gewig te verloor of op te hou rook. Wat ook al jóú uitdaging, De Bonvoisin meen die eerste dertig dae is die belangrikste fase in enige verandering.
“Die eerste paar dae en weke is dikwels die moeilikste, mees emosionele tyd. Dis wanneer ons die meeste vrae, emosies, vertwyfelings en vrese het, en wanneer ons sekere besluite moet neem. Dis ook die tyd waarin ons die meeste rigting, inligting en ondersteuning nodig het.”
De Bonvoisin meen suksesvolle verandering is moontlik as ons nege beginsels volg.
1 Ontwikkel ’n positiewe ingesteldheid – nie net teenoor die lewe nie, maar ook teenoor jouself.
2 Glo dat verandering altyd ’n positiewe kant ook het.
3 Ons almal het ’n “veranderingspier”. Dis wat ons deursettingsvermoë gee, sterk maak en in staat stel om selfs die grootste krisis te oorleef. Die eerste stap is om joune te ontdek en aan jouself te erken dat jy sterker is as wat jy dink jy is.
4 Leer dat die uitdagende emosies (sy noem dit “veranderingsdemone”) wat jy gedurende verandering voel, jou nie hoef te stuit nie, maar jou kan lei tot positiewe emosies wat jou beter sal laat voel. Sy identifiseer hierdie veranderingsdemone as vrees, twyfel, ongeduld, blaam, skuldgevoelens en skaamte. Ondersoek dan die oplossing vir elkeen (geloof, oorgawe, deursettingsvermoë, eerlikheid, vergifnis en eerbaarheid).
5 Hoe gouer jy die verandering aanvaar, hoe minder pynlik gaan dit wees.
6 Gebruik positiewe woorde en vrae en denke, en druk jou gevoelens uit. Verandering kan jou laat voel dinge is buite beheer – deur jou woorde en gedagtes bewustelik te verander, kan jy jou belewenis van die situasie begin verander.
7 Glo dat jy aan iets groters as jyself verbind is.
8 Omring jou met mense wat jou kan help, wat soos jy glo en wat die regte vaardighede het om jou deur jou verandering te help. Besluit wie jy in jou “span” wil hê, wees eerlik oor wat jy nodig het, en moenie bang wees om buite jou gewone sosiale kring hulp te soek nie. Kies mooi: soek jy iemand wat saam met jou in die put gaan klim, of iemand wat vir jou ’n leer gaan afgooi en jou uit die put uitpraat? As dit moet, verander jou omgewing, al is dit ook net vir ’n halwe dag of ’n dag – ’n nuwe plek gee altyd nuwe perspektief.
9 Doen iets, al is dit ook hoe klein. Ontwikkel ’n plan van aksie, volg dit en kyk mooi na jouself – dan sal jy vorentoe beweeg.
Lees ook: 10 dinge wat jy vanjaar kan doen om gelukkiger te wees