Die Franse woord “brûlée” beteken “brand”. Brûlée, soos crème brûlée en suurlemoen-brûlée-terte is ideale poedings, want jy kan dit maak lank voor jou gaste kom. Net die brûlée-deel moet op die nippertjie gedoen word, anders word die suiker sag en smelt.
STAP 1
Koop sommer ’n glasblaasvlam by ’n ysterwarewinkel, of gaps jou man s’n! Strooi ’n dun lagie suiker soos versiersuiker of strooisuiker oor die poeding en vee die rande van die bakkies skoon.
STAP 2
Sit die bakkies in ’n oondpan. (Die bakkies word baie warm, moet hulle nie optel terwyl jy brûlée nie.)
STAP 3
Beweeg die blaasvlam stadig en egalig oor die poeding tot gekaramelliseer. Indien jy van ’n dikker laag karamel hou, herhaal stap 1 en 2 eerder as om die suiker te dik oor te strooi.
Alternatief
– As jy nie ’n blaasvlam het nie, kan jy ’n nagereg soos crème brûlée direk onder die oondrooster sit. Die metode word nie aanbeveel wanneer jy terte met ’n kors wil brûlée nie, want die kors sal brand.
– Smelt andersins suiker in ’n pan oor matige hitte en laat karamelliseer tot ’n donker, goue karamel. Gooi oor die poeding en laat set.