Die gaarmaakmetode Bain-marie word gebruik om geregte wat baie eiers bevat en wat maklik kan skif (en daarom nie hoë temperature kan weerstaan nie) gaar te maak.
Eiers stol redelik vinnig by 63 °C – 66 °C, daarom is dit belangrik om die temperatuur laag en konstant te hou. Water hou die temperatuur eweredig sodat iets soos ’n vla syglad set en nie ná die bakslag soos roereiers lyk nie.
Doen dit so
1 Verhit die oond volgens die resepaanwysing en skuif die oondrak na die middel van die oond. Sit ’n afdrooglap onder-in ’n diep oondpan sodat die bakkies nie rondskuif nie en sit die bakkies op die lap. Vul die bakkies ²⁄³ met die vlamengsel.
2 Werk baie versigtig. Gooi genoeg kokende water in die pan om die kante van die bakkies ¾ te bedek. 3 Gebruik twee vadoeke en tel die oondpan baie versigtig in die oond, of sit die oondpan eers in die oond en vul dan met kookwater. Bak volgens die resep. Laat in die waterbad afkoel voor jy dit uitkeer.