Wat maak sosiale media anders?
Jou telefoongesprekke en geselsies wat andersins net hoorsê is, word hier op skrif bevestig. Jou lighartige of skewe woorde op facebook is net so “op skrif” as ’n kantoordokument met jou gedateerde handtekening daarop. Regter Esther Steyn het in 2012 selfs ’n uitspraak gelewer dat ’n maatskappy ’n hofbevel op Peter Odendaal se FB-bladsy kon bestel aangesien hulle hom nêrens in die hande kon kry nie.
Daarby is jou FB- en Twitterrekening allermins so privaat as wat jy dink. Privaatheid op die web beteken net jy beheer wié jou inligting sien maar nie wát hulle daarmee doen nie, en wie dit dán sien nie, sê die internet-regspesialis Paul Jacobsen van www.webtechlaw.com in Johannesburg. Jou vriende kan jou woorde en foto’s kopieer, plak, hertwiet, merk of na hul vriende aanstuur wat dit na húl vriende kan versprei – ’n uitkringverskynsel wat “going viral” genoem word. So vlieg jou inligting die wêreld oor en al is dit sonder jou toedoen, moet jy pa staan daarvoor.
Nog ’n probleem: jou woorde bly vir altyd in die openbare sfeer, want jy kan nie jou opmerkings van ander se FB of selfone afhaal nie. As jy daardie send-knoppie gedruk het, is dit so permanent soos die Taalmonument.
’n Selfs groter probleem: jou mening vlieg binne sekondes wêreldwyd. Daar is nie tyd vir herdink, bedink of perspektief gee nie. Probeer jy inligting beperk of regstel, kan dit juis vinniger loop. Dit staan as die “Streisand-effek” bekend en is vernoem na ’n voorval waarby die Amerikaanse aktrise en sangeres Barbra Streisand, die internet en ’n fotograaf betrokke was. Sy het in 2003 ’n hofbevel teen ’n fotograaf probeer kry om hom te verplig om sy foto’s van haar Malibu-strandfronthuis van die internet te verwyder. Tot op die dag waarop sy met regstappe begin het, het net ses mense daarna gekyk. Binne ’n maand daarna het 420 000 mense gaan kyk.
Teen dié agtergrond is dit duidelik hoe maklik jou e-kommunikasie die werkplek kan skaad – sy naam, sy omset, sy winste. Géén werkplek is verplig om werkers te behou wat die werkplek benadeel nie. Jou turf kan met reg sit.
1 Jy mag nie rassisme, politiek of geloof aanroer nie
Agtergrond
Jy is ywerig oor die DA, ANCYL, Lady Gaga of jou geloofslewe, en e-pos of twiet daaroor. Omdat jy nie beheer het by wie jou kommunikasie uiteindelik uitkom nie, kan klante, verskaffers of tenderpreneurs dit ook te lees kry, aanstoot neem en nie meer sake met julle wil doen nie.
Beter
Stuur net ’n e-posboodskap aan wat in pas is met die filosofie van jou werkplek.
2 Jy mag nie werkadresse misbruik nie
Agtergrond
Jy stuur grappies, menings, foto’s, skakels en berigte oor politiek, rasse, seks, godsdiens, gays en ander persoonlike maar omstrede sienings na jou vriende en kollegas se werkadresse en -selfone wat deur hul werkgewer betaal word. As jou e-pos oopgemaak word, kan húlle as medepligtig aan haatspraak en laster beskou word en in ernstige moeilikheid beland.
Beter
Vra jou vriende ’n slag watter soort grappies en so aan hulle graag wil ontvang, en op watter e-pos-adres of selnommer.
3 Jy mag nie lieg nie
Agtergrond
Baie van wat ons glo, is maar net menings, nie feite nie. Gestel jou baas het ’n nuwe SLK. Dit “bewys” nie dat hy maatskappygeld steel nie. Tensy jy toegang tot die onderneming se boeke het en dit kan bewys, mag jy net soos joernaliste, ook nie hoorsê as ’n feit oorvertel nie.
Beter
Moenie iets skryf nie, tensy jy dit werklik kan bewys.
4 Jy mag nie beledig nie
Voorbeeld
Twee werknemers het onlangs na hul werkgewers verwys as “two dumb brats running a Mickey Mouse business” en “a very ugly man with a dark soul”. Hulle is afgedank, en die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het die afdankings bekragtig. Karakter- en reputasieskending op sosiale media is net so onwettig soos in die koerant, van die verhoog af, of in die openbaar.
As jy niks goed kan sê nie, sê liewer niks. Nog veiliger: sê in elk geval niks.
5 Jy mag niks oor jou maatskappy verklap nie
Voorbeeld
Mellie van Reenen (skuilnaam) is onlangs onmiddellik afgedank nadat sy op haar FB-muur geskryf het: “Ons het ons gehaltebeheer-gradering gefaal. Ek is só ontsteld.” Al was sy opreg, was dit kosbare, vertroulike maatskappy-inligting wat aan haar FB-vriende, onder wie daar talle is wat by die opposisie werk, prysbedingingsvoordele by die supermarkte kon gee. Daarby kon dit onder haar vriendekring van meer as ses honderd mense die indruk wek dat die maatskappy derderangse produkte maak.
Beter
Alle inligting oor produksie, produkte, syfers, besoekers, klante, vennote, gaste, handelsgeheime, intellektuele eiendom, toekomsplanne, uitbreidings, afskaling, beplande veldtogte, enigiets oor gehaltebeheer, aankope, verkope, bemarking en strategieë en selfs oor die opposisie is buite perke. As julle dit nie op TV-nuus sou wou hê nie, bly stil.
6 Jy mag nie teister nie
Agtergrond
As jy telefonies of van aangesig tot aangesig flankeer of skerts, is dit privaat. Maar sodra dit op die internet verskyn, verskuif jy dit na die openbare terrein en word dit konkreet. Almal kan dit lees en verkeerd (of korrek … ) interpreteer. Dieselfde geld daardie e-possies om almal te herinner dat jy Tupperware/beskuit vir jou kind se hokkietoer verkoop. As ’n reël laat werkgewers nie toe dat personeel die werkplek as mark gebruik nie. Jou e-bemarking kan as bewys teen jou dien.
Beter
Moenie persoonlike e-pos en jou persoonlike sake na kollegas stuur nie – veral nie herhaaldelik nie.
7 Jy mag nie voorgee jy is iemand anders nie
Agtergrond
Buitestanders het FB-bladsye in Eugène Terre’ Blanche en Julius Malema se name geskep en namens hulle gepos en getwiet. Talle ander doodgewone mense is ook al so aangeval. Dit is bedrog om vir jou ’n skuilidentiteit te skep en namens iemand anders pornografie, haatspraak en meer daarvandaan te pos.
Beter
As jy namens iemand ’n bladsy skep, móét dit met sy toestemming geskied. Wees immers eerbaar genoeg om namens jouself te praat.
8 Jy moet kollegas se privaatheid respekteer
Agtergrond
Jy plaas ’n foto van hom en sy lewensmaat, of waar hy ooglopend dronk is, of nie sy beste beentjie voor het nie, en basuin so sy persoonlike keuses en private lewe uit. Dit kan hom in sy werkgewer se oë benadeel.
Beter
Vermy opmerkings en foto’s oor kollegas se geldsake, kinders, huwelike, verhoudings, persoonlike smaak, styl, familie, skole, opleiding, intelligensie, seksuele oriëntasie, ras, besittings, geloof, beginsels en so aan.
9 Jy moet jou grappies skoon hou
Agtergrond
Grappies oor blondines is nie vir die blondines so snaaks nie. Wat vir die een grappig, oorspronklik of insiggewend is, is vir die ander een skurf, soetsappig of beledigend.
Beter
Ken jou kontakte goed genoeg sodat jy weet wie waaroor sal lag. Oppas dus vir daardie gerieflike groepspos waar almal alles kry.
10 Jy moet jou maatskappy se goeie naam uitbou
Agtergrond
IT-maatskappye soos IBM moedig werkers aan om op hul profiele en blogs hul internetvernuf te wys. Dit is uitstekende gratis bemarking vir ’n maatskappy, mits sy werknemers entoesiasties skryf oor nuwe produkte waarvan hulle ook hou. Die teenoorgestelde gebeur natuurlik wanneer hulle skandes maak en negatief daaroor skryf.
Beter
Sê net die beste van jou kollegas en werk.
11 Jou e-profiel moet by die visie, missie en waardes van jou werkgewer pas
Agtergrond
Elri Marais (skuilnaam) ’n graad 8-onderwyseres, is gek na Steve Hofmeyr en het onlangs op ’n konsert saam met ’n groep vriendinne ge-flash. Iemand het ’n selfoto geneem en dit het blitsig versprei. Nie alle skooljuffrouens is engeltjies nie, maar as opvoeder is sy ’n skoon openbare beeld aan haar leerders en ouergemeenskap verskuldig. Werkgewers stel in die reël mense aan wat hul beeld sal uitdra en beskou facebook as een van die plekke waar hul beeld gebou of gebreek kan word.
Moenie stoute oomblikke op jou sosiale media verewig nie.
12 Jy moet gereeld huis skoon maak
Agtergrond
Jy kan nie keer dat ander hul riskante facebook-foto’s of onbetaamlike goed op jou muur plaas of platvloerse grappies na jou e-pos of SMS nie.
Beter
Maar jy kan dit verwyder. Gaan kyk gereeld na jou e-uithangplekke en verwyder alles wat ’n negatiewe beeld kan skep. En as iemand gereeld jou grense oortree? Maklik. Verduidelik jou situasie. Of sny hom uit: merk hom as junk mail, on-bevriend hom, gooi hom van jou LinkedIn-profiel af, ontvolg sy Twitter, blok hom op jou WhatsApp en so aan.
13 Jy moet jou vriende kies
Agtergrond
Sherilene Jacobs (skuilnaam) het onlangs op ’n Vrydag siekteverlof geneem maar toe op haar muur ’n selfoonfoto geplaas waar sy om middernag heerlik dans. Van haar kollegas het deur gemeenskaplike vriende haar foto te siene gekry en dit Maandag aan die personeelbestuurder gewys. Sy is ontslaan.
Beter
Gee net werklike vriende toegang tot jou facebook, en kies selfs onder hulle wie wat mag sien. Oppas vir aflaaifoto’s van jou selfoon na jou openbare muur. Sit riskante foto’s in ’n album en spesifiseer wie dit mag sien. Met “anyone”, “friends of friends” en “only friends” het jy geen privaatheid nie.