Stel jy outomaties ander se welsyn bo jou eie? Jy kan ‘n sogenaamde Volwasse Kind wees. Hier kan jy meer oor die verskynsel lees.
Kleintyd al was jy verantwoordelik, betroubaar. Nou is jy ’n volwassene met ’n huis, ’n werk, dalk ’n gesin. Vreemd genoeg het jare se verstandige optrede jou nie voldoende voorberei op die grootmenslewe nie. In spanningsvolle situasies voel jy dikwels soos ’n kind: kwetsbaar en asof jy nie régtig die paal haal nie.
As jy boonop voortdurend die behoefte het om jouself te verbeter en onwillekeurig verantwoordelikheid aanvaar vir alles en almal, is jy tien teen een ’n “volwasse kind”.
“Sielkundiges het die begrip volwasse kind jare lank gebruik om die kinders van alkoholiste te beskryf,” sê Judy Klipin, Martha Beck master life coach van Johannesburg. “Omdat een of albei ouers nie behoorlik in die volwasse wêreld kan funksioneer nie, dra dié kinders van jongs af ’n reuseverantwoordelikheid op hul skouers. Hulle neem praktiese take en ander verantwoordelikhede by hul ouers oor en kan nie net sorgvry kind wees nie. Hul onvoorspelbare omgewing skep angs. Hulle weet dikwels nie wat om volgende te verwag nie. Baiekeer beskerm die gesin alkoholiste teen die buitewêreld, wat die las van geheimhouding op gesinslede lê. Hierdie faktore beïnvloed die manier waarop sulke kinders hulself en die werklikheid sien. Hulle voel dikwels hulle moet onfeilbaar voorkom, dis vir hulle moeilik om ander te vertrou, en hulle kry swaar om hulp te vra. Hulle kan in hul kinderjare nie kind wees nie, en voel as volwassenes nie waarlik soos grootmense nie.”
Met haar werk met lewensafrigtingskliënte het Judy tot haar verbasing agtergekom dat volwasse kind-eienskappe nie net by die kinders van alkoholiste voorkom nie.
“Enigiemand wat opgroei in ’n omgewing wat onvoorspelbaar, ontwrigtend en op fisieke, emosionele of geestelike vlak chaoties is, kan só voel. Dit maak nie saak of dit net op kort termyn is, of wat die aard van die ontwrigting is nie. ’n Ma wat drie dae op die randjie van die dood in die hospitaal lê, ’n natuurramp soos aardbewings, depressie, finansiële druk in die huis, of om kosskool toe te gaan, kan hierdie uitwerking op ’n kind hê. Navorsers meen tot 80% van alle kinders beland een of ander tyd in ’n situasie waar hulle nie op hul ouers of primêre versorger kan vertrou nie en self die leiding moet neem. Eintlik dink ek die meeste mense kan hulle hiermee vereenselwig.
“Die belangrikste is om bewus te wees van die uitwerking wat sulke ervarings het. Kliënte sê keer op keer vir my hulle het altyd gedink húlle is die probleem. Dan gaan daar ’n lig op en hulle besef die ‘fout’ lê by die omstandighede waardeur hulle gevorm is.”
Eienskappe
Judy het haar waarnemings in haar selfhelpboek, Life Lessons for the Adult Child, saamgevat. “Omdat ek ’n lewensafrigter is en nie ’n terapeut nie, val die hoofklem nie op kliënte se verlede nie, hoewel ons kennis neem van die manier waarop dit hul beskouings en gedrag beïnvloed het. Ons fokus op die hede en gebruik hulpmiddels en tegnieke om hul interaksie met die werklikheid te verander sodat hulle ’n gelukkiger lewe kan lei.”
Sogenaamde volwasse kinders, sê Judy, is onbesonge helde. “Die Amerikaanse kundige oor persoonlike groei, John Bradshaw, som hul ingesteldheid op as other-centredness. Omstandighede dwing hulle vroeg-vroeg om beheer te neem van moeilike situasies en die beste moontlike uitkoms te probeer skep. Hulle is gewoonlik fyn waarnemers omdat hulle kleintyd geleer het om wakker te loop in ’n omgewing waar énigiets kan gebeur. Op die oog af is hulle onafhanklik, omdat hulle so vroeg al verantwoordelikheid vir ander moes dra en selfs konflik moes ontlont. Dit eis natuurlik sy tol.
“Hulle dra die angs en onsekerheid wat hulle kleintyd moes verdring, altyd saam. In sekere omstandighede, soos wanneer hulle ’n baas moet konfronteer, kom dit na die oppervlak. Baiekeer besef ander nie hoeveel innerlike spanning hulle ervaar nie. ’n Verlies aan beheer, soos ’n afspraak wat onverwags uitgestel word, kan hulle dramaties affekteer.
“Omdat hulle altyd lig moes trap, is hierdie mense dikwels ernstig en kan hulle nie sommer net spontaan pret hê nie. Hulle is bang om ligsinnig of onverantwoordelik voor te kom. Hulle kan ook ’n oormatige afhanklikheid van ander se goedkeuring hê en voortdurend wil voel dat ander hulle nodig het.
“Volwasse kinders is geweldig selfkrities omdat hulle as kinders gevoel het hul ouers se ongelukkigheid is op een of ander manier hulle skuld. Dit veroorsaak dat hulle hulself blameer as iets verkeerd gaan, maar as iets goeds gebeur, is dit bloot ’n gelukskoot of aan ander te danke. Hulle vertrou nie sommer dat goeie omstandighede sal voortduur nie, en weens ontnugterings in die verlede is dit vir hulle moeilik om ander te vertrou.
“Daarby is hulle meestal onseker oor wat ’normaal’ is. Dit lyk dalk of alle ander mense die mas opkom en ’n wonderlike lewe lei.
“Dis dikwels vir volwasse kinders swaar om die waarheid te praat. Toe hulle klein was, is hulle tien teen een gestraf wanneer hulle hul ouers se skandes of sosiaal onaanvaarbare gedrag uitgewys het. Hulle leer om feite so te plooi dat dit hulle in ’n beter lig stel of hul eie lewe makliker maak. Hulle is ook meesters in die kuns daarvan om die beste van ’n slegte saak te maak. Hulle sê gou: ‘Ag, dis nie so erg nie.’
“As kinders was hul enigste verweer soms om hulself emosioneel van hul omgewing af te sluit. Later kan dié verdedigingsmeganisme tot afgestompte emosionele belewenisse lei, wat nie net minder leed nie maar ook minder lewensvreugde beteken.
“Ongelukkige gesinne skep ironies genoeg dikwels getroue gesinslede. Baie volwasse kinders is intens lojaal en bly hoop dat omstandighede beter sal word as hulle net die regte dinge kan doen. Hulle verskoon ander se swak gedrag en bly in verhoudings of werksituasies wat hulle lankal nie meer goed doen nie.
“Intieme verhoudings kan ’n groot uitdaging wees. In ongelukkige gesinne ontbreek goeie rolmodelle en ongekompliseerde verhoudings. Dit kan uitloop op die ‘I want you – go away’-sindroom. Volwasse kinders het ’n behoefte aan nabyheid, maar die vrees vir verwerping of teleurstelling is so groot dat die gewone onplesierighede in ’n verhouding hulle kan laat oorreageer.”
Fisieke simptome wat volwasse kinders kan ervaar, sluit gespanne skouers, hoofpyn, lae rugpyn, gastro-intestinale stoornisse, verkoue en griep, slaapprobleme, lae energie en moegheid, allergieë en sinusitis, en seksuele disfunksie in.
Dis belangrik om te besef dat die meeste volwasse kinders net sommige van bogenoemde eienskappe het, en dan in verskillende grade. Dit kom dalk net op sekere lewensgebiede voor, soos by die werk of in familieverhoudings.
Daar is hoop
Maar die volwasse kind-prentjie is nie net donker nie. “Om ’n volwasse kind te wees, bring sy eie gawes. Hulle is dikwels insigryk, intuïtief, sensitief, empaties, betroubaar, innemend, vrygewig en kreatief. Oënskynlike swakhede kan ’n positiewe keerkant hê. Mense wat alles tot op die laaste oomblik uitstel, werk vinnig en deeglik onder druk. Fyngevoeligheid wat jou soms dreineer, maak van jou ’n doeltreffender terapeut of afrigter. My werk met volwasse kinders het my gewys hulle het ontsaglike potensiaal en dat hulle dikwels ’n enorme bydrae tot die samelewing lewer. Hulle moet hulself net deur ’n ander bril kan bekyk.”
Hoe gemaak as jy dink dat dié skoen jou pas?
“Dis my passie om volwasse kinders te help om hul lewe te normaliseer,” sê Judy. “Ons werk byvoorbeeld met die kwessie van keuse. Kinders het geen sê oor waar hulle grootword nie – hulle moet die omstandighede eenvoudig aanvaar en aanpas so goed hulle kan. Volwassenes het keuses! Jy moet jouself net toestemming gee om te kan kies. Jy hoef nie, soos toe jy klein was, in ’n verhouding of ander situasie te bly wat jou benadeel nie. En as jy nie wil weggaan nie, kan jy sekere keuses uitoefen om jou funksionering binne die situasie makliker te maak.
“Soms is ’n nuwe perspektief al wat nodig is. Ek werk graag met jongmense as deel van sosiale ontwikkelingsprogramme, en het onlangs met ’n tienermeisie gesels wat ongelukkig was omdat sy weens groepsdruk ’n partytjie moes bywoon. ‘Wat sou die partytjie vir jou beter kon maak?’” wou ek weet. ‘Kan jy dalk ’n vriendin saamvra?’ Sy het onmiddellik opgehelder. Volwasse kinders dink dikwels nie daaraan om hulp te vra nie. Die gedagte dat jy alles alleen moet hanteer, is een van die onbewuste limiting beliefs of beperkende oortuigings wat volwasse kinders deel. Sulke oortuigings ontstaan as ’n selfbeskermingsmeganisme en is meestal ’n reaksie op ’n emosionele of fisieke wond uit jou kleintyd. ”
Kyk na jou oortuigings
“Ek glo bewustheid vorm nege tiendes van verandering,” sê Judy. “As jy agterkom dat ’n diep oortuiging eintlik net ’n belief is, en nie noodwendig die werklikheid weerspieël nie, kan jy anders begin optree. Van die beperkende oortuigings wat ek byna daagliks in my praktyk teëkom, is:
- If I were better, it would be better. Dit kan betrekking hê op ander se ongelukkigheid, swak verhoudings, toksiese werksituasies, selfs die toestand waarin die wêreld is. Mense dink: As ek maar net gewig kan verloor of meer liefdevol kan wees …
- Ek is nie goed genoeg nie. By volwasse kinders is dit nie net ’n vrees nie, maar ’n diepgewortelde oortuiging.
- Ek verdien nie om meer as ander te hê nie. As jy dalk ’n mooier huis en suksesvoller kinders as jou suster het, kan dit aan jou vreet.
- As ek vir myself opkom, sal ander my verwerp. Jy is liewer die minste as om ander te konfronteer.
- As ek nee sê, vra hulle my dalk nooit weer nie. Jy het goedkeuring so nodig dat jy instem om dinge te doen waarvoor jy nie regtig kans sien nie.
- As iets skeefloop, of as iemand my teleurstel, is dit my skuld. Jy soek verskonings vir ander en neem die volle verantwoordelikheid op jou skouers.
- Moet my nie vertel wat om te doen nie!
Hoewel dit streng gesproke nie ’n beperkende oortuiging is nie, is dit ’n algemene reaksie onder volwasse kinders. Hulle voel hulle moes lewenslank hul eie paadjie sonder hulp oopkap, en nou word daar vir hulle voorgeskryf.”
Life Lessons for the Adult Child bied oefeninge wat hierdie oortuigings kan help verander. Judy gebruik ook insigte uit Eric Berne se kommunikasieteorie, Transaksionele Analise, wat fokus op die drie egostate waaruit mense met mekaar omgaan. “Soms kommunikeer ons uit ons ‘Ouerstaat’, wat graag vir ander voorskryf en vir hulle verantwoordelikheid neem. Dan is daar ons ‘Kindstaat’, ons blootgestelde, angstige, verdedigende deel, en ons ‘Volwasse staat’, wat kalm, rasioneel en konstruktief kommunikeer.
“Kommunikasie uit jou Ouerstaat aktiveer maklik jou gespreksgenoot se Kindstaat, en andersom. Slegs wanneer jy uit jou Volwasse staat kommunikeer, is jy en die ander persoon op ’n gelyke vlak. Die doeltreffende gebruik van hierdie hulpmiddel kan volwasse kinders se lewe aansienlik gladder laat verloop.”
Eie aan die tradisie van lewensafrigting, waar merkbare veranderings in die manier waarop kliënte in die werklikheid funksioneer voorop staan, kan Life Lessons for the Adult Child volwasse kinders se lewe ingrypend raak. Dit kos inspanning; jy moet nie net die boek lees nie, maar die doen-dit-self oefeninge voltooi en die tegnieke toepas.
Die gevolge kan jou verras. Volwasse kinders is in die smeltkroes van moeilike omstandighede gevorm. Sodra hulle besef watter innerlike krag en besondere vermoëns uit hul ervarings voortgespruit het, kan hul lewe handomkeer verander. Die pad van ontoereikendheid na genoegsaamheid is dalk korter as wat dit lyk.
Lees ook: Die pad na selfhernuwing