Justin het die solo-uitstalling in samewerking met twee Albinotiese modelle, Thando Hopa en Sanele Xaba, gedoen om ná drie jaar met ‘n asemrowende foto-reeks die kunswêreld te betree. Deur dié reeks ondersoek Justin die estetika van albinisme* in teenstelling met die geïdealiseerde siening van skoonheid. Hy maak ook gebruik van verskeie soorte simboliek om die boodskap agter elke kunswerk te versterk.
Die reeks verleen ook sy uniekheid aan die wyse waarop Justin sy modelle benader het. Dit is veral kenmerkend dat elke foto hetsy vir Thando of Sanele ophef en ‘n gevoel van gelykheid skep. Dit dra by tot die algehele boodskap dat vooroordele rakende skoonheid afgebreek moet word ten einde almal oor dieselfde kam te skeer.
Hoewel Albus reeds wêreldwyd in verskeie galerye te sien was, is die volledige versameling op 17 Februarie vir die eerste keer in die kunsgalery van die Noordwes-Universiteit van Potchefstroom (NWU-Puk) uitgestal. Volgens Suen Muller, bemarkingskoördineerder vir Lizamore Galery, sal dié reeks ook binnekort volledig in Europa te sien wees.
Deur sy kunswerke hoop Justin om ‘n globale gesprekvoering oor die persepsie van skoonheid te bewerkstellig. Hy verduidelik ook dat hy veral deur Albus dit wat nie as beeldskoon aanvaar word nie, op ‘n geïdealiseerde wyse as beeldskoon wil voorstel.
“Ek wou ‘n reeks beelde skep wat by die mensdom aanklank vind en dit wat as aanskoulik geag word, laat bevraagteken,” het Justin gesê.
Albus is tot en met 8 April in die NWU-Puk kunsgalery te sien.
Volg Justin op sosiale media:
Instagram
Facebook
Twitter
Besoek sy webtuiste vir meer inligting. Klik hier.
*Albinisme raak elke etniese groep en word gekenmerk deur die ontoereikendheid van melanien wat die vel en haarkleur bepaal.