Deur Catherine Schenck. Foto’s verskaf.
June van Merch, bekend vir haar veelsydigheid in rolle van die 90s-komedie Fishy Fêshuns tot die onlangse drama Sara se Geheim en ’n indrukwekkende hoeveelheid genres en toneelstukke, rolprente en fims tussenin, verskyn eersdaags in ’n nuwe rolprent: Raaiselkind. Hierdie verhaal, wat gebaseer is op Annelie Botes se gelyknamige boek, handel oor ’n negejarige outistiese seun wat dood aangetref word. Sy ma, Ingrid, wat hom sy lewe lank versorg het en baie lief was vir hom, word van moord verdink. Die rolverdeling sluit in Diaan Lawrenson, Anrich Herbst, Deon Lotz, Neels Clasen en natuurlik June van Merch.
Jy vertolk die rol van Miriam. Vertel ons meer van haar.
Miriam is ’n diep gelowige bruin vrou wat ’n halwe leeftyd vir die gesin werk. Sy word voorgestel as geduldig, liefdevol, lojaal, vurig en ordentlik.
Hoe het jy voorberei vir die rol?
Ek het die rol op die verhoog sowat twaalf jaar gelede vertolk, so ek het net in die draaiboek ingevaar en my in die teks verdiep.
June van Merch op die stel van Raaiselkind
Van die ander akteurs saam met wie jy speel, het genoem dat hierdie van die moeilikste rolle was wat hulle al aangepak het – maar ook dat dit vir hulle belangrik was om dit te doen. Wat het jou gemotiveer om deel te wees hiervan en was dit vir jou ook moeilik?
Sally Campher, die vervaardiger, se visie en passie om ’n bewustheid te skep oor outisme was my grootste motivering. Nee, ek het dit nie moeilik gevind nie. Waarom sou ek? Miriam was klaar diep in my verwysingsraamwerk.
Wat, volgens jou, is die belangrikste boodskap in die rolprent?
Moenie oordeel nie.
Miriam is ’n baie belangrike karakter in die storie – beide vir die ander karakters maar ook in die groter prentjie van die rolprent. Kan jy uitbrei hieroor?
Miriam se doel is haar onvoorwaardelike aanvaarding van alles en almal … Sy is as’t ware die teenoorgestelde van wat in die blanke gesin en die gemeenskap om hulle gebeur. Sy hou uit en aan, sy oordeel nie, sy leef haar Christelike waardes uit. Haar interaksie met die outistiese seuntjie is ’n toonbeeld van diep verstaan en liefde.
Kyk hier na die lokprent. Raaiselkind begin op 16 Februarie 2018 in plaaslike fliekteaters draai.
Jy is al meer as 3 dekades deel van die Suid-Afrikaanse toneelbedryf. Wat dink jy kry ons deesdae goed reg? En wat wil jy nog sien gebeur in beide toneel en film in Suid-Afrika, en meer spesifiek in Afrikaans?
Elke era het sy tyd van opbloei en afbloei. Dit verbly my hart om te sien hoe die jong mense funksioneer en die ongelooflike kreatiwiteit wat hulle openbaar. Die oplewing in die manier waarop hulle met oop gemoedere die filmbedryf benader. Dit gaan vir my oor die hele beweging en die taal is nie ’n kwessie nie.
Ek het ’n bewondering vir die jong enterpreneurs wat die guts en moed het om te vervaardig.
Waaroor dink jy moet ons meer praat of wat moet ons meer verken in Afrikaanse drama?
Van my mou af sou ek sê die ongelooflike negatiewe invloed wat Apartheid op mense se lewens gehad het. Die afvat van hulle eiendomme, die feit dat mense nie plase kon besit nie, die inferieure skoolopleiding, die feit dat dokters van ander rasse nie toegelaat was om operasies uit te voer nie, dat blanke leerkragte “danger pay” gekry het as hulle by nie-blanke skolle ge-onderrig het, en so kan ek aangaan … Die erkenning van die diepte van daai leed is volgens my nie rêrig rêrig aangespreek en uitgebeeld nie.
Jy het twee pryse by die 2017 Silwerskermfees ontvang: vir beste vroulike byspeler in Raaiselkind asook beste aktrise in die kortfilm Vossie Vergas Homself waar jy saam met Tobie Cronje speel. Wat beteken hierdie pryse vir jou en waarom dink jy is feeste soos hierdie belangrik?
Ek was nog nooit ingestel op toekennings nie. Ek geniet my werk in daai oomblik en dan beweeg ek aan. As dit gebeur is dit ’n bonus. Feeste is seker belangrik vir networking en blootstelling.
June van Merch by die 2017 Silwerskermfees
Wat was van jou gunsteling-rolle wat jy al moes vertolk of gunsteling-opvoerings waarvan jy deel was?
Kinkels innie Kabel 1995 by die destydse KRUIK. Ek het Solina, die voorloper, gespeel en daar was musiek (organies nogal), sang, acting, alles, all in one. Dit was een Groot Plesier.
Watter rolle sal jy graag nog wil speel?
Ek is versadig.
Wat sal jy graag nog wil vermag?
Ek weet nie. Ek dink nog daaroor.
Waarmee anders is jy tans besig?
Ek doen Gesnaarde Gedigte saam met Hilandi du Toit vir die Woordfees. Ons is nou aan’t skrywe. Dis ’n opvolg van Gedig my Snaar, ’n musiek-gedrewe stuk met verskeie soorte kitare en beide selfgeskrewe en bekende gedigte.
Wat is die lekkerste ding wat jy al ooit vir ’n teaterstuk of film moes doen?
Daar was nog niks lekkers nie. Die rolle was nog te boring … As ek kon, sou ek wou perdry of speed boat ry. Enige lekker aksie!
Wat is vir jou belangrik?
Groei. Groei. Groei. Van die Self.
Een ding wat min mense van jou weet, is dat jy motorfiets ry en dit self regmaak. Waar het jy geleer om dit te doen en waarom geniet jy dit?
My pa het my geleer om dit te ry en om dit reg te maak. Wat ek die meeste geniet is die wind op my gesig – soos ’n hond.