Wanneer ma Franci ’n eight-track-kasset met countrymusiek in haar ou Cressida se kasset-speler laat gly het, het sy en haar twee kinders die lang paaie van Suidwes korter gesing. Mense soos Don Williams en Willie Nelson was Pieter en Juanita se “stemafrigters” en min het hierdie ma toe geweet haar kinders gaan nog in hul tuisland en Suid-Afrika groot naam maak.
Pieter Naudé is vier jaar ouer as Juanita du Plessis en hy was kleintyd die voorbok met stoutigheid, gee hy toe. Sy was die soet een, sê Juanita op haar beurt. Glo al haar huiswerk gedoen, maar as haar broer in grotte gaan rondklim het, of kettie geskiet het, was sy by. Hulle het karretjies gespeel en toertjies met sy fiets, motorfiets of rolskaatse gedoen. Waaghalsige dinge aangevang.
“My kleinsus was super cute, maar ’n regte tomboy, waarskynlik vanweë my invloed. Ook maar goed ons ma het nie altyd geweet wat ons aanvang nie. As ons iets nuuts soos rolskaatse gekry het, het ons gou mak geword en allerhande toertjies begin doen.
“Ons gunsteling was om ramps te bou. Dan laat ek Juanita op die grond lê en spring met enigiets – van die rolskaatse tot die fiets oor haar. Gelukkig het ek nooit op haar beland nie. Sy het darem ook ’n beurt gekry om oor my te spring, maar ek het nie so baie graag gaan lê nie,” sê hy laggend.
Juanita het haar broer van kleins af bewonder. Hy was en is steeds haar steunpilaar.
“Ons het soos enige broer en suster soms baklei. Maar as ander kinders iets oor die ander een durf sê, was daar moeilikheid. Ons is steeds so.”
“Hy was veel groter as ek en ek het ook maar geweet wanneer om my mond te hou en sou dit nie gewaag het om hom te boks nie. (Hoewel hy nou sê sy kan ’n barshou duik as hulle raakrugby speel … ) Maar meestal moes ons onsself en mekaar vermaak. Ons het lekker gespeel en baie dinge saam beleef,” sê Juanita.
Hul pa is dood toe Juanita maar agt was en hul onderwyseres-ma het die twee alleen grootgemaak. Hulle bewonder haar vir die manier waarop sy dit gedoen het. Juanita glo die beginsels wat hul ma hulle geleer het, hou hulle staande in die bedryf en het die grondslag vir goeie verhoudings gelê.
“Ek wens my kinders Danelle (16) en Sunita (13) kon grootword soos ons grootgeword het,” sê Pieter. “Die dinge wat ons aangejaag het, was skoon pret en nie die goed waaraan kinders vandag blootgestel word nie.”
Pieter is sommer in trane wanneer jy familiesake met hom praat. Hulle is baie na aan mekaar. Hul ma bly nou ook in Pretoria, hoewel hy sê Suidwes sal altyd in hul bloed wees. Toe Pieter onlangs ’n stryd teen breinkanker gevoer het, was die familiebande ’n anker. ’n Spinnekop het hom in 2006 gebyt en hy het daarna ’n epileptiese aanval gekry. Toetse na die oorsaak van die aanval het getoon hy het ’n breingewas met graad twee kanker. Die gewas is uitgesny.
“Toe kry ek vyf jaar later weer epileptiese aanvalle. Ek was so geskok toe ’n biopsie toon dit is graad drie kanker. Dit is nie maklik om sulke nuus te hoor nie. Ek was altyd ’n kind van Here, maar het nie van Sondagskool gehou nie, dit was lekkerder om te speel. Ek het geloofsbelydenis afgelê en alles gedoen wat verwag word, maar toe die dokter my die kankernuus gee, het ek opnuut my hart vir die Here gegee. Ek het met my kop op my arms gaan lê en gehuil en my aan God oorgegee.”
Die nuus was vir die familie ook ’n skok. Sy vrou, Esther, het onophoudelik gehuil. Juanita vertel hoe sy dae op haar knieë deurgebring het. Die gewas is uitgesny en hy het bestraling gekry.
“Ek was nog altyd dankbaar vir elke ding wat die Here vir my gee.” sê Juanita.
“Net as ek dink daar is nie nog seëninge wat na my kant kan kom nie, bring Hy nog vir my. Hy seën jou in klein en groot dinge. Maar mense dink verkeerdelik God seën sy kinders net met groot wonderwerke. Ons word soms beproef ook, want dit is wanneer jou geloof getoets word.”
Toe hy die tweede keer epileptiese aanvalle kry, het ek vas geglo dit gaan soos die eerste keer wees en dat dit nie groot gevaar inhou nie,” sê Juanita.
“Dit was ’n skok toe ons hoor dis graad drie kanker. Tog glo ek die spinnekopbyt ’n paar jaar gelede was God-gegewe, want anders sou hulle die eerste gewas nooit ontdek het nie.”
Pieter sê hy het met die tweede sarsie van die gewas van die begin af geweet God is in beheer en dat niks wat mense doen die kanker kan keer nie. Hulle moes net vertrou.
“Ons is deur ’n moeilike tyd. Ek het net heeltyd God se hand oor Pieter gebid,”
Pieter is nou ’n paar jaar skoon en hy dank God vir die genade wat hy elke dag ontvang. sê Juanita. “Ek is so dankbaar. Met my loopbaan gaan dit goed, maar nog nie so goed soos ek dit wil hê nie. Die siekte het my ’n bietjie teruggehou.”
Hy en ’n vriend het in hul jong dae ’n orkes gehad en Juanita en Doepie het saam’n orkes gehad. Mettertyd het hulle saam as Jupidu begin optree, Namibië platgetoer en op danse en troues gesing.
“Ek en Pieter verlang soms terug na daardie dae toe ons net ’n band kon wees en dinge minder gekompliseerd was. Ons onthou al die goed wat ons aangevang het en kan nou lekker daaroor lag. Ek wens soms ons kan net nog een keer as Jupido saam by ’n sokkie speel. Dit was lekker en sorgvrye dae,” sê Juanita.
Pieter sê die familie gaan sit soms om Juanita se kombuistafel en gesels oor die ou dae. “Dan onthou ons weer al die goed wat ons aangevang het. Nou kan ons lekker daaroor lag.”
Pieter het nie kon droom dat sy suster eendag so gewild sou wees nie.“Maar mettertyd het ek besef sy gaan Suid-Afrika toe trek en al haar drome gaan waar word. Ek het haar dit gegun.”
Toe hy haar Suid-Afrika toe gevolg het om by haar en Doepie in te val, het hy bly droom om ook hier naam te maak.
“Hy is talentvol en dit was vanselfsprekend dat hy suksesvol sal wees. Ek is so trots op hom en gun hom dit,” sê sy kleinsus.
Die band is duidelik heg en die gesinne kuier in die tye tussen konserte saam.“Ons is baie aktief en sal touch rugby of volley ball in die swembad speel, ons ry ook perd of rits op knorfietse,” sê Juanita.
Dis vir hulle lekker om ook hul geloof te deel. Pieter glo die lewe hou hulle op hul knieë en hul geloof hou hul voete op die grond.“My siekte het my tot stilstand gedwing en ek geniet elke oomblik van elke dag.
“Maar as ek nie my familie se ondersteuning gehad het nie, het my wiele afgeval.”