Een van die verrassende nuwe denkrigtings van die afgelope dekade is dat jou dermkanaal net so ’n sterk beheer oor jou gevoelens, sensasies en denke het as wat jou brein daaroor het. Jou dermkanaal is letterlik jou tweede brein. Die derm word ook so genoem: waar die brein as jou sentrale senuweestelsel bekend staan, word jou dermkanaal as jou enteriese (derm-) senuweestelsel beskryf.
Volgens hierdie siening is jou derm veel meer as die plek waar ensieme kos afbreek. Die mikroflora daarin is in werklikheid aktiewe, kosbare medewerkers wat ’n hele reeks molekules help produseer wat elke aspek van jou liggaam beheer.
Serotonien en jou derms
Om net een stof as voorbeeld te noem: serotonien. Jy ken dit as jou goedvoelhormoon. Mense met te min daarvan sukkel tipies met depressie. Psigedeliese middels soos LSD veroorsaak hul high juis deur baie ekstra serotonien in die brein vry te stel.
Waar kom hierdie serotonien vandaan? Nie van die brein, soos wat ’n mens sou dink nie. Sowat 90% daarvan word in ons dermkanaal gemaak. Hiervandaan werk dit ongelooflik wyd en op allerhande onverwagse maniere regdeur jou lyf. Neem beendigtheid, wat so ver verwyderd van depressie is as wat kan kom. Of so dink ons.
Volgens ’n artikel in die April 2015-uitgawe van die wetenskapjoernaal Cell, het muise met lae vlakke van serotonien in die brein ook osteopenia. Hulle bou dus min nuwe beenselle, en kan potensieel osteoporose ontwikkel. Toevallig – of dalk nie – is dit terselfdertyd bekend dat mense met depressie ook meer tot osteoporose geneig is.
Ander toestande wat teen sowat 2007 deur talle ondersoeke aan jou serotonienvlak verbind word, sluit in diarree (dink aan prikkelbare dermsindroom, hardlywigheid), bloedstolling (dink aan beroerte en hartsiektes), immuniteit, borsmelkproduksie, eetlus, libido, pyn op die maag, bloedsuikervlakke, diabetes, versadiging, oorgewig, ondergewig, vervette lewer, artritis, stres, dag-nag ritme en selfs sosiale status.
Wat het serotonien met jou dermflora te doen? Dit is juis die punt van hierdie Cell-artikel. Sekere soorte derm-organismes verbeter serotonienvlakke, terwyl ander dit verlaag. Die navorsing in muise het gewys dat muise sonder dermflora baie lae vlakke serotonien het, terwyl “goeie organismes” hul serotonienvlakke opstoot, en nadelige dermflora dit verlaag.
Daardie hol kol op jou maag of lekker gevoel van wel-wees begin presies waar jy dit voel … in jou buik, by jou dermflora.
Outisme
Net soos serotonien, word ’n hele aantal ander neurostowwe ook in die dermkanaal in samewerking met dermflora gemaak.
’n Rits uiteenlopende ondersoeke is aan die gang. Party klink vreemd maar lewer die allerverrassendste resultate, soos ’n klein ondersoek op 18 kinders met outisme wat in Januarie 2017 groot opslae gemaak het.
Sowat 70% van outistiese kinders sukkel ook met spysverteringsprobleme. Navorsers aan die Arizona State University wou kyk of hulle die probleem kan verlig deur fekale oorplanting van goeie organismes direk na die dermkanaal van hierdie kinders.
Die resultaat? Dit hét tagtig persent van die kinders se dermprobleme verbeter en op die koop toe ’n groot verskil aan hul gemoedstoestand, konsentrasie en 20 ander indikators van gedrag gemaak – die tellings hiervan het met 20% – 25% verbeter. Dit lyk asof ons letterlik so gelukkig, gesond én slim soos ons dermkanaal is.
Kan jy jou dermflora aanhelp?
Moet jy solank probiotika gebruik, tot daar meer duidelikheid is? Dit is immers die beste beskikbare mediese ingryping.
Volgens dr. Michael Conlon van die Australiese Organisasie vir Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsing (SIRO), is vesel die kortste en verreweg die beste pad na ’n gelukkige mikro-bioom (soos jou dermkanaal en al sy mikro-organismes saam genoem word).
“Ons het aanvanklik gedink die vesel in groente is hoofsaaklik growwigheid wat die noodsaaklike volume verskaf om die dermkanaal op die konkrete manier te help ledig.
“Ons besef nou dit gaan eintlik oor fermentasie. Veral sekere dermflora het die vermoë om vesel te fermenteer. In die proses vervaardig hulle ook kortketting-vetsure, soos butiraat, asetaat en propionaat. Ons begin nou maar eers insien hoe noodsaaklik en voordelig hulle vir jou gesondheid is.
“Al die wonderlike nuwe bevindings trek ongelukkig ons aandag van die basiese beginsel af: jou mikrobioom smag na vesel.”
Planne vir jou dermflora
1 Eet met elke ete groente. Dit is die heel beste strategie. Hoe groter die verskeidenheid, hoe beter vir jou dermflora.
2 Beperk suiker en meel. Dit laat die verkeerde bakterieë floreer.
3 Eet Bulgaarse jogurt. Dit is nog beter as jy jou eie maak. Enige gefermenteerde kos, soos kombucha, kefir en sauerkraut help jou dermflora.
4 Oefen gereeld maar matig. Dit klink dalk vreemd, maar oefening help, volgens navorsingsresultate van die Universiteit van Salerno, Italië, wat in Maart 2017 verskyn het. Maar moenie oorboord gaan nie, want dit verminder en verander ook jou dermflora.
As jy probiotika koop
Lees die etiket en maak seker jy koop nét goeie produkte.
• Die syfers
Vir trefkrag moet dit genoeg organismes bevat, bv. “een honderd miljoen”, “100 000 000”, “108” of “een miljard CFU’s”.
• Die spesies
Party bevat net een soort terwyl ander uit ’n kombinasie bestaan. Die CFU vir elke spesie moet soos hierbo wees.
• Die vervaldatum
Dit is nie meer doeltreffend daarna nie.
• Hoe moet jy dit bewaar?
Dis lewende organismes wat kan afsterf. Bêre en gebruik dit volgens die aanwysings op die etiket.