Ek het grootgeword met die gedagte dat daar sekere steun-pilare in ’n volwassene se lewe is,“ sê Elize*, enkelma van twee kinders in hul twintigerjare. “Jou bankbestuurder is een. As jy finansiële probleme het, is hy daar om jou te help. Die ander is jou dokter. Maar ek het op die harde manier geleer dat ek nie altyd op mediese steun kon staatmaak nie, juis toe ek op my kwetsbaarste was – toe my kind haar lewe wou neem.“
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }Elize se dogter, Noelene*, het vyf keer probeer selfmoord pleeg. Die eerste keer het Elize dit glad nie verwag nie. “Ons het kort tevore van die platteland na die stad verhuis. Noelene was destyds in graad tien. Ons woonstelletjie was klein en ek het haar snags hoor huil. Ek het haar na ’n algemene praktisyn geneem, wat antidepressante voorgeskryf het. Die dokter het my nie ingelig hoe hierdie soort medikasie jou in verskillende opsigte kan beïnvloed nie. Dit kan aanvanklik jou energievlakke opstoot, terwyl jou gemoedstoestand nog nie noodwendig verbeter het nie. Dit skep die ideale situasie vir ’n selfmoordpoging.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }“Sowat twee weke ná sy die medisyne begin neem het, het Noelene een aand die voubiljet met die newe-effekte sit en lees. Voor sy gaan slaap, het sy gesê sy is baie lief vir my. Ek het nie besef sy beplan om ’n oordosis pille te neem en dat sy besig was om van my afskeid te neem nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }“Die volgende oggend toe ek haar wakker maak, was sy deurmekaar en gedisoriënteer, en ek het nie geweet hoekom nie. Ek het die hospitaal gebel en die suster het gesê ek moet haar inbring, net vir ingeval. Toe ek die leë pilhouertjie kry, het ek besef wat aangaan. Die hospitaal het haar oornag vir waarneming gehou.
“Ek het Noelene na ’n pediatriese psigiater geneem. Hy het haar medikasie verander en sy het ’n pad met ’n goeie sielkundige begin stap.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }
Die vrae wat in jou kop bly maal, is: Wanneer doen sy dit weer? Wat as sy in haar doel slaag? Hoe gaan ek dit verwerk?
“Daar is soveel kwessies wat jy moet hanteer. Eerstens moet jy na jou eie gedrag kyk. In my en Noelene se geval beteken dit dat ek nie wil bydra tot haar spanningsvlak nie en dit dus nie kan bekostig om buierig te wees nie. Sy is sensitief vir ander se emosionele pyn en wanneer ek ’n moeilike werksdag gehad het, trek ek my gesig reg voor ek ons huis instap. Tog vra sy altyd onmiddellik wat fout is.
“Ek kry ook by tye sielkundige berading; dis nie maklik om met dié voortdurende spanning saam te leef en boonop te bly wonder wat jou aandeel daaraan was en is nie. In watter mate is ’n ma daarvoor verantwoordelik dat haar kind bly leef? Afgesien daarvan dat ek my kind diep liefhet en begeer dat sy hier is en lééf, het ek al hewig met hierdie vraag gespook.
“Familie begryp nie altyd nie omdat hulle nie in jou skoene staan nie. Jy moet iemand van buite hê by wie jy kan ontlaai as dit nodig word. Dis ook uitmergelend om heeltyd op jou hoede te wees sodat jy kan raaksien wanneer dit regtig sleg met haar gaan. Jy ontspan nooit werklik nie.
“Ek moes aanvaar ek kan nie oral bykom nie. Ek werk lang ure en kan haar nie dag en nag ‘oppas‘ nie. Ek het probeer! Dit was soms vir my so erg dat ek snags gaan kyk het of sy nog asemhaal. Die psigiater het by geleentheid vir haar gesê: ‘Jou ma remote control jou’ omdat ek haar pille vir haar gegee het en ander takies oorgeneem het. Sy is nou ’n volwassene wat self werk, en ek moes leer om meer verantwoordelikheid aan haar oor te laat.
“’n Kind wat emosioneel broos is, verg ook meer aandag. Ek weet dit lyk of ek haar ‘voortrek’ en meer toegewings maak as met haar broer. Dit kos fyntrap!
“Midde-in hierdie veeleisende leefwyse, en ondanks jou beste pogings, gebeur die ergste: sy probeer selfmoord pleeg. Jy gryp jou kind, laai haar in die motor en jaag hospitaal toe. Ons het ’n goeie mediese fonds en ek ry instinktief na die naaste private hospitaal.
“Die eerste keer toe hulle haar nie wou opneem nie, het dit my heeltemal onkant betrap. Nou weet ek sommige mense by private hospitale verkies dat so ’n pasiënt eerder na ’n staatshospitaal gaan. Een keer kon Noelene omtrent nie loop nie en ek het haar gesleepdra. Tog het die ontvangsdame my na die toonbank geroep en gesê ek moet eers R2 000 neersit, want die mediese fonds betaal nie vir hierdie soort behandeling nie.
“Ek het geleer om my skok en ontsteltenis oor die selfmoordpoging en die toestand van my kind in daardie oomblikke eenkant te sit en vir haar welsyn te baklei. Eerstens is dit lewensbelangrik om te sorg dat sy onmiddellik opgeneem en gestabiliseer word, en tweedens dink jy mos nie daaraan om jou kredietkaart te gryp as jou kind pille gedrink het nie. Derdens betaal die mediese fonds wel vir hierdie behandeling.
“Jy moet jou regte ken. Dring daarop aan dat sy gestabiliseer word en oornag gehou word vir waarneming. Moenie na ’n volgende hospitaal ry soos wat ek al gedoen het nie – jou kind se lewe kan op die spel wees. As hulle sê daar is nie ’n bed beskikbaar nie, moet jy maar kyk hoe jy dit kan hanteer. Daarby het dit ook al gebeur dat ek met die intrapslag gevra is om R2 000 neer te sit, dit nie gedoen het nie omdat hulle reeds my besonderhede op die rekenaar het, en dan later ’n gespesifiseerde rekening van slegs R1 200 gekry het.
“Ek loop die gevaar om te veralgemeen, maar my ervaring is dat daar ’n gebrek aan begrip onder personeel is wanneer dit kom by tieners wat probeer selfmoord pleeg. Party sal enigiets doen om nie ’n pasiënt in daardie omstandighede hoef op te neem nie. By een geleentheid moes ek hoor die spesifieke hospitaal aanvaar nie psigiatriese pasiënte nie. Agterna, toe ek op hul webblad gaan kyk, is psigiatriese behandeling as een van hul dienste geadverteer.
Party koop nie in op die idee dat ’n gemoedsversteuring ’n siekte is nie. My indruk was dat personeel soms dink hier is ’n stout kind wat met haar boyfriend baklei het en nou aandag soek. Sy mors hul tyd, terwyl daar mense met ernstiger mediese probleme is.
“Ek besef daar kan ’n mate van manipulasie wees, maar ons is almal soms skuldig aan manipulasie. Ek het dikwels gewonder hoekom hospitaalpersoneel iemand wat sy lewer deur oormatige alkoholgebruik vergiftig het, met vriendelikheid kan opneem en behandel, of iemand met diabetes wat vergeet het om haar medikasie te neem, maar ’n jongmens met ’n gemoedsversteuring verstoot. Dis tog nie in ’n groter mate self-inflicted nie. So ’n kind het die basiese instink om te oorleef, verloor. Daar is niks waarin hulle behae het nie. Dis so hartseer.
“Ek het een slag die psigiater gebel toe ’n hospitaal Noelene nie wou opneem nie, en hy het ingegryp. Die dokter aan diens was ontsteld en het my uitgetrap. Die psigiater het skynbaar gesê hulle moet ophou om sy pasiënte soos melaatses te behandel. Noelene is toe opgeneem, en ek is as ’n moeilike ma geëtiketteer.
“’n Wenk: as jou kind pille gedrink het en jy die dosie kan opspoor, kyk wat daarin is en probeer vasstel hoeveel sy gedrink het, en wanneer. Of haar maag uitgepomp moet word, word onder meer bepaal deur die aantal ure wat dit in haar liggaam was. Een keer het Noelene ’n epileptiese aanval gekry van ’n oordosis pille.
“As jy klaar baklei het en jou kind opgeneem is, is nabyheid belangrik. Altans, vir my kind was dit. Dan moes ek my tierwyfiekant verruil vir koesterende ma-wees. Dit het gehelp as ek styf teen haar op die hospitaalbed lê. Om die waarheid te sê: ek het reeds lank voordat haar depressie toegeslaan het, die instink gehad om fisiek ná aan haar te wees. Sy was al in die hoërskool toe het sy nog op my skoot kom sit. Dis was amper asof die lyfkontak haar aan die lewe hou, asof my lewensenergie deur die aanraking na haar stroom. Nou nog sal ek haar rug krap voor sy aan die slaap raak. Dis vir haar vertroostend.”
“Dit gaan nou baie beter met Noelene. Ek is verlig!“ sê Elize. “Ná haar eerste selfmoordpoging moes ek haar help om van nuuts af ’n slaaproetine te vestig. Sy was dwarsdeur die nag op haar selfoon en het sommer in haar klere geslaap. Ek het, soos met ’n klein kindjie, vir haar nuwe slaapklere gaan koop en haar saans in die bed gesit. Sy moes haar selfoon tot die volgende oggend vir my gee.
“Sy was by vier psigiaters en die vierde een het, behalwe die angsstoornis en depressie, ook aandagafleibaarheid by haar gediagnoseer. Toe het ek verstaan hoekom sy gespook het met haar studie en dikwels gekla het oor die lawaai in die klas. Dit was vir haar sensories onhanteerbaar. Sy drink medikasie daarvoor en dit help beslis.
“As dit met haar goed gaan, spreek sy die psigiater net elke ses maande, anders meer dikwels. Haar psigiater is knap en ek is hom oneindig dankbaar vir sy hulp; ook haar sielkundige wat haar uitstekend hanteer.
“Noelene moes leer om aanmerkings van haar maats oor haar medikasie te verwerk. Mense sê maklik: ‘Jy drink te veel pille. Jy moet jouself regruk!‘ Hulle besef nie altyd dat depressie ’n chemiese wanbalans in die brein is nie. Daardie pille is baie belangrik!
“Ek dink my kind is verby die stadium dat sy impulsief sal pille drink. Ek hoop so. Ek glo eerlik as jou kind 25 is, ’n normale lewe lei en nie in die tronk is of aan een of ander middel verslaaf is nie, het jy meer as genoeg rede tot dankbaarheid!”
*skuilname
Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…
Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…
Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…
Genoeg vir 6 Bestanddele 625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…
Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…
Hierdie webwerf gebruik koekies.