Dis natuurlik om die beste vir jou kinders te wil hê en hulle teen seerkry te wil beskerm. Daarom bekommer ouers hulle oor die negatiewe effekte op kinders as hulle skei. Hulle vrees dat dit kinders emosioneel sal raak en hulle skoolwerk, toekoms en lewensuitkyk sal beïnvloed.
Kinders gaan dikwels deur ’n rouproses na ’n egskeiding. Hulle mis die gesinslewe saam en die fisieke nabyheid van die ouer wat weg is. Hulle ervaar ’n verlies van die werklikheid soos hulle dit geken het. Daar is ook ’n verlies van ’n beskouing van die toekoms soos byvoorbeeld dat albei ouers daar sal wees met verjaardae, gradeplegtighede of troues.
Al toon die kind nie tekens van emosionele trauma nie, beteken dit nie dat die skeiding hom nie raak nie. Soms wil ouers hulself wysmaak dat kinders aanpasbaar is en onaangeraak gelaat word, maar die realiteit van die pyn van egskeiding kan nie ontken word nie.
Ouers kan so oorweldig wees deur hul eie pyn dat hulle (onbewustelik) nie emosioneel teenwoordig is vir hul kinders nie.
Jong kinders verstaan dikwels nie wat egskeiding is nie en in hulle kindergemoed glo hulle dikwels dat hulle dalk die oorsaak is. Die kind kan dink dit is omdat hy stout was of iets verkeerd gedoen het wat die ouers baie kwaad gemaak het.
In sy gedagtewêreld is hy bang dat as hy weer iets verkeerd sou doen, sal hy ook weggegooi word soos ma of pa mekaar “weggegooi” het.
Kinders kan simptome hê soos maagpyn, hoofpyn of naarheid en ouers kan dit nie altyd verbind met die hartseer van skeiding nie. Ouers moet sensitief wees vir die kind se vrese en behoeftes en luister wat in sy hart en gedagtes aangaan.
Vanaf 5–12 jaar kan kinders wys dat daar iets skort. Ontevredenheid, buierigheid en gedragsveranderinge kan voorkom. Daar kan ’n veranderde slaappatroon, sosiale afsondering en onttrekking of ’n oordrewe betrokkenheid by maats wees. Die kind doen dit sodat hy nie hoef te “cope” met wat by die huis aangaan nie. Die kind kan baie hartseer voel en huilerig wees of kortaf raak en kwaad wees, gou ontsteld raak en te veel of te min eet.
Tieners kan “traak-my-nie-agtige” voorkom, sosiaal onttrek of baie stil word. Party verloor belangstelling in aktiwiteite waaroor hulle voorheen dol was en ander raak oor-konsensieus en wil gedurig die ouer se goedkeuring hê.
Andersyds kan die kind woede en uitdagende gedrag toon en buite normale karakter optree of rebelleer. Daar is individuele verskille en ook verskille in hoe seuns en dogters egskeiding ervaar.
Kinders hoop dikwels (al noem hulle dit nie) dat die ouers weer bymekaar sal herenig. Soms sien die kind die ouers kom weer met mekaar oor die weg en dan vlam die hoop op hereniging op. Baie kinders het “sameswerings” om ouers weer bymekaar te bring.
Egskeiding konfronteer kinders met veranderings en aanpassings en dit moet met hulle bespreek word sodat hulle dit beter kan verwerk.
Om die las vir die kind ligter te maak, moet die ouer erken wat sy aandeel was in die verslegting van die verhouding sonder om onnodige en negatiewe detail te gee wat die kind kan ontstel.
Vermy dit om blaam te verskuif. Verduidelik “dit is waar ek fout gemaak het” en “dis waar jou pa/ma fout gemaak het”, en “dit is waar ons altwee verkeerd was.” “Ek moes beter gepraat/geluister het”; en “as ek nie so kwaad geword het nie, sou pappa/mamma nie so geskree het nie”.
Dit beteken nie jy moet jouself straf of verkleineer voor jou kind nie, maar erken die waarheid en sê dat jy daaruit geleer het en dat jy jammer is dat dit gebeur het. Jou kind moet weet jy aanvaar verantwoordelikheid vir jou aandeel.
Baie mense maak foute deur te veel te gou te wil doen. Dit is verstaanbaar as mens ’n nuwe begin wil maak soos verhuis of by ‘n nuwe kerk aan te sluit. Mens dink vernuwing help jou in jou helingsproses.
Vir kinders het dit die teenoorgestelde effek. Hulle soek stabiliteit en hou van die bekende want dit laat hulle veilig voel. Moenie huishoudelike reëls en jou verwagtings van jou kinders verslap nie. Jou nee moet konsekwent nee wees. Hou die roetine en reëls dieselfde, want kinders voel veilig as hulle weet wat van hulle verwag word.
Moenie jou eks verbaal aanval en afbreek voor die kinders nie. Selfs al behandel hy jou sleg of kom hy nie sy pligte teenoor die kinders na nie.
Sê eerder vir die kind dit is jammer Pappa het nie opgedaag nie en nooi die kind om te gesels oor hy gevoelens. Jy kan selfs saam met hom daaroor bid. Die Here het kinders gemaak om albei ouers nodig te hê en lief te hê. Elke keer as die ander ouer aangeval word, kan dit vir die kind voel dat hyself aangeval word, want hy is deel van daardie ouer.
’n Negatiewe effek hiervan is dat jou kind vertroue in jou eks kan verloor en ook in jou. Hy weet nie wie om te glo nie en voel verskeurd tussen die twee ouers. Dit raak die kind se vermoë om oor die lang termyn gesond te word.
As jou eks werklik verkeerd is en met sy optrede die kinders seermaak, kan jy nie vir sy optrede verantwoordelikheid neem nie. Jy kan nie namens hom antwoorde gee nie. Fokus op jou kind en hoe dit haar laat voel, eerder as om die ander party sleg te maak.
Die versoeking is daar om jou eks af te kraak. Jy wil moontlik hê dat die kinders aan jou kant sal wees, dat hulle jou standpunt sal insien. As jou eks sleg voorkom, lyk jy beter en is die kans groter dat die kind dalk eerder by jou sal wil bly. Dit is ook moontlik dat mens wil hê die kinders moet sien hoe die eks jou seergemaak het en hoe verkeerd hy was. Hou by die bepalings van jul egskeidingsooreenkoms. Jy hoef nie saam te stem met jou eks se lewensstyl nie, maar dit is nou sy verantwoordelikheid.
Moenie jou kinders van die ander party weghou nie. Sorg dat hulle gereed is as hy hulle kom haal. Moenie subtiel moeilik wees deur huiswerk wat nie gedoen is nie of ’n besoek van ’n maatjie as verkoning te gebruik nie. ’n Kind het kontak met beide ouers nodig as rolmodelle vir sy ontwikkeling.
Moenie jou kind gebruik om vir jou inligting te kry en te spioeneer nie. Dit plaas jou kind in die ongemaklike posisie om kant te kies. Sulke nuus kan tot jou ongeluk en spanning bydra. Jou kind is ook nie die boodskapper nie. Dit is ’n groot verantwoordelikheid en ’n te swaar las vir ’n kind. Praat liefs direk met jou eks.
Kinders raak bekommerd as hulle nie by die ander ouer is nie. Hulle is ook bang dat die ander ouer alleen en eensaam is. Dit gebeur veral as van kinders verwag word om te kies waar hulle wil bly.
Jy belas die kind met onnodige bagasie as jy te veel inligting oor die egskeiding met die kind deel en hom soos ‘n volwassenes behandel.
Moenie vir die kind vertel jy sukkel emosioneel en finansieël nie. Jy kan die kind laat voel dat hy vir jou ’n ekstra las is. Kry eerder ‘n ander volwassene of terapeut wat jy vertrou en teenoor wie jy kan ontlaai.
As die eks se gedrag die kinders enigsins in gevaar stel, moet jy stappe neem en die polisie en gereg betrek om hulle veiligheid te verseker.
Dit is natuurlik om jou kind te wil vertroos, maar wees versigtig om hom nie te bederf sodat hy dinge as vanselfsprekend aanvaar nie. Moenie met geskenke troos nie. Gesels eerder oor dit waardeur julle nou gaan en oor die hartseer en pyn. Leer jou kind dit wat gebeur verwerk en gee die beste raad wat jy kan.
Vertel jou kinders dat jy en jou eks hulle lief het en maak hulle bewus van God se liefde. Leer jou kind die krag van gebed en van ’n lewende verhouding met Jesus.
Vertel jou kind wat besig is om te gebeur en luister na sy vrese en bekommernisse en probeer sin maak daaruit. Ouers behoort hiervoor verantwoordelikheid te neem. Selfs al maak dit jou as ouer seer om met jou kind oor sy vrese te praat, moet jy onthou dat dit deel is van ouer-wees, en dit is deel van die morsigheid van egskeiding.
Tydens die egskeiding sal jy dalk bekommerd raak oor die kinders se welstand. Jy wil hê dat die kind se pyn moet ophou en dat die vrae en hartseer moet endkry. Jy voel dalk oorweldig en magteloos deur die warboel van emosies wat oor die gesin spoel en sien nie meer kans om emosioneel teenwoordig te bly vir die kinders nie. Kry liefs hulp van ’n terapeut.
Sulke hulp is ook nodig wanneer ‘n kind gewelddadig begin optree, haarself beseer, gedragsafwykings toon wat haar of ander in gevaar stel, of met die gereg kan laat bots.
Luister na jou kinders, bestee tyd saam met hulle. Weet dat hulle deur ‘n pynvolle, stressvolle en depressiewe tyd gaan.
Praat met jou kinders in elke nuwe ontwikkelingsfase en stadium van hul lewens. In elke fase is dit nodig om sommige van die dinge wat gebeur het te herleef en om daaroor te praat, om dit te prosesseer, sin daaruit te maak, te verwerk en te verstaan.
Probeer om nie te veel dinge aan te pak nie sodat jy genoeg energie het om tyd saam met jou kinders deur te bring. Twintig tot dertig minute per dag se ononderbroke aandag aan jou kinders sal vir die boodskap gee dat hulle vir jou belangrik is en dat hulle betekenis het vir jou as ouer.
Weet wat jou kind se liefdestaal is en weet ook wat haar geliefd laat voel en sorg dat jy iets daarvan elke dag vir en met jou kind doen.
Vrae wat na egskeiding deur jou kind se gedagtes gaan is: “Waar gaan ons bly?”, “Gaan ons genoeg geld hê?”, “Wat gaan van my word as pa/ma siek word?”, “Sal ek nog universiteit of kollege toe kan gaan?”, “Wat as ons trek?”
Bejeën hulle vrese en kommer met erns en luister na hulle.
Moenie jou kinders se gevoelens oordeel of afmaak asof dit niks is om oor bekommerd te wees nie. Hulle voel dalk onveilig weens die veranderde omstandighede en as ouer behoort jy hierdie gevoelens raak te sien, en as jy kan, ’n oplossing daarvoor bied. Jy kan byvoorbeeld sê: “Ons moet let op hoeveel geld ons spandeer en nie onnodige goed koop nie, maar ons sal met die geld uitkom”.
As die kinders nie by jou as ouer bly nie, kan jou eks dit dalk vir jou moeilik maak om die kinders te sien. As jy met iemand anders ’n verhouding het moet jy moeite doen om nog genoeg tyd met jou kinders deur te bring. As ’n ouer het jy ’n morele verpligting om in kontak met jou kinders te bly al voel jy die kinders kies kant teen jou.
Gee aandag aan die klein dingetjies wat belangrik is. Maak kontak op Facebook of met sms’e en e-pos. Laat weet jou kinders elke dag dat jy aan hulle dink en dat jy vir hulle omgee en wens hulle ’n lekker dag toe.
Jy en die kinders kan ook saam kerk toe gaan of op uitsappies gaan. Raak betrokke by die kind se skool. Dit is moeilik vir werkende ouers, maar daar’s baie naweekaktiwiteite by ’n skool waar jy jou hulp kan aanbied.
Maak seker jy maak die beste gebruik van jou beskikbare tyd saam met die kinders. Wees daar vir hulle al maak jou eks dit dalk vir jou moeilik.Wys jou kind jy stel belang in dit wat vir hom belangrik is.
Laastens, vertrou jouself, en vertrou God en wees verseker daarvan dat jy die beste ouer vir jou kind is.
Glo in jouself en dat jy ’n liefdevolle, meelewende ouer is en kan wees, en dat jy jou kinders kan bystaan en lei deur hierdie moeilike tyd van hartseer en pyn waardeur julle as gesin gaan. Weet ook dat jy die beste persoon is wat jou kind kan bystaan om ’n gesonde en blink toekoms te hê.
*Susan Eksteen is ’n huweliksberader en pastorale terapeut. Kontak haar gerus by 076 051 1455 of [email protected]