Wat is selfwaarde?
Ons het almal prentjies oor onsself in ons kop – dit word ons “selfbeeld” genoem.
’n Selfbeeld word van kleins af gevorm deur ervarings van die wêreld om ons. Selfwaarde is die waarde-oordeel wat ons oor ons selfbeeld fel en ’n belangrike deel van emosionele gesondheid. Selfwaarde sluit selfvertroue en selfaanvaarding in.
Halle Berry is tagtig persent doof in een oor nadat haar gewese man haar aangerand het. Helen Mirren was ’n “paar maal” die slagoffer van afspraakverkragting. “My lae dink van myself het nog altyd my keuse van mans – dikwels gewelddadige mans – beïnvloed,” sê Halle. Meryl Streep, Will Smith en wyle John Lennon, het almal erken hulle sukkel om hulself na waarde te skat.
Skoonheid of besondere talent is geen waarborg vir ’n gesonde selfwaarde of selfbeeld nie. “Selfwaarde het niks daarmee te doen of jy mooi of slim is of nie,” het Halle onlangs aan die New York Times gesê. “Dit hang alles af van hoe jy grootgemaak is, hoe jy as kind behandel is, en wie jy in jou lewe het.” Jane*, ’n 41-jarige bedryfsingenieur van Kaapstad, stem saam. Sy sê haar lae selfwaarde het haar ’n slagoffer van afspraakverkragting gemaak, iets wat haar byna laat selfmoord pleeg het.
“My ouers se huwelik was ook konflikbelaai en ek het altyd gevoel dat hulle oor my baklei. Ek was sieklik, wat druk op ons gesin geplaas het. Dit het erger geword toe puberteit my tref. My pa het my meestal heeltemal geïgnoreer, ongeag hoeveel sportbekers of akademiese toekennings ek gewen het. Ek was nooit goed genoeg nie.” Halle het meermale erken hoe naby haar lae sin van selfwaarde haar aan selfmoord gebring het. In 2004 het sy vir die Amerikaanse kletskoningin Oprah gesê “dat sy nooit, nooit weer in haar lewe gaan trou nie”.
“Vroue met lae selfwaarde is meer dikwels slagoffers van gesinsgeweld,” skryf die bekende Britse sielkundige dr. Linda Papadopoulous in haar boek The Sexualisation of Young People. “Dis ook ’n hoofrede waarom tienermeisies te vroeg seksueel aktief raak en alles in hul vermoë doen om kêrels te behou, selfs al raak die verhoudings onaangenaam, of word hulle in die proses mishandel.” Veral in Suid-Afrika kry vroue swaar. Die media is vol berigte oor eggenote of kêrels wat vroue wreedaardig vermoor, aanrand of verkrag. Ons het ’n kultuur van seksuele geweld waarin vroue die slagoffers van sosio-politieke woede en frustrasie is, meen die Sentrum vir Geweld en Versoening in Johannesburg. Wat is die gemene deler?
Jane dink die manier waarop kinders grootgemaak word en geslagsrolle in ons samelewing speel ’n groot rol. “Ek was agttien en op universiteit, toe ’n aantreklike, ouer student my uitnooi om ’n dag by ’n familie strandhuis deur te bring. Almal was verlief op hom. Ek was baie onervare en naïef en kon nie glo dat hy mý uitvra nie. Die strandhuis was idillies en ons het later die dag intiem begin raak. Toe dinge te ver begin gaan, het ek halt geroep.”
“Aanvanklik wou hy nie glo dat ek ’n maagd was nie. Hy wou my leer. Ek het voet by stuk gehou ek wil nie so ver gaan nie. In ’n stadium het ek regop gesit om te gaan. Hy het my net platgedruk en terwyl ek nog tot verhaal gekom het, was hy op my … Alles het vinnig gebeur. “Dit was ontsettend seer en ek het letterlik versteen. Ek het nie geskree of gespartel nie. Ek was net bewus van die pyn. Toe hy klaar was, het hy nonchalant gesê dat hy my nou gewys het hoe om ’n vrou te wees en gevra of ek dit geniet het.”
Jane was te skaam om enigiemand te vertel. Sy kon nie onthou of hy ’n kondoom gebruik het nie. In skok, seer, en vol angs het sy haar sosiaal onttrek. “My grootste vrees was dat my ouers of familie sou uitvind. Angs en skuld het aan my begin wurg.” Kort hierna het die paniekaanvalle begin en die swart hond van depressie het haar getakel. Sy het haar vinger in haar keel begin druk. Selfwalging het oorgegaan in selfhaat, totdat sy een aand vier uur lank met ’n huismaat se rewolwer in haar hande gesit het … “Iets het my daarvan weerhou om daardie aand die sneller te trek, miskien omdat ek kort tevore vir Koos ontmoet het.
Hy het sommer gou pront gevra: ‘Wat het met jou gebeur’?” Hy het haar gedwing om hulp te soek. Jane en Koos is al 14 jaar getroud en het twee dogters. Ná jare van psigoterapie, meditasie en joga, het Jane vrede gemaak met die lewe. Sy is opgelei as ’n verkragtingsberader en werk soms by ’n traumasentrum. “Om ander te help, help my.” Jane dink lae selfwaarde maak vroue meer kwetsbaar vir “gevaarlike en ongenaakbare mans”.
Meisies word grootgemaak om saam te stem, om mooi te lyk. Wanneer hulle sterk menings het, word hulle maklik as “aggressief” of “lesbies” uitgekryt. Toe Jane se dogters wou ballet neem, het sy gesê net as hulle ook ’n Oosterse gevegskuns neem. “Hulle moet hul man kan staan.” Sy glimlag wrang oor die idioom. “In ons huis slaan ons baie ag op hoe ons met mekaar praat.” Boeliegedrag van ’n man teenoor sy vrou, of broers teenoor susters, plant die saadjies van ’n swak selfbeeld. Meisies swig voor slegte ouens, want hulle ken hulle. Hulle het immers saam met hulle grootgeword.
“Hoe sterker jou dogter voel oor wie en wat sy is, hoe sterker word haar selfbeeld en hoe weerbaarder word sy.”
Kweek gesonde selfwaarde by jou kind.
Vertel haar haar familiegeskiedenis
Trek saam ’n familiestamboom op om haar ’n gevoel van kontinuïteit en verankering binne ’n wyer ondersteuningsnetwerk te gee.
Begin vroeg om haar positiewe mylpale te beklemtoon
Kinders wat negatief oor hulself voel, vergeet gou wat hulle reeds bereik het. Hou chronologiese plakboeke van haar tekeninge, eerste geskrifte, foto’s, belangstellings. Dis pret en vir kinders heerlik om deur oues te blaai.
Bepaal haar talente
Ontwikkel dit aktief en gee haar so ’n sin van vaardigheid.
Bepaal haar tekortkominge
… en werk doelgerig daaraan.
Skep familierituele
Dit versterk jou kind se sin van identiteit.
Help haar om ander te help
Mense wat ander help, is gelukkiger as mense wat net op hulself gerig is. Help jou kind om ’n welsynsgroep te “kies” en vir hulle geld in te samel. Jonger kinders kan koekies bak en verkoop, of ou klere insamel. Ouer kinders kan soms by die welsynsgroep gaan uithelp. Hulle sal verantwoordelik voel en trots daarop dat hulle iets vir iemand kan beteken.
Buitengewoon is goed
Moedig haar aan om haarself te wees. Baie ouers wil hê hul kinders moet inpas en nie uitstaan nie. Dit kan tot onsekerheid, swak loopbaankeuses, ’n tekort aan waagmoed en selfgeloof lei.
Leer haar besluit wat reg is vir haar
Haar drome mag nooit verydel word deur vrese oor wat ander van haar dink nie.
Moedig haar aan om by jeuggroepe buite skoolverband aan te sluit
’n Omgewingsgroep bring haar in kontak met die natuur, waar sy vaardighede en groepsamewerking kan aanleer.
Laat sy ’n boek oor haarself skryf, of dagboek hou
Dit help haar om haarself as unieke mens te definieer en van haar eie behoeftes en voorkeure bewus te word. Moedig jonger kinders aan om prentjies van hulself te teken en ’n lys te maak van dinge waarvan hulle hou en
nie hou nie.
Lees ook: ‘n Veiligheidsgids vir jou kind se eerste slimfoon