Sy regte naam is Jacques de Villiers (27), en jy kan nie anders as om hom met byvoeglike naamwoorde soos “vriendelik” en “innemend” te beskryf nie. Jy kan ook nie anders as om van sy spontane vriendelikheid en openlikheid te hou nie. Sy aanhangers is net so dol op hom, en sy opgang in die Afrikaanse musiekbedryf was blitsvinnig. Sedert hy op 17 Augustus 2013 sy eerste solo-album bekend gestel het, het hy al verhoë gedeel met van die grootste name in die bedryf. En nie soos voorheen as begeleier vir Bobby van Jaarsveld of Jak de Priester nie, maar as sanger uit eie reg. Binne maande ná sy debuut is hy bekroon met die Huisgenoot Tempo-toekenning as Beste Nuweling van die Jaar, en het hy ook twee Ghoemas gewen (as Beste Nuweling en vir Beste Kon-temporêre Album).
Hy het grootgeword op ’n plaas naby Walkerville, suid van Johannesburg, en sy oë blink as hy oor sy musiek, sy vrou Danél en sy familie praat. En oor God. “Ná skool is ek vir ’n jaar Bybel-skool toe. Ek het gedink ek wou ’n pastoor word, maar toe besef ek dat jy nie ’n dominee hoef te wees om iets vir die wêreld te beteken nie. Elke gesprek wat jy het, is eintlik op ’n manier kerk.”
Hoe het jy musikant geword?
My ma Riana is baie musikaal, so ek het in graad drie met klavierlesse begin en in graad vyf met kitaarlesse. Ek was op skool in ons kerk se musiekspan, maar musiek was vir my ’n stokperdjie. Ek het nooit gedink dit sou my werk word nie. Ek sou veel eerder iets soos wildbewaring of toerisme wou studeer, maar in my jaar by Rhema se Bybelskool het ek met jazz te doen gekry. Toe skryf ek in vir ’n graad in jazz by TUT. In my vierde jaar het die Universiteit van Pretoria my genader om as ’n deeltydse dosent hul sangstudente te begelei. Iemand daar stel my toe voor aan Jak de Priester, wat ’n begeleier gesoek het.
Jy het vroeg in jou loopbaan al ’n belangrike lewensles geleer …
’n Mens moet ja sê vir enige geleentheid wat jou loopbaan kan bevorder. Die betaling by Tuks was nie baie nie, maar as ek nie gegaan het nie, het ek Jak nooit ontmoet nie. Ek het die land vol gereis saam met hom, en baie van musiek en die bedryf en mense geleer, en ook hoe belangrik goeie menseverhoudings is. Daarna was ek ook vir ’n paar jaar Bobby van Jaarsveld se klavierspeler.
Waar kom jou verhoognaam vandaan?
Ek het op ’n dag besef dat soveel mense in verskillende stadiums van my lewe vir my gesê het ek moet gaan kyk wat Joshua in die Bybel gedoen het, watter pad hy moes stap … Ek het dit nooit regtig ernstig opgeneem nie, maar toe tel ek in my eerste jaar ’n naamplaatjie op waarop staan “live like living Joshua”. Dit het my getref en ek het oor Joshua gaan nalees. My verhoognaam het ontstaan uit twee dinge wat vir my baie beteken: my Joshua-roeping en reën. Ek is mal oor reën, maar het ook besef dat as ek nie toelaat dat dit oor my reën nie – of dit nou mense se liefde of swaarkry of blydskap is, of God se liefde – sal ek nooit soos Joshua kan wees en die mure afbreek wat om my hart gebou is nie. Dan sal ek tien teen een my doel hier op aarde mis.
Waar kry jy die idees vir jou liedjies?
In die seer tye van my lewe het ek geleer om dieper te kyk na dinge om my, en so kon ek leer om die mooi en egte dinge in die lewe raak te sien. Selfs al lyk dinge op die oog af hopeloos en donker, is daar altyd hoop, maak nie saak wat die situasie is nie. Mense se stories en die natuur inspireer my. Ek dink ook ons het onsself vervreem van dinge wat ons nie altyd met ons oë kan sien nie. Dis asof ons bang geword het om te veel te voel, uit te leef hoe ons voel, of selfs soms net om keuses te maak oor hóé jy voel. Ek glo die skoonheid van emosies is om ’n rede daar – daar is iets daarin om te kan voel en te kan wys. Anders gaan ons stadigaan in rekenaars verander!
Is daar ’n resep vir ’n goeie liedjie?
Ek weet nie hoe dit werk vir ander skrywers nie, maar ek ken nie so resep nie!
Wat is jou lewensfilosofie?
Hou altyd aan soek. Solank ons soek, dink ek ons is op pad in ’n goeie rigting!
Wie inspireer jou?
Ons en vriende kom op Maandagaande bymekaar en deel met mekaar wat in ons harte is. Ek sit keer op keer daar met oë vol trane. Daar is min dinge wat my hart so laat vlieg soos wanneer ’n mens tussen mense is wat jou toemaak met genade, na jou diepste seer kan luister en die mooi daarin raaksien, en wat meer opge-wonde raak oor die opwindende dinge in jou lewe as wat jy soms self is. Daar is iets besonders daarin om in emosionele naaktheid voor vriende te kan staan en sonder oordeel aanvaar te word. Gelukkig tog vir genade, want nie een mens op aarde is volmaak nie.
Jy voel sterk oor kwessies soos boelie. Hoekom?
Ek is op skool gespot dat ek gay is omdat ek nie rugby gespeel het nie, maar klavier en kitaar. Later begin jy dink dalk is almal reg oor jou. Dan besef jy dat die gespottery meer sê oor die spotters as oor jou – daardie oomblik van waarheid is wonderlik, maar die pad tot daar is baie swaar. Ek sal regtig graag met kinders by skole wil gaan praat oor boelie en verbale afknouery. Daardie dag toe van die mense wat my die meeste gespot het, skielik my pel wil wees en wil hoor hoe skryf ’n mens liedjies, was ’n wonderlike dag. Die musiekbedryf het my ook baie meelewing geleer, en dat jy nooit iemand op grond van voorkoms moet oordeel nie. Almal is net mense, en almal het ’n storie. Ons is almal vol foute.
Jy word een van die dae pa. Hoe voel jy daaroor?
Ek en Danél wil graag ’n paar kinders hê, maar dis iets waarmee ons God vertrou. Ons sal ook graag eendag ’n kind wil aanneem. Die Amerikaanse Christen-musikant Jason Upton het ’n liedjie vir sy dogtertjie geskryf wat my gevoel oor vaderskap nogal goed opsom: “Maybe you’ll be teaching us that what we’ve lost.”
Hoe voel jy oor sterstatus? Was dit wat jy verwag het?
Ek verstaan nog nie regtig die doel van roem nie, maar wat ek wel weet, is dat daar ’n groot verantwoordelikheid rus op mense wat ’n platform het. Ek dink wanneer jy jou stem gebruik vir dit waar-voor jy geroep is, kan dit lewe in droogte bring. Maar dit kan ook verwoesting en verdeeldheid saai. Sterstatus is vir my tot dusver ’n lieflike ervaring. Die mense wat jy ontmoet, wat sommer op straat met jou kom gesels en by wie jy dikwels iets leer … Dit sou nooit sonder bekendheid kon gebeur het nie.