Johnny Clegg – Ode aan die wit Zoeloe deur Ilse Salzwedel. Hooffoto: Shutterstock / Greatstock
In November 2017 kry rooi rose ’n uitnodiging om ’n laaste onderhoud met Johnny Clegg te voer voordat hy die laaste konserte van sy loopbaan aanpak. Die musieklegende is ernstig siek aan pankreaskanker, en beplan om die laaste maande van sy lewe aan sy gesin te wy. Ons joernalis, Ilse Salzwedel, beskryf dit as ‘n onderhoud wat sy nooit sal vergeet nie.
“Ons was agt joernaliste wat saam met Johnny middagete geëeet het. Ons kon enige iets vra, ook oor sy siekte. Wat opmerklik was, is hoe sy gesig opgehelder wanneer hy oor sy passies en liefdes gepraat het: sy musiek, sy gesin, sy land. Sy positiwiteit was aansteeklik, en het my met ‘n gevoel van hoop gelaat. Ons kán dinge hier laat werk, en ons kán die monsters in ons eie lewens die stryd aansê mits ons genoeg hoop en liefde het. Johnny was ‘n legende in sy eie tyd, ‘n man wat brûe gebou het met sy musiek, ‘n gesinsman en ‘n patriot. Die wêreld het ‘n ikon verloor.”
Johnny Clegg – Ode aan die wit Zoeloe
Die gewilde musikant Johnny Clegg, wat reeds twee jaar teen pankreaskanker veg, is besig met ’n laaste reeks optredes wêreldwyd. Ons was gelukkig om ’n onderhoud met hom te kry.
Johnny Clegg (64) se blou oë lyk vandag effens hartseer, en sy kenmerkende bos krulhare is yler, gryser en vreemd reguit, waarskynlik weens die intensiewe chemoterapie van die afgelope twee jaar.
Dis ’n warm lentemiddag, en ek en sewe ander joernaliste sit saam met Johnny om ’n tafel op die stoep van ’n Sandtonse hotel. Die okkasie is die aankondiging van Johnny se laaste wêreldtoer, gepas genoem The Final Journey. Niemand sê dit nie, maar ons almal besef ons beleef waarskynlik ’n stukkie geskiedenis, want sy publisiteitspan het ons gewaarsku dat die kans skraal is dat die ster ná vandag nog enige perskonferensies sal hou, of persoonlike onderhoude sal toestaan. Want die geliefde wit Zoeloe, soos hy die afgelope veertig jaar al bekend staan, veg die afgelope twee jaar reeds teen pankreaskanker.
Lees ook: SA-kunstenaars kom bymekaar om legende Johnny Clegg te vereer
Ná hierdie laaste musikale reis na al die uithoeke van die wêreld, gaan hy uittree. Hy wil die tyd wat hy oor het aan sy gesin wy en hopelik sy outobiografie skryf.
Dis duidelik dat vanjaar se tweede rondte intense chemoterapie en ’n groot operasie ’n kwaai fisieke tol geëis het van die man wat byna net so bekend is vir sy energieke Zoeloedanse as vir sy musiek. “Dis nou klaar. Hulle kan nie nog chemo doen nie,” vertel hy sonder om doekies om te draai. “Daarom het ek besluit om hierdie tyd waarin ek nog goed voel, te gebruik om tot siens te sê aan almal wat my op hierdie musikale reis ondersteun het.”
Maar, erken hy, dis nie maklik nie. Nie net op emosionele vlak nie, maar ook fisiek. Sy dunderm, galbuise en galblaas is reeds verwyder, en ook die helfte van sy maag en pankreas. “Ek voel nou goed, maar natuurlik kan enigiets enige dag verander. Die chemoterapie skep mos dikwels by ’n mens die illusie dat alles oukei is. Ek leef sedert my diagnose byna in ’n soort parallelle heelal, en dit het beslis gemaak dat ek dinge meer waardeer.”
Wanneer Johnny eers oor sy musiekloopbaan gesels, lyk dit of daar ’n lig in hom aangeskakel word. Sy oë vonkel, en hy lag maklik en hartlik wanneer hy staaltjies uit sy loopbaan deel. Sy entoesiasme laat ’n mens van die kanker vergeet, en jy dink net aan die merkwaardige visie, talent en vasbyt van die man voor jou.
‘Ek wou met my musiek wys ons is almal mense, ons sê almal dieselfde ding, net op verskillende maniere’
Hy het sy wêreldtoer sedert die begin van die jaar in fases aangepak. “Ek wil niks doen wat my fisieke toestand kan vererger nie.” Vir Johannesburg het hy ’n ekstra konsert bygesit, ’n klomp vriende genooi om die verhoog met hom te deel én kaartjiepryse verlaag sodat soveel moontlik aanhangers dit kan bywoon. Onderhandelinge was ook aan die gang om ’n konsert in die Jabulani-teater in Soweto te hou. “Dis immers waar alles vir my en Sipho (Mchunu) en Juluka begin het.” Hy was in standerd nege toe hy en Sipho die heel eerste keer in die Grootsaal by Wits opgetree het.
“Ek sal nog een maal graag daar wil optree, net vir my eie emosionele afsluiting.”
Wanneer jy hoor waar hy nog vir oulaas wil gaan optree, wonder jy tog oor die kanker. Asof hy gedagtes kan lees, antwoord Johnny dat die chemoterapie hom tot Januarie sal deurdra. “Maar daarna is dit niemandsland. Niemand kan sê nie. Al wat dan nog oorbly, is bestraling. Daarom wil ek nou doen wat ek kan. Maar daar is sekere goed wat ek nie sal kan doen nie – dit sal net te veel stres op my liggaam sit. Die onkoloog het gewaarsku die goed voel vanweë die chemoterapie is ’n ding wat gaan eindig. Maar wanneer ek eers op die verhoog is, voel dit asof ek vir ewig sal kan aanhou.”
Lees ook: Arno Carstens gesels oor sy Afrikaanse album, en om saam met Johnny Clegg op te tree
Hy is sigbaar emosioneel toe hy vertel van ’n optrede in Kaapstad waar die gehoor van sowat vierduisend mense hom staande toegejuig het toe hy op die verhoog stap. Hy sluk swaar, bly ’n oomblik stil. “I just choked up. Ek het nie geweet wat om te doen nie. Dis nogal ’n ontnugtering wanneer jy op ’n verhoog staan en dink dis dalk jou laaste konsert hier. Maar ek is dankbaar vir die veertig jaar wat ek gehad het om interkulturele musiek te maak, om met my musiek te wys ons is almal mense, ons sê almal dieselfde ding, net op verskillende maniere.”
Wanneer hy oor sy seuns praat, hoor jy die entoesiasme en trots. “Ek en Jesse het nou ’n liedjie saam opgeneem, en wanneer ons dit sing, kry ek terugflitse van hom as ’n driejarige wat op die verhoog stap, fopspeen in die mond en met my konsertina in sy hand.”
Jaron, sy ander seun, is ’n opgeleide rolprentmaker wat tans in Los Angeles werk. Hy was juis verlede jaar verantwoordelik vir ’n asemrowende konsep en video vir een van sy pa se liedjies.
Daar is nog soveel wat hy saam met sy seuns en Jenny, sy vrou van die afgelope 29 jaar, wil doen. Maar vir nou is dit hy en die aanhangers en die musiek. Vir oulaas.
Wie is Johnny Clegg?
Jonathan Clegg is 64 jaar gelede in Lancashire, Brittanje gebore. Sy pa was ’n Brit en sy Joodse ma van destydse Rhodesië. Sy ouers is geskei toe hy ’n baba was, en Johnny en sy ma het ’n paar jaar in Rhodesië gaan woon. Toe hy nege was, het hulle Johannesburg toe getrek.
Sy eerste kontak met die Zoeloe-kultuur was Charlie Mzila, ’n jong Zoeloeman wat woonstelle skoongemaak het en naby Johnny se huis op straat musiek gemaak het. Johnny het leer kitaar speel, en gou was die twee beste vriende.
Charlie het Johnny twee jaar lank Zoeloe geleer, en ook die beginsels van Zoeloe-musiek en -danse. Saam-saam het hulle al die mynwerkers se kuierplekke – van sjebiens op dakke tot mynkampongs – besoek om musiek te maak en te luister. Omdat die Groepsgebiedewet nog gegeld het, is die wit tiener dikwels gearresteer wanneer die polisie hom by die mynwerkers betrap het.
Ander kere is hy aangekeer omdat hy regeringseiendom betree het. Maar niks het hom afgeskrik nie, en sy reputasie as uitstekende maskandi-kitaarspeler het hom vooruitgeloop. (Maskandi is afgelei van die Afrikaanse woord “musikant”, en verwys na straatmusiek.)
Sipho Mchunu, ’n Zoeloe-trekarbeider wat net twee jaar ouer was as die 16-jarige Johnny, het van die wit outjie gehoor en hom uitgedaag vir ’n kitaarkompetisie. Dit het in 1976 tot ’n jare lange vriendskap en die stigting van die groep Juluka gelei.
Voordat Johnny voltyds begin musiek maak het, het hy ’n honneursgraad in antropologie aan Wits behaal en vier jaar daar en aan die Universiteit van Natal klasgegee. Dit was ongehoord vir ’n wit en swart musikant om saam op te tree, en die twee vriende moes baie rassisme, sensuur, intimidasie en verbale aanvalle verduur. By vertonings is hul motorbande dikwels stukkend gesny. Maar hulle het ’n platekontrak gekry, en die res is musikale geskiedenis.
Juluka het ses albums uitgereik en deur Amerika, Kanada, die Verenigde Koninkryk, Duitsland en Skandinawië getoer voordat Sipho in 1985 besluit het om na sy familiegrond in Zoeloeland terug te keer.
In 1986 het Johnny die groep Savuka saam met Dudu Zulu gestig. Savuka se styl was ’n mengsel van Afrika- en Keltiese musiek. Die groep was gou wêreldberoemd, en het binne drie jaar een miljoen kopieë van hul debuutalbum verkoop.
In 1990 het die Franse platebedryf hulle vereer as die groep wat wêreldwyd die meeste albums oor ’n tydperk van twee jaar verkoop het.
Maar in Suid-Afrika was hul musiek nog onderworpe aan sensuur – dis nie sommer op ’n radiostasie gespeel nie. Tog, vertel Johnny, het ’n stasie soos Bop-radio, wie se ateljees net noord van Pretoria in die destydse Bophuthatswana-tuislande geleë was, dit uitgesaai, en dit kon wel aan die Rand gehoor word.
In 1994, ná vier albums, is Dudu doodgeskiet toe hy probeer het om in ’n taxi-oorlog vrede te maak, en Savuka is ontbind. Johnny het hom hierna op ’n solo-loopbaan toegespits, maar in 1996 weer ’n Juluka-album saam met Sipho uitgereik. Daarna het hulle nog dikwels saam opgetree, en Sipho is ook genooi om by Johnny se laaste konsert in Johannesburg (gereël vir 11 November) op te tree.
Op 27 April 2012 is die Orde van Ikhamanga (Suid-Afrika se hoogste eerbewys) aan Johnny toegeken vir sy musikale baanbrekerswerk en die manier waarop hy rasseverhoudings deur sy musiek bevorder het. Hy is met vier eredoktorsgrade vereer (deur Wits, die UKZN en twee Amerikaanse universiteite). In 1991 het die Franse regering hom tot “ridder van kunste en lettere” geslaan, en in 2015 het koningin Elizabeth hom vereer met die gesogte Officer of the Order of the British Empire.
’n Onvergeetlike oomblik
Johnny se vertellings herinner ’n mens onverwags aan hoe ’n vreemde samelewing Suid-Afrika ’n paar dekades gelede was.
“Die liedjie ‘Asimbonanga’ het ons spesiaal vir Nelson Mandela geskryf, want onthou, destyds het mense nie eens geweet hoe hy lyk nie. Dit beteken letterlik ‘ons het Mandela nog nie gesien nie’. Destyds was dit verbode om selfs net ’n foto van hom te besit.”
Die liedjie het ook gesorg vir een van die mooiste staaltjies van sy loopbaan. “In 1999 is ons genooi om in Frankfurt in Duitsland op te tree. Ek het nie geweet Madiba het net agter die verhoog gestaan nie.” Halfpad deur die liedjie het hy onder luide toejuiging van die gehoor op die verhoog gestap. “Ek was so verbaas, want hoor net hoe gaan die mense oor ons liedjie te kere,” vertel Johnny laggend. Madiba het sy kenmerkende dansie gedoen terwyl Johnny sing, daarna met die gehoor gepraat en toe gevra of Johnny dit weer kan sing terwyl hy entoesiasties langs Johnny dans.
Hierdie artikel het oorspronklik in die Desember 2017-uitgawe van rooi rose verskyn.