Jo Black (35) is om die minste te sê fassinerend. ’n Mens vergaap jou aan die baie lang, maar baie netjiese (en sysagte!) baard en arms vol tatoeëermerke, maar as hy eers oor sy lewe begin gesels, besef jy gou: dis ’n besondere mens dié. Hy het vroeër vanjaar (2017) sy eerste album bekend gestel wat pas goue status bereik het, maar jongmense landswyd ken hom reeds die afgelope paar jaar as die man agter die BTG-projek. BTG staan vir Be That Guy/Girl, en op besoeke aan skole gesels Jo op sy inspirerende manier met tieners oor geloof, naasteliefde en die uitdagings van die daaglikse lewe. Tussendeur sing hy ’n paar liedjies in sy kenmerkende diep stem.
Hy is passievol oor dié bediening onder tieners. “Ek wil hulle inspireer om mense te wees wat ander soos iemand laat voel.”
Wanneer hy nie met tieners besig is nie, lei hy die lofprysingsgroep by sy kerk, en tussendeur sing hy in restaurante en kuierplekke. Dis juis by een van hierdie optredes dat Johan Vorster van Inhoud Huis (wat onder andere ook van Bok van Blerk en Lianie May sterre gemaak het) hom gehoor en besef het: hier is ’n talent wat Afrikaanse gehore sal betower. En nie net met sy stem nie …
Jou regte van is nie Black nie. Vertel ons meer van jouself?
Jo Black is ’n verhoognaam. Ek is eintlik ’n Engelbrecht wat in Pretoria-Noord grootgeword het. Ek het ná matriek begin werk en toe iets van alles gedoen. Ek was twee jaar lank chauffeur en lyfwag by die Libanese ambassade in Pretoria, en daarna is ek oorsee, waar ek ’n restaurant en later selfs ’n nagklub by ’n Sheraton-hotel in die Midde-Ooste bestuur het. In Bahrein en Katar het ek in die boubedryf gewerk en baie geleer – van die bou van brûe en hospitale tot paaie en huise. Terug in Suid-Afrika het ek my eie konstruksiemaatskappy gehad. Dit was taamlik suksesvol, maar ek het bly dink daar moet meer in die lewe wees as hierdie gejaag na wind, lang dae, en ure in die stadsverkeer. Ek het veels te min van my gesin gesien. Dit was nie ’n volhoubare leefwyse nie. Ek wou nie net werk om rekeninge te betaal nie, en verpes dit om in ’n boksie geplaas te word. My vrou, Debbie, is ’n kunsterapeut, en ons dogtertjies is vyf en agt jaar oud.
Hoe het Be That Guy ontstaan?
My boesemvriend op skool, Vaughan French, is in ons matriekjaar in ’n fratsongeluk by ons huis dood. Hy was ’n inspirasie, my Jonathan. Sy dood het my lewe en geloof tot in die fondamente geskud. Ek was nog altyd baie lief vir mense, maar ná daardie dag glad nie vir myself nie. Ek het op die verkeerde maniere aan die herinneringe probeer ontsnap. Toe, op 25, woon ek ’n mannenaweek by en hoor die storie van die verlore seun. Ek wou daardie seun wees. Meer nog: ek wou ’n Vaughan vir ander mense word. ’n Mens is geskape om sy hart te deel. Jy het nie net ’n Christelike plig teenoor jou naaste nie, maar ook ’n humanitêre een. Ek wou tieners bemagtig om “that guy of girl” vir iemand anders te wees soos wat Vaughan dit vir my was. Ek was al by meer as 170 skole, en skat ek het al met 130 000 kinders gesels.
Waaroor praat jy met julle?
Oor everyday heroes – mense wat elke dag ’n verskil maak. Ek leer hulle om die verskil te wees wat daar in hul wêreld moet kom. As jy nie vriendelikheid om jou sien nie, is dit dalk omdat jy ook nie vriendelik is nie. Ons land het hoop nodig en ons moet die hoop wees. Dit vat net een vonkie om ’n groot veldbrand aan die gang te kry.
Waarom dink jy vereenselwig tieners hulle met jou?
My verlede maak van my die mens wat ek vandag is, en daarom kan ek my vereenselwig met mense wat swaarkry of teen iets in hul lewe stry.
Jy kom uit ’n hegte gesin …
Ja, ek het twee broers en ’n suster. My oupa was ’n wonderlike man en hy het ’n groot rol in ons lewe gespeel. Sy kinders en kleinkinders is die heel belangrikste deel van sy lewe. Ons het almal gedurig daar gekuier. Hy is in Julie 2015 dood. Op 87 …
Daar is ’n storie oor jou oupa en jou baard …
Ek het my baard ná skool begin groei. Die dag toe kanker by Oupa gediagnoseer is, het ek en hy besluit hy moet syne ook laat groei om hom te herinner om teen die siekte te bly veg. Hy is in 2015 dood, die jaar toe ek die ambassadeur was vir Movember, ’n veldtog om mans oor kanker in te lig. Ek kan nie regtig vir jou sê hoekom ek so lief vir my baard is nie. Ek voel net gemaklik daarmee.
Van wanneer af sing jy?
Ek het op vyftien my eerste kitaar gekoop. Teen R126 – ek wonder steeds oor daardie vreemde bedrag … Ek het myself leer speel. Ek sing in kuierplekke en het ook ’n groep van negentien musikante by verskillende gemeentes in lofprysing en aanbiddingsdienste gelei. Maar deesdae doen ek net lofprysing in my eie gemeente, en ek wil nie eens sê in watter kerk nie. Daar is ek net ’n gemeentelid, nie Jo Black die sanger nie. Musiek is my hart, net met ’n melodie by.
Die video van jou liedjie “Skepe” is in die eerste paar dae ná die bekendstelling byna ’n miljoen keer gekyk. Hoe voel jy oor jou nuwe loopbaan?
Ek is nog ’n bietjie verstom oor die geleentheid om ’n album te kon maak! Ek en my vrou het lank nagedink en gebid. Oor wat die doel hiervan is. Want ek glo ’n mens moet ’n doel hê met alles wat jy aanpak. Jy moet jou hart deel en ’n verskil maak. Dit gaan nie vir my oor my eie sukses nie. Jy sal my sukses sien in hoe dit met die mense om my gaan, met my vriende en aanhangers.
Kyk hier na die musiekvideo van “Skepe”:
Al jou tatoeëermerke sorg nogal vir ’n bedrieglike voorkoms …
Ek hou daarvan om stereotipes nek om te draai. Mense verwag nie dat iemand wat so lyk ’n boodskap van hoop en liefde sal bring nie. Maar elkeen van my tatoeëermerke het ’n spesiale betekenis, of herinner my aan iemand spesiaal – die eerste vers van “Amazing Grace”, want ek wil myself herinner aan onverdiende genade; my dogters se name, met ’n prentjie vir elkeen: ’n hibiskus en ’n suikerbekkie. Ek het ook ’n portret van Oupa op my boarm laat aanbring.
Hoeveel het jy?
Baie! Maar ook nie te veel nie. (Hy lag.) Ek wou al van kleins af tatoeëermerke hê, maar het nog altyd gesê dit moet iets wees waarna ’n mens nog kan kyk as jy oud is. Ek sê altyd jou liggaam is die lewe se CV.
Het jy ’n boodskap vir ons lesers?
Wees lief vir jouself. Jy is uniek en dis genoeg. Hou op om jou met ander mense te vergelyk. Niemand sien ooit jou hart nie – tog is dit die enigste ding wat jy ooit werklik met mense deel.
Die man agter die Baard
Jo het ’n besondere mannebediening. Hy braai elke Vrydagoggend vyfuur vleis vir enigiets tussen twintig en veertig manne by ’n winkelsentrum in Montana, Pretoria. “Ek doen die braaiwerk en dan gesels ons sommer net.” Daar geld net twee reëls: niemand mag sê watse werk hy doen nie. “En jy praat nie op die braaier se hand nie,” skerts Jo. Die werkstorie is sy manier om die mans te laat besef dat wie jy is belangriker is as wat jy al bereik het. “Mans is mos vreemde wesens – hulle praat nie oor goed wat pla nie. Maar ’n braaivleisvuur breek die ys. Ons praat oor pa-wees, man-wees, oor daar-wees vir jou gesin, en meer nog, oor die noodsaaklikheid om teenwoordig te wees wanneer jy saam met hulle is.”
•
Hy glo dis belangrik dat mans praat oor hoe hulle hul-self sien, en hoop die gesprekke maak die mans meer bewus van die mense om hulle. “Almal is besig met een of ander stryd in sy lewe – so, wees daardie ou wat help waar jy kan.”
•
Jo glo ’n mens moet die lofbetuigings wat hopelik op jou begrafnis gehoor sal word, nou reeds uitleef. “Mense onthou jou vir respek, integriteit, lojaliteit en eerlikheid.”