Die Mount Nelson in Kaapstad se blink deure swaai behoorlik óóp toe ’n steeds rietslank Jo-Ann Strauss die oggend met ligte, selfversekerde tred op haar Christian Louboutin Redsoles ingestap kom. Almal groet hartlik. Sy is duidelik ’n ou (en geliefde) bekende in die statige hotel, net ’n paar minute van waar sy, haar man en nou ook hul babaseuntjie in Tamboerskloof woon.
Dis nie nodig om jou diepkyk-bril nader te trek om by die ware Jo-Ann uit te kom nie. Sy gesels dadelik met die spontaneïteit en gemaklikheid van ’n gebore kommunikeerder en kan kwalik haar vreugde oor haar eersteling verberg. Sy belowe die vrou wat haar tee bedien dat sy die klein mannetjie binnekort weer vir die personeel kom wys.
Op 33 was Jo-Ann, lewenslustige sakevrou en televisie-aanbieder, kennelik ryp vir moederskap; geborge in haar huwelik met die Duitse ortopediese chirurg, Michael Held, en met genoeg oorsese stempels in haar paspoort om ’n leeftyd te hou.
Dis die regte tyd vir ’n heel nuwe reis – een waarop sy haar met kenmerkende oorgawe en optimisme begewe het. Sy het skaars twee weke ná die geboorte ’n blog, Modern Mommy, begin en werk ook reeds aan ’n kinderklerereeks saam met ’n mode-ontwerper. “Ek wat so heeltemal niks van babas af geweet het nie, het mos nou binne drie maande ’n deskundige geword!” skerts sy.
“Môre neem ek juis weer swanger vriendinne om die regte inkopies te gaan doen voordat hul babas opdaag. Ek is mal oor daardie susterskap tussen jong ma’s.” Maar eers gesels ons skoene. Sy hét altyd ’n paar plathakskoene in die motor “net vir ingeval”. “Maar ek hóú van my hoë hakke.” En gelukkig is haar Duitse held – agt gelukkige jare in haar lewe – geseën met die nodige lengte om by te hou. “Ons troudag, twee jaar gelede in Kampsbaai, was ’n wonderlike dag in my lewe.”
Sy kyk weer af na haar skoene. “Hierdie skoene was peperduur, my geluk-jy-is-swanger geskenk aan myself nadat ek gehoor het ek verwag. Ek het immers geweet ek gaan vir ’n lang ruk nie my enkels sien nie!”
Die swangerskap en geboorte op 20 Maart, internasionale Happiness Day, het goed verloop. “Nie dat alles altyd maklik was nie. Ek het heelwat las van naarheid in die eerste en laaste trimester gehad. Maar ek kon darem nog tot op 37 weke my pilates-oefeninge byhou. En ons babymoon op ’n eiland – net ek en Michael en die lewetjie binne my – was onvergeetlik. Ek was só groots op my boepie!” Jo-Ann is gemaklik met haar openbare persona en dankbaar oor al die geleenthede wat dit vir haar gebring het. “Mense is meer geneë om jou by sakegeleenthede te betrek as jy reeds in ’n mate bekend is. Maar ek probeer ook oor ons gesin se privaatheid waak. Jy wil tog nie heeltyd in ’n vertoonkas lewe nie, soms net stil bymekaar wees. My man is meer gereserveer en ek respekteer dit. Hy het mos nie soos ek gekies om hom in die mediawêreld te begewe nie en dieselfde geld nou ons seuntjie. Waar ek voorheen meer geneig was om almal ter wille te prober wees, is ek deesdae versigtiger – ek het nie meer net myself om in ag te neem nie.”
Dis reeds 14 jaar gelede dat die grasieuse donkerkop wat al vir haar stylvolheid vereer is, as 19-jarige op ’n triomftog deur Blackheath se strate met blomme bestrooi is. Die gemeenskapsmeisie het almal wat haar ken eer aangedoen deur te wys wat in haar steek en die Mej. SA-kroon huis toe geneem.
In die jare wat daarop gevolg het, sou sy hulle ook nie teleurstel nie. Jo-Ann het gehou by die waardes waarmee sy as die enigste dogter van Johan en Ingrid Strauss van Blackheath grootgeword het. En sy het vasbeslote aangehou om die leer te klim wat deur die gesogte titel na haar toe uitgegooi is. Ná die onderbreking van ’n jaar as Mej. Suid-Afrika is sy terug Stellenbosch toe. Dit was nie eens ’n kwessie nie, sy moes haar graad (B.Com. Regte) gaan voltooi. Sy was op skool al ’n akademiese uitblinker en het matriek met ’n gemiddeld van byna 92 persent geslaag, ’n sonnige kind wat graag haar arms geslaan het om dit wat goed is.
“Ons was van die eerste bruin leerders in die Hottentots-Holland Hoërskool en my ouers was gesteld daarop dat ons ’n netjiese Afrikaans praat,” vertel sy met ’n glimlag. Vandag is sy ewe tuis in Engels en nou ook so gemaklik in Duits dat sy in 2010 met die Wêreldbekersokkertoernooi as medeaanbieder vir die Duitse TV-kanaal ZDF kon optree. Sy praat ook Xhosa en het dit as vak op skool gehad.
“Ek is grootgemaak met die idee dat enigiets moontlik is, mits jy bereid is om daarvoor te werk, want dinge kom nie op skinkborde na jou toe aangewals nie. Jy help jou maom ’n tutu te maak as dit is wat jy vir die ballet nodig het. Eintlik was ek op skool seker ’n regte nerd!” giggel sy vandag oor al die voorbeeldigheid en steek haar hand na nog ’n beskuitjie uit.
“Skuus, ek eet als op, ’n mens bly blykbaar constant honger as jy borsvoed.” Die besef dat dit ’n voorreg is om te studeer en jouself te ontwikkel, dat dit nie ’n vanselfsprekendheid is nie, het vroeg reeds ingeskop.
“My ma was en is steeds my grootste inspirasie. Sy het knap voor my matriek geslaag. Sy het nie die geleentheid gehad om haar vroeër beter te bekwaam nie. Maar sy het vir my en my jonger broer gewys wat dit is om deur te druk. Sy het elke aand ná ’n hele dag se werk eers vir ons kom kos maak voordat sy van agt tot tien aandklasse gaan bywoon het. Dit het ’n groot indruk op ons gemaak. Ek is baie trots op haar. “My ouers se ondersteuning, ook nou ná ons seuntjie se geboorte, is iets waaroor ek nooit dankbaar genoeg sal kan wees nie. Nadat ek gister vir Michael op die lughawe gaan aflaai het – hy is na ’n kongres in Frankryk – het ek hulle dadelik gaan haal om die muffins te kom eet wat ek nogals self gebak het.”
Sy lag oor haar pogings om nou meer van ’n huisvrou te prober wees vandat sy meer huisgebonde is. “My ma is ’n gee-mens, iemand wat dikwels ander se belange bo haar eie stel. Sy kom help my so een of twee dae per week – ek kan vandag ná ons afspraak net die baba gaan voed sodat ek nog ’n lekker middagete met vriendinne kan inpas. Dit help dat ’n mens nie so oorweldig raak nie. Noudat ek besef hoe ’n konstante verantwoordelikheid ’n baba is, tel ek ook my seëninge oor my man wat so betrokke is. Ek is liewer as ooit vir hom. Dit moet báie swaar wees om ’n enkelma te wees!”
Ná haar bevalling het hulle die koms van die seuntjie met ’n halwe glasie sjampanje en soesji in die hospitaal gevier. “En Michael het soggens by my kom ontbyt eet. ’n Kind maak jou weerloos, jy wil die kleine bondeltjie mos met alles in jou beskerm,” probeer sy iets verwoord van wat sy ervaar het. “Maar dit help om met sy pa daaroor te praat as ek my in die nag begin bekommer oor ‘wat as dit of wat as dat’.”
Jo-Ann is duidelik lief vir die mans in haar lewe. Haar broer, Heinrich, tans besig met ’n meestersgraad in rekenaarwetenskap, is weer haar regterhand wanneer sy die kuberruim betree. Albei is ewe verkennend en weetgierig oor die moderne wêreld se uitdagings. En hul pa, Johan, met sy regsagtergrond, is steeds ’n sterk invloed.
“Hy hou van argumenteer en het my altyd aangemoedig om my mening te lug en dinge te beredeneer. Ons sit soms behoorlik vas omdat ons albei sulke sterk persoonlikhede het, maar hy het my geleer om nie emosioneel te raak nie, dat dit beter is om dinge liewer uit verskillende hoeke te betrag om die geveg regverdig te hou!”
Mense het vroeg reeds besef daar steek potensiaal in die langbeen met die wakker, energieke manier van doen. Sy laat haar klaarblyklik nie sommer deur iets of iemand intimideer nie, en dit stel haar in staat om haar net so gemaklik in hoë geselskap te handhaaf as wat sy haar op haar hoë hakke kan balanseer. Sy dien in vier direksies, is ’n gesogte spreker en het by Pasella en Top Billing al onderhoude met mense soos George Clooney, Roger Federer en Richard Branson gevoer.
“Ek wou aanvanklik medies gaan studeer en was reeds gekeur vir die kursus toe ek in die hoërskool as hoofmeisie na Die Burger se jeugleierskonferensie in Muizenberg afgevaardig is. Dis daar dat Koos Bekker, toe hoofuitvoerende beampte van Naspers, my oortuig het dat ek dalk liewer ’n loopbaan in die media moet oorweeg.”
Sy sou nooit kon raai dat sy 16 jaar later in Media24 se direksie sou dien nie. Steeds toegerus met skoonheid maar ook die intellek en ruggraat van ’n ware uitblinker.
Toe sy in haar tweede jaar aan die Universiteit van Stellenbosch besluit om haar vir die Miss Teen SA in te skryf, het Michael Mol, later haar mede-aanbieder by Top Billing, haar aangemoedig om liewer om die Mej. SA titel mee te ding. “Hy het gereken ek is te volwasse vir die tienerkompetisie. Ek het my gelukkig laat ompraat – daar was mos darem ’n motor om te wen!” Nou moet sy weer ander sort ratte leer verwissel. “Ek het nog altyd gedink ek is goed met tydsbestuur maar ’n baba laat hom nie sommer dikteer nie. Ons kry wel soms ’n nagsuster maar verder slaap ek maar wanneer hy slaap. Ons baba (en ek) moet nou noord en voort!” slaan die vrolikheid weer deur.
“Ons kan nie wag om hom binnekort vir sy oupa en ouma in München te gaan wys nie. Hulle het hom tot dusver nog net saans op Skype gesien. Ek het hom reeds by die Duitse skool in Kaapstad gaan inskryf. Dis vir ons belangrik dat hy in albei sy ouers se kulture tuis moet wees. Michael is gelukkig ook lief vir ons land en bereid om soms moordende ure in staatshospitale te werk, maar buitelandse dokters is nie altyd welkom in ons land nie. Ons sal maar moet sien.”
Sy kyk na haar horlosie, voel laggend aan haar borste. Dit is weer baba se tyd. “Ag, daardie glimlaggie as jy in die oggend by hom kom! Hy het sy pa se oë …