kategorieë: Ons menseBekendes

Jo-Ann Strauss: deur die oë van my kinders

Jo-Ann Strauss en haar man, Michael Held, se tweede spruit is in April 2016 gebore en nes dit was met ouboet Noah, 28 maande, gaan Jo-Ann vir Hannah ook so lank moontlik borsvoed.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Hier sit ons weer saam om ’n tafel, Jo-Ann Strauss en ek. Twaalf jaar later. In die Moederstad. Ons “oe” en “a” oor haar twee kinders en my twee kinders wat elkeen van ons sedertdien ryker geword het. En ons verwonder ons aan die tyd wat verloop het – hoe goed ons voel ondanks die meer as ’n dekade wat intussen verby is en ten spyte van die lewe wat sy gang gegaan het. “Nee, allermins,” sê Jo-Ann wat vanjaar 35 geword het, “ons voel so goed as gevolg van die lewe wat sy gang gegaan het!” berispe sy my.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Ek dink terug aan die vorige keer toe ons saamgekuier het. Dit was in Skotland, hoeka óók vir ’n rooi rose-voorbladstorie. Ons het tien dae lank van die suide tot in die noorde gereis en kort op ons hakke was ’n klankman en ’n kameraman wat als afgeneem het vir die joernaalprogram, Pasella. Die land se groen berge en dale sal vir altyd afgeëts wees in my geheue, so ook die kleurryke mense, die eienaardige kos (jip, haggis en hawermout-met-whisky blý maar vreemd) en die absoluut ysingwekkende koue, maar nou ja, wat het ek verwag – ons het immers ook gegaan om te ski. Ons geselskap is aangevul deur 23 stukke bagasie wat saamgepiekel is van Edinburg se keisteenstraatjies tot die vlakte waar Braveheart hom afgespeel het; en van die Ballindalloch-kasteel in Grantown-on-Spey tot by Aviemore in die Hoogland waar ons toe wel geski het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Een ding wat ek nét so goed onthou soos die shortbread en lads in Skotse rompies, was Jo-Ann se onverstoorbare fokus en integriteit. Dat sy in dáárdie bibberende koue tien keer op ’n dag agter ’n bossie of doedelsak verklee het sonder om ’n enkele keer te protesteer …

Dit moes haar seker voorberei het om eendag in die openbaar te kan borsvoed, of nie? Jo-Ann lag lekker.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Ek was nooit van plan om ’n boob crusader te wees nie, dis maar toevallig dat dit nou daarop neergekom het,” verduidelik sy. Jo-Ann het onlangs in haar blog oor moederskap, Modern Mommy, geskryf dat borsvoeding elke ma en babatjie se reg is, en dat die samelewing daarmee moet begin vir lief neem dat ma’s – ook in die openbaar – aan hierdie natuurlike behoefte van hul kleinding kan voorsien.

Jo-Ann en haar man, Michael Held, se tweede spruit is in April gebore en nes dit was met ouboet Noah, nou 28 maande, gaan Jo-Ann vir Hannah ook so lank moontlik borsvoed, “hopelik sommer tot op twintig maande!”

En dat sy ernstig daaroor is, is ’n feit. Net voor ons afspraak aanbreek, bel Jo-Ann om te hoor of sy gou ’n voeding kan inwerk sodat haar meisiekind ’n rustige middag-slapie kan inkry terwyl ons gesels. Sy vertel die skreeusnaakse storie van hoe sy een aand Top Billing aangebied het toe Noah drie maande oud was en sy gou weggeglip het om in ’n stil kamer borsmelk met haar Medela-pomp uit te melk.

“Ek het sommer my woorde geleer terwyl die pomp doenig was – én vir ’n vale gekeer dat daar nie ’n druppel melk op die fancy aandrok mors nie!”

Ma-wees is baie eensaam as jy voel jy kan net tuis na jou kinders se behoeftes omsien, motiveer Jo-Ann haar standpunt. In haar pleidooi op haar blog vra sy dat mense minder veroordelend is teenoor vroue wat in die openbaar borsvoed. Die reaksie daarop was oorweldigend; mense keer haar nou nog voor, “selfs op die Promenade in Seepunt wanneer ons gaan stap” om dankie te sê.

Dié heupe is vir kinderskry

Kyk, ek was mos nie van Dag Een af ’n ma nie. Ek en Michael is vanjaar tien jaar saam en vier daarvan getroud. Ek is baie eerlik as ek sê dat ek nie altyd aangetrokke tot kinders was nie. Maar die heel eerste kompliment wat my man my gegee het, die aand toe ons mekaar ontmoet het, was dat ek ‘perfekte heupe vir kinderskry het!’”

So toe Noah twee jaar later gebore is, was Michael die een wat aan die begin doeke omgeruil en winde uitgevryf het terwyl Jo-Ann tot verhaal kom. Dit wás ’n aanpassing, sê sy.

“Daardie eerste paar dae was rof. Ek moes myself behoorlik uit die bed uit sleep. En dan weer sleep om te gaan stort. Maar die allesoorweldigende gevoel om so ’n klein lewetjie teen jou te kan vasdruk en ’n soet melkasempie in jou nek te voel, het die oorgangsfase baie makliker gemaak.”

Maar wat, ses dae later het Jo-Ann se vasbeslotenheid weer ingeskop en het sy haar eerste werksafspraak as ’n “ma” bygewoon – nogal ’n direksievergadering van alle dinge. Sy het haar voorgeneem sy gáán in ’n potloodrompie pas en sy gáán vir Noah saamvat.

“Toe ek en my ma in die parkeerterrein stop en die stootwaentjie uit die kattebak haal, besef ons nie een van ons weet hoe op dees aarde ’n mens dié ding oopmaak nie! Daar staan ek toe in my potloodromp en hoë hakke en ek en my ma kyk ’n video op YouTube om te probeer agterkom hoe die affêre oopvou. Dit was die heel eerste en laaste keer in my lewe dat ek laat was vir ’n afspraak.”

Toe Noah drie maande oud was, het Jo-Ann met haar blog begin. Sy wou nog altyd skryf en met al die gevoelens wat loskom in ’n nuwe ma, was dit die natuurlikste ding om haar mawees-stories te vertel – die werklikheid van moeilike nagte, ses uur saans se kaskenades, min roetine (in haar geval “bitter min” roetine), vyfsteraande uit wat plek moes maak vir ’n vinnige springmielies-en-fliek. Sy beproef ook allerhande babaprodukte soos karstoeltjies, borspompe, draagbare tuimeldroërs en skouerslingers waarin jy jou kleinood kan ronddra, en maak dan aanbevelings vir haar lesers.

Maar Jo-Ann is Jo-Ann en sy ís darem ’n oud-Mej. Suid-Afrika, dus skryf sy ook oor mooiwees en mooimaak, want “’n mens hóéf nie die glamour by die agterdeur uit te gooi sodra jy moederstatus kry nie!” Terloops, sy wat Jo-Ann is, het ’n 5-minute-mamma-grimering-ritueel. “’n Gesonde vel, netjiese wenkbroue, ’n bietjie pienk op die wange, lipstiffie en oogomlyner. Ek kan ’n vuil doek net soveel beter hanteer as ek oog- omlyner aanhet, regtig, dit werk!”

Met Hannah se koms was als makliker. Sy het selfs kans gesien om nog ’n taboe met fluweelhandskoene te takel. Toe Hannah drie maande oud was, het sy en haar klein nooientjie alleen Duitsland toe gereis vir ’n modeskou in Berlyn en om vir Hannah aan Michael se ouers in München te gaan voorstel.

“Op die vliegtuig het ons langs ’n man gesit wat my daardie tipiese jy-beter-jou-baba-in-toom-hou-kyk gegee het. Ek het Hannah rustig gevoed toe ons opstyg en toe slaap sy agt ure lank. Die kwaai man, aan die ander kant, het gesnork asof sy lewe daarvan afhang.”

Elke ding het sy tyd

In ’n groot mate skep Jo-Ann deesdae haar eie werk sodat sy beheer oor haar tyd het. Dis lekker om so af en toe voor die kamera in te skuif vir Top Billing, en die ambassadeurswerk wat sy vir Samsung en binnekort Unicef doen, is vir haar baie stimulerend. Daar is sowaar waarheid in die spreekwoord “as mamma gelukkig is, is die kinders ook gelukkig”, meen Jo-Ann.

Maar sy kan ook haar skerppunt-stilettos mooitjies neersit as dit nodig is. “Ek het die waarde van ‘nee’ geleer. Vanoggend bel iemand my en vra of ek laatmiddag Durban toe sal vlieg om ’n onderhoud met Charlize Theron te voer. Toe sê ek nee. Ek het nie melk uitgepomp nie en ek is nie voorbereid om Hannah op so ’n kort kennisgewing saam te vat nie. Klaar.”

Balans, balans, benadruk Jo-Ann. “Ek sal werk van die hand wys, maar ek sal ook voor enigiemand anders in die huis opstaan om my doenlysie vir die dag te maak. Ek gee ook nie om om
laataand, wanneer die kinders slaap, in my nagklere en met ’n masker op my gesig in die bed te sit en werk nie. Ek toets dan sommer my nuwe idees op Michael. Het ek jou al gesê – hy
is régtig my ridder op die wit perd. Hy gee selfs nie eens om as mense hom dr. Strauss noem nie,” terg sy oor haar mediasku-man.

Jo-Ann se baie, baie hegte familiebande en die manier hoe sy en Heinrich, “my broertjie”, grootgeword het, is die rede waarom sy nou ook haar eie, jong gesin styf naby haar hart hou en soveel moontlik tyd saam met hulle deurbring.

“Ek en Heinrich het in ’n oorvloed van liefde grootge-word. Daar was nooit ’n oorvloed aan dinge nie, maar dié het ons nie geweet nie, want ons ouers was teenwoordig. Ek dink deesdae met soveel vertedering terug aan die kere wat ek die trein skool toe verpas het en my pa my met sy blou stasiewa – waaruit die rook sulke blou bolle trek – aangery het skool toe. Daardie stasiewa van hom het op sy eie die osoonlaag laat krimp.”

Pa Johann en ma Ingrid help natuurlik nou lekker met die kleinkinders. Ingrid kyk drie dae per week na hulle by Jo-Ann-hulle se huis in Tamboerskloof. Heinrich, wat besig is met ’n meestersgraad in inligtingstegnologie, kom loer ook gereeld in.

Dis daarom ook geen wonder nie dat hulle Kersfeesplanne lank terug al vasgeknoop is. Michael, ’n ortopediese chirurg, se familie woon in München, en hulle is net so ’n familievaste klomp, so Desembers is dit Duitsland toe. Maar nie voor die Strausse darem op 16 Desember ’n Somerkersfeesete saam ingekry het nie.

’n Wit Kersfees

Kersfees by my skoonmense het ’n baie vaste patroon: Weihnachten word op Oukersaand gevier. Ons sing eers Kersliedere – verlede jaar kon Noah al uit volle bors ‘O Tannen-baum’ saamsing – en dan eet ons ’n tradisionele maaltyd. Daar is élke jaar Kartoffel-suppe op die spyskaart … en élke jaar ‘verbrand’ my skoonpa dit en dan moet my skoonma help om dit te ‘red’. Die verbrande sop is ook al deel van die tradisie!”

Die volgende dag klim die hele Familie Held in ’n bus en ry Lenggries toe, ’n piepklein ski-dorp in Beiere waar hulle ’n ski-huisie het. Jo-Ann se skoonpa, Franz, ’n tweemalige Olimpiese medaljewenner in roei, het ’n ski-skool op Lenggries en dis by hom wat Jo-Ann ordentlik leer ski het. Selfs Noah kan al heel goed ski.

“Dis ’n heerlike vooruitsig; die wete dat ons ná ’n vol jaar by familie kan gaan rustig word. Jou mense. Mense wat vir jou lief is en die pad saam met jou stap. En die lekkerste hiervan is om dit nou deur my kinders se oë te sien en ervaar.”

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Kry katte en honde ook Alzheimersiekte?

Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…

1 day Gelede

Hoe om die kleredragreëls op uitnodigings te verstaan

Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…

1 day Gelede

Is jou kleinding se sintuie oor- of ondersensitief?

Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…

1 day Gelede

Waatlemoen-pizza met gebraaide feta

Die nuwe (en gesonder!) pizza - in slaai-vorm!

1 day Gelede

Bessiejellies

Genoeg vir 6 Bestanddele   625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…

1 day Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Len Muller oor sy passie vir musiek en sy gesin

Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.