Jeanne Michel se Oomblik van Waarheid deur Ilse Salzwedel. Foto: Teri Robberts
Jeanne se eerste oomblik van waarheid
Sy was nog altyd sportmal, vertel die sprankelende Jeanne.
En glad nie op haar mond geval nie. “Ek kon my uit enige situasie praat, wat gehelp het dat ek in matriek onderhoofmeisie geword het.”
En waar daar ook al sport was, daar was Jeanne. “Skool was vir my ’n sosiale ding, my kans om sport te beoefen. Ek het in spansport uitgeblink.”
Jeanne onthou dat sy nie juis in akademie belang gestel het nie. “Ek het geen begeerte gehad om universiteit toe te gaan nie, en het praktiese vakke soos huishoudkunde en kuns gekies. En ek het matriek byna gedop omdat ek vergeet het om my Afrikaansvraestel om te draai,” vertel sy laggend.
Lees ook: Verwerk jou pyn
Sy het nie ’n idee gehad wat sy ná skool wil doen nie, maar sy het ’n obsessie met Amerika gehad. Toe doen sy aansoek om ná matriek by ’n Amerikaanse somerkamp vir kinders te gaan werk. “Dit was die koelste werk! Ek is betaal om aan sport deel te neem en soos ’n kind te baljaar.”
Sy is die volgende jaar teruggenooi, en het “omtrent sewe werke” gedoen om te verseker dat sy genoeg geld het om te kan teruggaan.
Maar steeds het sy nie geweet wat sy regtig met haar lewe wil doen nie.
Lees ook: Sê dit net: Leer hoe om nee te sê
Dit het vinnig verander toe sy ’n Australiese radioaanbieder by haar tweede somerkamp ontmoet. “Ek het dadelik geweet dis wat ek wil doen. Dit het na ’n briljante plan geklink om te praat vir ’n bestaan!”
So gesê, so gedaan. Tydens haar studies in radio aan die destydse Kaapse Technikon het sy vir die eerste keer in haar lewe eerste in haar klas gestaan. “Natuurlik omdat ek die eerste keer belang gestel het in wat ek moes leer.”
Ná haar studie het sy in alle erns begin werk soek, maar drie of vier jaar later het sy nog geen werksaanbiedinge ontvang nie. ’n Pos by ’n Windhoekse radiostasie het haar ontnugter gelaat, en tot vandag onthou sy haar destydse baas se slotwoorde: “Jy sal nooit weer in radio werk nie.”
Die ergste, vertel sy, is dat sy hom geglo het.
Lees ook: Jy mag sê jy’s mooi
“Ek het vir my oom gaan werk – hy het klimapparate vir kinders verkoop.” So gebeur dit toe dat sy gevra word om die aankondigings in ’n groot ysterwarewinkel te doen, en skielik onthou sy weer hoekom sy so lief vir radio was. “Ek het besef ek durf my nie aan daardie baas se mening steur nie – ek moet onthou wat al die ander mense sê wat in my glo. Daardie was my eerste lightbulb moment – die heel eerste keer dat ek besef het die begeerte om iets te doen beteken ook jy moet jouself ken en verstaan. En jy moet positief dink en glo jy kan dit doen. Net harde werk is nie genoeg nie.”
Jeanne het met nuwe ywer om poste by radiostasies aansoek gedoen, maar sonder sukses.
Lees ook: Jy kan van jou trauma herstel
Maar aanhouer wen, en nadat sy “seker ses jaar agtereenvolgens” by KFM probeer het, het hulle haar genooi om tydelik as intern daar te kom werk. Daarna het nog deure oopgegaan, en so word sy die tegniese regisseur van die gewilde Ryan Seacrest Show wat tegelykertyd op 94.7 Stereo en KFM uitgesaai is. Daarna het posisies as tegniese vervaardiger by Cape Talk en Bruce Whitfield se Money Show gevolg.
“Ek is mal oor geselsradio en die stories wat ’n mens so kan vertel,” verklap sy. “Maar om elke dag in die negatiewe wêreld van aktualiteit en nuus te werk kan nogal neerdrukkend wees.”
Deesdae is sy die uitvoerende vervaardiger van die ontbytprogram KFM Mornings. “Ek behartig ook twee nagte per maand die graveyard show – dit hou my drome van aanbied so ’n bietjie in bedwang.”
Ná tien jaar in die radiobedryf spog Jeanne met talle toekennings. “En dis soveel pret! Ek word betaal om drie uur per dag te lag. Dit wys jou net wat sou gebeur het as ek destyds daardie eerste baas geglo het.”
Lees ook: Nie goeg genoeg nie? Wat jy kan doen oor gevoelens van minderwaardigheid
Jeanne se tweede oomblik van waarheid
Haar tweede oomblik van waarheid het gekom toe sy na die uitsendings van verlede jaar se Survivor kyk.
“Teen die einde van die reeks, nadat almal reeds gestem het, het ek gedink dat ek ’n 60/40 kans gehad het om as wenner aangewys te word.” Jeanne erken dat die R1 miljoen ’n lekker lokaas was, maar dat sy graag die wenner wou wees omdat sy aan haarself wou wys sy kón wen.
“En terwyl ek die finalé kyk, besef ek dat ek nie gesê het wat ek móés sê om te wen nie.” Sy kon haar nie aan die jurie “verkoop” nie.
“Toe ek moes spog met alles wat ek bereik het, kon ek nie. Dwarsdeur die reeks het ek dit wat ek bereik het – en dat ek nog hoegenaamd op die eiland en in die kompetisie was – onderspeel.”
Lees ook: 10 maniere om positief te bly
Eerder as om te spog, erken Jeanne nou, het sy haar die fokus van die grappe gemaak. “Terwyl ek na myself op TV gekyk het, het ek besef ék het veroorsaak dat mense gedink het ek het nie regtig hard gespeel en verdien om te wen nie.”
Om na haarself te kyk en te wonder of dit regtig is hoe mense haar sien, het Jeanne tot introspeksie gedwing. “Ons word grootgemaak om gawe, nederige mense te wees, maar Survivor is nie regtig die plek daarvoor nie – veral nie in die finale rondte wanneer jy mense moet oortuig om vir jou te stem nie. Of om vir jou ’n pos aan te bied nie.”
En, weet Jeanne nou, grappies oor jouself is alles goed en wel, maar pasop dat jy nie daardeur jou eie grootste vyand word nie.
Lees ook: Lori-Ann is “bald and beautiful”
Sy het nog ’n paar sulke aha-oomblikke ervaar toe sy na die Australiese skrywer en skerpskertser Hannah Gadsby se Nanette (op Netflix) gekyk het. Hierin onthul Gadsby hoe sy haar dikwels die middelpunt van haar eie komedie gemaak het, en hoe sy uiteindelik besef het dat dit sleg vir haar is.
“Sy sê onder meer ‘self depreciating humour is not humility. It is humiliation’. Dit het my laat nadink oor hoe dikwels ek grappies ten koste van myself maak.”
Lees ook: 4 dinge wat jy nou kan doen om gelukkiger te wees
Waar dink sy kom hierdie gewoonte vandaan om jou persoonlikheid of prestasies as ’t ware kleiner te maak as wat dit is net sodat mense van jou hou (of nie bedreig voel deur jou nie)? En dink sy dis ’n ding eie aan vroue?
“Ek dink beslis vroue ly meer daaraan as mans. Die redes daarvoor is kompleks, maar ek dink dit het te doen met hoe ons grootgemaak word. Daardie rympie van ‘meisies moet hul plek ken en ordentlik wees’.”
Lees ook: Leef stadiger, leef meer
En, voeg sy by, dis nie net die manier van praat met dogters nie, maar ook hoe ons rondom hulle praat. “Gaan luister ’n bietjie hoe jy voor jou dogter oor jouself praat. Of oor iets soos gewig. Onthou, ons leef in ’n patriargale wêreld waar meer waarde aan mans en hul prestasies geheg word. Dis belangrik hoe ons vroue oor onsself praat.”
Daar is nog baie wat Jeanne (36) met haar nuut verworwe selfkennis wil aanpak. Maar intussen woon sy gelukkig saam met Rabbit, haar kat, in haar woonstel op haar ouers se erf in Table View.
Sy geniet dit om klubsokker saam met “die ongelooflikste, mees ondersteunende groep vroue” te speel.
Sy hou van kook en musiek en kampeer.
“En ek hou van die idee van ’n staptog – maar ek haat staptogte!” skerts sy. “Ek hou daarvan om op ’n berg te staan en oor alles uit te kyk, maar daardie eerste twintig minute vra ek myself dikwels af wat op aarde my besiel het.”
Lees ook: Wees positief, leef langer
‘My lyf is net die verpakking’
Interessant genoeg het Jeanne lank terug haar lyfkwessies afgeskud (al het sy ook daaroor grappies gemaak op die Survivor-eiland).
“My lyf was vir baie mense om my ’n groot kwessie. Toe ek jonger was, het selfs my ouers se vriende iets oor my lyf te sê gehad.”
Sy het lankal vrede gemaak met haar lyf. “Ek lyk soos ek lyk, al van my tienerjare af, en het lankal aanvaar dit gaan nie veel verander nie. Dit kan mense dalk verbaas om te hoor dat ek supergesond is.”
Sy erken dat sy in haar twintigerjare gedink het mense takseer haar op haar lyf.
“In my dertigerjare het ek opgehou om so te dink. Nou weet ek my lyf huisves net my brein, my organe en my siel. En as jy nie van die verpakking hou nie, is dit jou verlies.”
Lees ook: Lauren den Besten – ek is meer as my hare, ’n storie oor alopesie
Hou só op met self-sabotasie: Wat Jeanne geleer het na haar oomblik van waarheid
Om te weet jy is jou eie grootste vyand is een ding, maar hoe speel jy klaar met self-sabotasie?
“Dis ’n proses, en ek werk nog daaraan. Maar een van die eerste goed wat ’n mens moet leer, is om ’n kompliment te aanvaar sonder om te nederig of te arrogant te wees. Dis nogal ’n vaardigheid.”
Het sy raad? “Ja, wanneer iemand sê jy lyk mooi, sê doodeenvoudig baie dankie, sonder om iets te sê soos dat dit sommer iets oud is. Net dankie is genoeg.”
Jeanne beklemtoon ook dat ons self ons waarde in ander se oë bepaal. “As jy jouself minag, gaan ander ook.”
Sy glo dis belangrik om jou lewensdoel te kry. “Dan sal alles wat jy aanpak, help om jou in die regte rigting te druk. Maar onthou, dis ’n reis. En onthou ook dat jy dit waardig is.”