kategorieë: InspirasieJou lewe

Jeanette Marais is ’n vrou met ’n plan

Deur Rentia Mynhardt. Foto’s: Pieter du Toit van Detoiphotography en Michele Cilliers van Lensartphotography

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Jeanette Marais (56) het in 1990 as groentjie met ’n BSc-graad by Momentum ingestap met die idee om ’n aktuaris te word. Haar pad het deur die finansiëledienstebedryf gekronkel totdat sy 33 jaar later by dieselfde maatskappy die eerste vroulike uitvoerende hoof in die land van ’n genoteerde maatskappy in dié bedryf geword het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

As oudste van vyf kinders kon sy perd én bakkie ry voor sy skool toe is; het sy baie tyd saam met haar pa op die trekker op hul plaas naby Reddersburg deurgebring;  en het sy gewéét hoe om sonder ’n TV in skaapwêreld te speel. Plaaslewe is steeds deel van haar DNS. Deesdae bestee sy naweke saam met haar man, Johann Cilliers, op hul plaas op Paternoster waar hulle langs die strand stap, die duine uitklim en na die bloukraanvoëls, bokkies en uile se broeiplekke kyk. Dis dán wanneer sy haar pa se woorde onthou dat alles net genade is en dat jy hard moet werk omdat die lewe jou niks skuld nie. Dít doen sy gedurende die week met groot passie in Centurion.

“Momentum was nog altyd na aan my hart omdat ek my loopbaan hier kon begin, en in die beginjare van my loopbaan wonderlike groei- en leierskapsgeleenthede by hulle gekry het. Ek was destyds een van vyf wat ’n  beleggingsmaatskappy vir Momentum kon begin. Hoe harder ek gewerk het, hoe vinniger het ek gevorder.” Ná tien jaar het Jeanette na PSG geskuif om vir hulle ’n effektetrustmaatskappy op die been te bring, en was sy in hoofbestuursrolle by Stanlib, Old Mutual en Allan Gray betrokke.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Ek het met verloop van tyd al hoe meer in die bedryf bekend geword en ’n reputasie daarvoor begin opbou om ondernemings op die been te bring, maar ook om ondernemings positief om te draai, terwyl ek op die belangrikheid van kliëntediens fokus.” Haar paadjie het in 2018 weer na die rooi “m” teruggekronkel, dié keer as adjunk- uitvoerende hoof van die groep nadat sy genader is om met ’n omdraaiplan vir Momentum Metropolitan te help.

Sowat 30 jaar gelede was dit ’n wit, middeljarige manswêreld in die raadsaal en Jeanette is as enigste vrou baie keer gevra om die tee te skink en notules te neem. “My houding het my egter nog altyd gedra omdat ek in myself en my eie vermoëns glo. Ek het toe al besluit dat ek ’n stem gáán hê, my hand vir geleenthede gáán opsteek en oral waar ek gaan vir my naam gaan maak. As vrou moes ek beslis harder werk om myself te bewys, maar ek het net nog nooit my tyd en energie op mense gemors wat op my neerkyk omdat ek ’n vrou is nie. Dit haal ’n mens se oog van die doelwit af en niemand stel in elk geval hoër standaarde aan my as ekself nie.”

In 2023, nadat die baie intense werwingsproses afgehandel is en Jeanette amptelik as uitvoerende hoof van Momentum Metropolitan aangekondig is, is sy wel met ope arms en warm harte deur mans, vroue, wit, swart én bruin ontvang. “My aanstelling is ’n inspirasie vir vroue omdat dit hulle wys dat hul drome vir hul loopbane waar kán word. Ek weet dit het op die regte tyd gekom. Ek glo vas in die sameloop van omstandighede; die regte plek en die regte tyd. Ek is nóú gereed vir hierdie pos. Dit sou nie ses jaar gelede die geval gewees het nie.

“Ek is ’n doelgerigte leier en gee my beste, maar ek verwag dit ook van my 16 000 kollegas binne die groep. Ek het ’n groot dryfkrag vir uitnemendheid en wil ’n doelbewuste impak maak. Spanning en chaos laat my floreer! Dis vir my belangrik om ’n plek beter agter te laat as hoe ek dit gekry het – vir ons kliënte, maar veral vir vroue. Ons werk met mense, en dis hoekom dit belangrik is vir ons almal binne die maatskappy om vir die persoon aan die ander kant van die telefoonlyn om te gee.”

Om as uitvoerende hoof te funksioneer moet jy rasionele besluite kan neem en nie emosioneel raak nie. “Ek moet gereeld moeilike besluite vinnig maak, maar my ego is darem nie te groot om te erken wanneer ’n besluit omgedraai moet word nie.”

Lees ook: 17 dinge wat jy kan doen om beter verhoudings met jou kollegas te kweek

Selfontwikkeling is iets waaraan Jeanette glo en sy het daarom ’n paar jaar gelede besluit om deur ’n Switserse universiteit ’n MBA – wat spesifiek op topbestuur op uitvoerende vlak fokus – aan te pak waar sy een van 75 studente was. Sy is as beste student aangewys. “Dit het veral vir my as mens baie beteken omdat dit my laat sien het dat ek regtig vir niemand in die wêreld hoef terug te staan nie en dat Suid-Afrikaners met die heel bestes kan meeding.” Wanneer Jeanette op die verhoog klim of aan die woord kom, sien jy wat selfvertroue beteken. “Jy moet sorg dat jy goed ingelig is, behoorlik voorberei het en as ’n kenner oorkom. Jy moet sorg dat hulle op die punte van hul stoele sit.”

Jeanette sien nie die glas halfvol nie, sy sien hoe dit óórloop, en dis met daardie presiese vasberadenheid waarmee sy in die gange rondstap. Jy hóór haar aankom. Haar hakskoene is haar kenteken. “Ek is mal oor mooi skoene en ja, ek het baie. Die lewe is net eenvoudig te kort om plat hakke te dra! Dit laat jou bene en boude altyd beter lyk, en gee jou selfvertroue ’n  inspuiting.”

Sy is trots op haar vrouwees, verf gereeld haar lippe rooi en het geen probleem om haar mooi kuite en gespierde arms uiters stylvol te wys nie. Vroeg soggens verruil sy haar hakskoene vir hardloopskoene en het selfs al ’n hele klompie ultramarathons in die sakkie. Maar dis die bokssessies wat vir haar mooi arms sorg. “Ek is hard op myself as dit kom by hoe ek lyk. Ek sal eerder minder klere van baie goeie gehalte hê wat ek dan slim kan meng en pas. My klere van 30 jaar gelede pas steeds en as dit ’n bietjie uit die mode gaan, bêre ek dit net ’n rukkie, want ek weet ek sal dit vorentoe weer kan dra. Dis mos maar hoe modes werk. Vir my is selfversorging krities, ook omdat ek weet dat eerste indrukke baie tel. Hoe moet iemand hul swaarverdiende geld by ons belê as dit lyk of ek nie eers moeite kan doen om soggens twee keer in die spieël te kyk om netjies en goed te lyk nie?”

Sy erken blatant dat sy nie noodwendig ’n gebalanseerde lewe het nie, maar dat sy ’n goeie ondersteuningsnetwerk het, waarvan haar persoonlike assistent en huishoudster veral die balle in die lug hou. “Ek moes leer om op ’n klomp goed gelyk te fokus, maar ook om hulp te vra wanneer dit nodig is.”

Ná vyf onsuksesvolle in vitro-behandelings het Jeanette en Johann besluit om die droom vir ’n baba te laat vaar. “Ek is eintlik ’n ma van 11 met al die kinders in ons familie, en ek is baie betrokke by hulle almal. Hulle weet hulle kan altyd vir tannie Nettie bel, dat my deur vir hulle oopstaan en dat ek nie oordeel nie. Hulle maak regtig die gaatjie in my hart toe.” Die families bestee Desembers die hele maand saam by die vakansiehuis in Reebok.

’n Aktiwiteit wat hierdie vrou wat koppe laat lig wanneer sy met haar netjiese postuur by ’n vertrek instap geniet, is blommerangskikkings. “Ek hou baie van die kreatiwiteit en uitdaging daarvan en het in Junie my susterskind se troublomme gedoen.” Nog iets wat aan haar groot vreugde verskaf, is die tonnel op hul plaas. “Ek het ’n obsessie daarmee om die beste Italiaanse tamaties óóit te kweek, en ek is mal daaroor om tussen die kruie, grasuie, rissies, komkommers en ander groente te werk wat ons aan restaurante in Paternoster verskaf. Ek dink dis die plaaskind in my wat weer na vore kom as ek my hand in die nat grond druk!”

Sy praat met groot trots van haar man en hoe liefde met die eerste oogopslag wél bestaan. “Ek het die oggend nadat ek hom ontmoet het my ma gebel en gesê ek het my trouman ontmoet. Dit was 24 jaar gelede. Hy is ’n entrepreneur en aardskind en weet presies wat in die nuus aangaan terwyl hy boer en homself op die plaas uitleef. Hy is my geesgenoot en maak my emosionele tenk vol. Dis wonderlik om ’n intelligente man te hê wat in ’n totaal ander bedryf as ek werk. Ons het besluit dat ons kans sien vir hierdie tipe lewe waar ons mekaar net naweke sien en dat ons steeds die beste huwelik gaan hê wat ons kan.” Jeanette deel een van hul rituele. “Dit maak nie saak in watter land of plek ek is nie, ons gesels elke aand 22:00 met mekaar. Ek dink ons kommunikeer nou meer as toe ons mekaar elke dag gesien het.”

Jeanette is voorsitter van die Paternoster Project, wat ten doel het om kinders van die strate af te hou. Hulle kry kos, word met huiswerk gehelp en lewensvaardighede geleer, veral om te lees. “Ek het ook ’n passie daarvoor om finansiële dienste en kennis oor finansies meer toeganklik vir vroue te maak. ’n Vrou moet haar eie planne maak. ’n Man is nie ’n      finansiële plan nie!” Sy hoop vir ’n wêreld waar vroue keuses oor hul toekoms kan uitoefen omdat hulle finansieel daartoe in staat is, en sy beveg aktief die konsep van finansiële misbruik of onderdrukking van vroue omdat hulle finansieel totaal van hul gades afhanklik is.

Vir vroue in die sakewêreld sê sy dat jy moet weet dat opofferings deel van die pakket is. “Glo in jouself, vertel jou storie, verbeter voortdurend, maar onthou ook om jou sterkpunte te geniet!” Sy vier haar sukses, maar sal nooit sê dat sy dit in die lewe “gemaak” het nie omdat sy vas glo dat jy áltyd beter kan doen en nóg kan groei. Jeanette Marais is die tipe vrou wat Suid-Afrika nodig het, want sy droom nie net nie, sy rol haar moue op, maak drome waar én droom daarna nóg groter.

Lees ook: Hoe om jou verhouding met geld te verander +WEN Kim Potgieter se nuwe boek!

Kyk saam met ons:

rooi rose en ontbytSAKE op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus op ’n reeks – vrouesake.

Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.

Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.  

Lees ook: Tweede seisoen van ‘Een keer om die son’ amptelik in die pyplyn

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

Cintaine Schutte oor haar rol in ‘Wyfie’: “Mense moet gesprekke hê oor hierdie goed”

Wyfie het ’n toekenningsmasjien vir Showmax geword, met pryse by MIP Africa en die Silwerskermfees, en…

4 hours Gelede

Ons 5 beste lente-koekies

Blomkoekies Genoeg vir 12 Ek het ’n bosseleer- (reliëfdruk) matjie gebruik. Die patroon op die…

6 hours Gelede

Thaise visgebak

Resep deur Vickie de Beer

7 hours Gelede

Nico Scheepers, skrywer en regisseur van Nêrens, Noord-Kaap vertel meer oor Deel II se talentvolle jongspan

Daar is ’n gesegde in die vermaakbedryf dat jy nooit met kinders, water of diere…

9 hours Gelede

Haar vioolsnare pluk hartsnare

Deur Rentia Mynhardt     Ten volle tweetalig en nog nie eens in die skool…

11 hours Gelede

Is ons onderwysers uitgebrand?

Deur Mariette Snyman    Hoe het die pandemie onderwysers beïnvloed? Watter uitdagings ervaar hulle op…

1 day Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.