Met vier seuns tussen die ouderdomme van vier maande en tien jaar oud, kan jy jou net indink hoe woelig dit in die Du Plessis-huishouding gaan. Maar pa Jay – sy regte naam is Jaco du Plessis – is dol daarop om ’n pa te wees.
“Pa-wees is ongelooflik! Daar is niks soos ’n drukkie van jou kind as jy by die huis kom en hy sê vir jou dat hy jou gemis het nie,” vertel die gewilde sanger, wat erken pa-wees het sy lewe verander.
“Dit het my verantwoordeliker gemaak, en die ware betekenis van liefde geleer. Ek leer daagliks by my kinders. Nes jy dink jy weet alles, sê een van die seuns iets wat jou laat nadink. In hul kinderlike onskuld het hulle soveel insig.”
Pa-wees is ongelooflik! Daar is niks soos ’n drukkie van jou kind as jy by die huis kom en hy sê vir jou dat hy jou gemis het nie
Jay was 32 toe hy getroud is, en erken dat hy in sy jonger dae bang was vir trou. Maar hy was nog altyd lief vir kinders en het geweet hy wil ’n pa wees. Sy ouers is geskei toe hy nog klein was, en die feit dat sy ma ’n enkelouer was – “sy was eintlik maar my pa ook” – het waarskynlik daartoe bygedra dat dit vir hom belangrik is om ’n betrokke pa te wees.
“Jy moet daar wees vir hulle, ook langs die atletiekbaan of die rugbyveld. Ek probeer ook om, wanneer dit moontlik is, direk ná ’n vertoning terug te ry huis toe sodat ek soggens by die huis is wanneer hulle wakker word.”
Toe hy en Mia in 2009 getroud is, het hy haar seun Aiden wettiglik as sy eie aangeneem, en dis duidelik dat hy geen onderskeid tussen sy seuns tref nie.
“Elkeen het sy eie, unieke persoonlikheid.” Hy beskryf die tienjarige Aiden as rustig en baie verantwoordelik, maar vertel met ’n laggie dat hy en Mia soms ’n bietjie hart vashou vir wat hy skertsend beskryf as die sewejarige Samuel se “natuurlike aantrekkingskrag vir gevaar”. Soos dit ’n tipiese driejarige betaam, hou Luka sy ouers ook taamlik besig. Baba Jamie, die jongste – “en beslis laaste” – toevoeging tot die gesin, is nou vier maande oud. Jay kan nie uitgepraat raak oor Mia, wat ondanks al die eise van ouerskapen ’n besige huishouding, boonop kans gesien het om in die regte te studeer nie. “Oor drie maande kry sy haar LL.B.-graad,” vertel hy trots.
Is daar ouerskaphoogtepunte wat hy wil uitsonder?
“Nee, want elke dag wat ek by die huis kan wees om my seuns vas et wonderlike herinneringe aan hul kinderjare.
“Natuurlik is daar oomblikke wanneer ’n mens voel jy weet nie heeltemal wat om te doen nie. Maar ek en Mia het gelukkig met baie liefde grootgeword, en as dit voel of niks werk nie, gee ons net baie liefde.”
Wat wil hy sy kinders leer? “Goeie maniere en respek. En geloof – as ek terugkyk op my lewe, kan ek sien my talent en sukses kom van Hom af. Ek kan sien hoe God my gedra het. Ek sou my seuns ook wou leer om sterk te wees in ’n soms wrede en onregverdige wêreld, en om nooit ooit te gaan lê nie.
“Dis ook vir my belangrik dat hulle weet hulle kan my vertrou met al hul geheime, en dat my liefde vir hulle geen perke het nie. My wens vir hulle is dat elkeen homself sal vind en presies weet wie hy is. En dat hulle niemand ooit sal toelaat om hulle te verander nie.”
Joshua na die Reën
Joshua na die Reën, soos die sanger en musikant Jacques de Villiers (31) op die verhoog bekend staan, se dogtertjie, Anán, is die appel van haar pa se oog. Die onderhoud vir ons eerste artikel oor hom het enkele dae voor haar geboorte in 2014 plaasgevind, en hy kon toe duidelik nie meer wag om sy eersteling te ontmoet nie. Hy het toe ook vertel dat die Amerikaanse Christen-musikant
Jason Upton se liedjie “Maybe you’ll be teaching us that what we’ve lost” sy gevoel oor ouerskap opsom.
Blaai jy deesdae deur sy Instagram-profiel, is dit duidelik dat die fraai, vrolike, amper-driejarige dogtertjie Jacques en sy vrou Danél se harte verower het. Ons het hom gevra om vir Wolkie, soos hy haar noem, ’n spesiale onthoubriefie te skryf:
Foto’s: Rocker pa’s en hul kroos
My liewe Anán
Baie mense sê ’n mens verander wanneer jy kinders kry. Ek het altyd gedink hulle sê sommer net so, soos wat mense ook sommer net party-maal sê hulle is lief vir iemand. Of “die lewe is ’n avontuur”, of “onthou om te droom”.
Wanneer ’n mens grootword, kom jy ongelukkig agter dat dit soms net leë woorde was. Al was daardie woorde eens die bloed wat deur ons are gevloei het, besluit ons stadigaan om maar deel te raak van die stroom wat afvloei na die see van die massa verlore hoop.
En hier is jy. Ek kyk na jou, en jy trek my terug uit daardie see, stroomop na waar die riviere weer vol lewe deur die valleie van avontuur en liefde en drome vloei.
Mense sê ook dat wysheid met die jare kom. Dan kyk ek na jou en wonder watter wysheid ek meer nodig het as dit wat ek by jou sien. Jy leer my om die lewe te geniet, nie haastig te wees nie, en altyd eerlik te wees oor wat jy voel (selfs al beteken dit jy moet op jou hardste en hoogste skree!) Jy, wat stop en na elke blaartjie en stokkie kyk, wat ’n padda soen, met jou hande eet en kaal rondhardloop, leer my opnuut om blind te wees vir kultuur-, geloof- en rasseverskille. Jy wys dat ’n mens net kan liefhê en na enige vreemde mens kan stap en hom of haar teen jou vasdruk asof hulle jou mense is. Hoe meer ek jou dit sien doen, hoe meer voel mense vir my ook soos familie, asof ons almal op een of ander manier deel van mekaar is. Ek dink ons is.
Ek dink baie keer aan hoe jy veg teen die slaap, en dan dink ek die lewe is vir jou seker so lekker dat jy nie een oomblik wil mis nie. Dit laat my wonder of ek nog die lewe genoeg geniet. Miskien is dít wat jy vir ons bring, ’n tweede kans. ’n Kans om dinge weer te kan beleef, en dalk vir die eerste keer te kan beleef.
Ek wil hê jy moet weet dat waar jou lewe jou ook al mag neem, ek hier vir jou sal wees. My oë en hart sal jou volg, want ek glo in dit wat jy gekom het om by te dra tot die lewe en die skepping, en alles wat jy in God is, en Hy in jou.
Ek glo dat jy jou onbeperkte uitsig oor die lewe sal laat groei en dit gebruik om weer te laat groei in die generasies wat sal kom. Ek en Mamma is jou gelyke. Jy is ons dogtertjie, maar jy is ook ons medemens, en saam loop ons hierdie pad. Toe jy gekom het, het jy my verander. Ek sien uit om te sien wat ons saam sal word.
Met liefde
Pappa
Hunter Kennedy
Toe die alternatiewe rockgroep Fokofpolisiekar in 2003 op die Afrikaanse musiektoneel bars, het hulle omtrent vir ’n opskudding gesorg. Oor die naam, maar ook soms oor die manne se eskapades. Kyk ’n mens nou na die gesinsfoto’s van Hunter Kennedy, kitaarspeler vir sowel Polisiekar as Die Heuwels Fantasties, is dit so duidelik soos daglig: selfs geharde rockers word klei in die hande van hul kinders.
Hunter en sy vrou, Nelia, se skattige Maria is 18 maande oud. Hier is sy briefie met lewensraad vir haar:
Hallo Maria
Hierdie is ’n lys van dinge wat ek dink jou sal help.
Ek is lief vir jou. Soos in heeltemal verlief lief alles alles lief vir jou.
Onthou: Mense tree sleg op as hulle sleg voel.
Almal dink hulle het die beste idees. As jy dink jy het die beste idee, neem in ag dat net jy in daai stadium so dink, totdat jy ander mense oorreed om ook soos jy te dink. En selfs dan is dit probably nie die beste idee ooit nie, maar ’n konglomerasie van idees wat ander mense voor jou gehad het.
Sukses is ’n konstruk.
Interne Persoonlike Vrede is die doelwit. Dis nie ’n konstante nie.
Elke mens verdien dit.
Lag.
Swem.
Soen.
Jou Oupa het vir my gesê: “Kry iets om te doen waarin jy goed is en waarin ander mense nie so goed is soos jy nie.”
Doen net wat jy wil, solank jy bereid is om die gevolge te dra.
Vra altyd eers: “Hoekom?”
Moenie ’n leier vertrou nie.
Wees op jou hoede, daar is mense wat jou energie wil tap.
Jy is ’n lig. Ek glo in jou.
Ek kan nie wag om jou weer vas te hou nie.
Dada