Jawaahier se stiefma, Najwa, is in 2009 tot effektief 28 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op die geliefde musikant Taliep Petersen. Maar Jawaahier Petersen wil eerder die nalatenskap van haar pa vier as om in die verlede te leef. Sy geniet haar gate uit op die verhoog saam met Nedine Blom met hul vertoning Jaloersbokkies, wat onder meer die musiek van haar pa laat herleef.
Regter Siraj Desai het die moord op Taliep as slinks en wreed beskryf en al het Najwa drie mans gehuur om die moord te pleeg, was sy aktief betrokke.
Die hofsaak, waarin Jawaahier moes getuig, was vir die Petersen- familie en ses kinders traumaties. Sy het getuig hoe Najwa haar pa agt maande voor sy dood met ’n mes in die nek gesteek het terwyl sy in die huis was.
Haar susters, Natasha, Aeesha en Fatima, en broer, Ashur, was saam met haar daar vir die uitspraak. Hul biologiese ma is die oud-sangeres Madeegha Anders wat destyds in Taliep se produksie van District Six opgetree het.
Jawaahier wens so ’n ervaring vir niemand toe nie. Sy glo net iemand sonder ’n hart kan so ’n daad beplan. Maar selfs al sou haar stiefma drie lewensvonnisse gekry het, sal dit nie haar pa terugbring nie, sê sy. Vergifnis is ’n moeilike ding om aan te werk en sy het besluit om liewer op haar rouproses te konsentreer en om positief aan die toekoms te werk.
“Die invloed wat my pa se dood op my lewe gehad het, is so deurslaggewend soos die rol wat hy in sy leeftyd in my lewe gespeel het. ’n Deel van my voel dat sy dood ’n byna groter rol gespeel het.”
Die omstandighede van haar pa se dood, die skielike skok, die media-histerie en uitgerekte hofstryd het sy tol geëis, vertel sy.
“Ek was twintig toe hy vermoor is. Ek was ’n sorgvrye jong meisie, het ’n TV-reeks aangebied en was in my derde jaar op universiteit. Presies ’n maand later op my 21ste verjaarsdag, was ek ’n volwassene, nie net wettig nie, maar ook emosioneel. Ek was terdeë bewus van die lelikheid van die wêreld en my vertroue in die mensdom het verdwyn.”
Die hartseer was fisiek pynlik en sy het baie gewig verloor. Sy het aan post traumatiese stresversteuring gely en met angs en depressie gesukkel. Maar as die oudste kind, die “tietie”, soos hulle haar noem, moes sy die rol van ondersteuner vir die ander inneem.
“Gelukkig het my pa my sterk grootgemaak. Ek sê dikwels hy’t my soos ’n man grootgemaak. Met breë skouers waarop ander kan steun. Ek is baie soos my pa. Hy was ook die steunpilaar van sy broers en susters en geliefdes.”
Om haar pa te verloor was soos om haar ruggraat te verloor.
“Ek kon nie opstaan nie. Ek het mondig geword, drie keer gegradueer, is getroud, het twee kinders gehad en het soveel ander belangrike ervarings in my lewe gehad. En dit sonder my pa. Daar gaan nie ’n dag verby dat ek nie wens hy was hier nie. Ek bid vir hom en wens hy kon sien watter soort mense sy kinders geword het.
“Ek het baie vinnig grootgeword. Baie mense sukkel om te glo dat ek net dertig is. Dit is wat trauma aan ’n mens doen. Ek moes perspektief kry en leer om op ’n jong ouderdom groot lewensbesluite te neem.”
Weens die publisiteit van die moordsaak moes sy leer om dikvellig te wees. Koerante het daagliks hul familie se private sake bespreek, en mense het in die openbaar simpatiek na hulle gestaar.
“Ek kon nie meer in die kollig leef nie en het as aanbieder van die TV-reeks bedank.”
Die Petersens het ’n ruk lank finansieel swaargekry omdat Taliep se boedel gevries was en Madeegha moes skielik alleen die kinders versorg.
Vir Jawaahier was die vreugde van die lewe verby.
“Dit was moeilik om pret te hê met ’n moordverhoor dreigend oor ons koppe. Ek was ’n getuie by die verhoor en my lewe was in daardie tyd soveel anders as my sorgvrye klasmaats s’n.”
Dit is tien jaar sedert sy dood en sy kry steeds ’n knop in die keel as sy dink hoe ver hulle as ’n gesin gekom het.
“Elkeen van ons treur nog soms oor hom, en elkeen doen dit anders, maar ons het ook elkeen hoogtes bereik wat ons nooit gedink het moontlik sal wees nie.”
Elkeen het persoonlike mylpale bereik wat hulle wens hul pa kon beleef en hulle het geleer om mekaar te “lees”.
“Ons weet as die ander een ’n ‘Ek mis Daddy’-oomblik beleef. Om hom te verloor het ons nader aan mekaar gebring en ons het op mekaar geleun as ons voel ons wil omval. Ons het ’n week ná sy dood almal in dieselfde kamer geslaap.”
Sy voel geseënd om een van ses kinders te wees want daar is altyd iemand wat verstaan hoe jy voel.
“My pa het dit ‘Die krag van ses’ genoem. Op die dag van sy dood, het hy ons ’n verdrag laat sluit dat ongeag waarheen ons in die lewe wil gaan, ons nie ’n broer of suster sal agterlaat nie … As een gaan, gaan almal.”
Hulle kan nou al grappe maak oor hul pa, snaakse stories vertel en na ou reekse en video’s van hom kyk sonder om in duie te stort.
“Ons kan sy lewe vier sonder om by die tragedie vas te haak.”
Om aan te beweeg was vir haar ’n onstuimige rit, maar sy het haarself gedwing om deur te druk.
“My werk as ’n maatskaplike werker het gehelp omdat dit my aan ander se swaarkry blootgestel het. Ek word so geïnspireer deur die volharding en krag van die mense saam met wie ek werk dat ek al sterker geword het.”
Dit is vir haar ongelooflik genesend om met die Jaloersbokkies haar pa se musiek te kan sing . Sy voel dat sy ’n rol speel om sy nalatenskap lewend te hou en om op sy lewe eerder as sy dood te fokus.
“Ons sal hom altyd mis en vir hom bid. Ons wonder hoe die lewe sou wees as hy nog gelewe het, maar ons troos onsself met die wete dat hy trots sou gewees het op wat ons nou doen. Hy het baie hoë standaarde aan almal van ons gestel. Hy het persoonlik en polities in ’n uitdagende tyd grootgeword en wou gehad het sy kinders moet bereik wat hy nooit kon regkry nie.”
Toe sy by die Universiteit van Kaapstad aanvaar is, het Taliep haar universiteit toe geneem en saam met haar gestap toe sy die eerste lesing vir oriëntasie moes bywoon.
“Toe ek die Golden Key vir akademiese uitnemendheid ontvang, en toe ek my eed as ’n maatskaplike praktisyn in Jameson Hall moes aflê, was hy baie emosioneel. Hy het gesê: ‘Al die jare was my mense uitgehou uit die plek en hier is my dogter nou. Ek kan dit nie glo nie.’
“Ek was baie na aan hom en ons het ’n goeie verhouding gehad. Ek kon letterlik met hom oor enigiets praat, selfs oor persoonlike girly stuff. Hy was so wys. Maar ek het hom eers ná sy dood waardeer en sy manier van doen verstaan.”
Onderwys was vir hom belangrik. Op laerskool het sy altyd uitgesien na die “geskenk” wat sy kon kies as sy met onderskei-dings geslaag het en elke keer het sy gekies om saam met hom by een van sy konserte te sing.
“My pa was altyd stiptelik en het almal met dieselfde respek behandel, ongeag hul sosiale status. Hy het ons geleer ons woord is ons eer en om altyd daar te wees vir jou familie. Hy het ons ook geleer om nooit aalmoese te verwag nie, na uitnemendheid te streef en dat ek nooit verskonings oor my ras, geslag of godsdiens hoef te maak nie. Ek moes net harder werk.”