Jamie Dornan: 50 skakerings van interessant deur Margaret Gardiner. Hooffoto: Greatstock/Camerapress
Jamie Dornan het die grootste ronde oë, en die kleur van die Ierse somerlug. Hy is nie ’n indrukwekkende figuur nie, maar het ’n rankerige lyf, wat aanhangers al leer ken het in die trilogie wat met 50 Shades begin het.
Hy is reeds gevestig as akteur en het ’n vreesaanjaende vertoning as reeksmoordenaar in The Fall gelewer. Hierdie pa van twee keer binnekort terug na die silwerdoek in twee rolle waarin hy ’n joernalis speel.
In die eerste, My Dinner with Hervé, word die verhaal vertel van ’n joernalis wat die laaste onderhoud met die akteur van Fantasy Island (Hervé Villechaize) gedoen het. Sy bekende aanhaling was “Die vliegtuig, die vliegtuig!”
Peter Dinklage van Game of Thrones speel die rol van Hervé, ’n man wie se geluk en truuks besig is om op te raak … Hy oortuig Dornan se karakter om tyd saam met hom deur te bring pleks van ’n groter storie te jaag.
Die tweede fliek is oor die oorlogverslaggewer, Marie Colvin, en die opofferings wat sy maak om in oorlogsgebiede in te gaan. Die fliek dokumenteer die menslike tragedie van onskuldige burgerlikes terwyl magspelers die samelewing, gesinne en hul lande vernietig om diktature te behou. Dornan vertolk haar fotograaf en hulle is albei komplekse mense.
Dieselfde erns is nie sigbaar in ’n geselsie met hierdie Ier nie. “Toeganklik” is ’n goeie woord om dié eggenoot van aktrise Amelia Warner te beskryf. Daar is niks pretensieus aan hom nie. Hy gesels met almal en oor alles – van rugby tot sy gunsteling-groente. Hy erken laggend Brusselse spruite is sy swak.
Hy het die soort persoonlikheid wat gesorg het dat talle bewonderaars hom met die TV-reeks Once Upon a Time begin volg het en hom steeds sal volg in die uitdagende rolle wat hy nog gaan aanpak, soos die opkomende Robin Hood.
Jy speel ’n joernalis in albei rolprente. Hoe het jy die keuse gemaak en hoe het jy die rolprente ervaar?
Ek dink dit was net toevallig dat ek in dieselfde jaar twee joernaliste gespeel het. Ek word net deur die storie en die draaiboek getrek. Die twee rolprente is uiteenlopend in hul uitbeelding van joernaliste. Dit is bloot toevallig dat ek van albei draaiboeke en regisseurs gehou het.
Hoe het jou ervaring van die twee rolprente verskil?
Dit was baie verskillend. My Dinner with Hervé kan nie vergelyk word met A Private War nie. Die stories, karakters en die wêrelde waarin die flieks hulle afspeel, is so verskillend. Dit is vir my baie lekker om elke keer iets anders te speel. Ek glo ek doen dit in elke rol.
Dit is een van die luukshede van my werk. Ek kan verskillende wêrelde ontgin en verskillende karakters aanneem.
Dit is hierdie verskeidenheid wat my werklik opgewonde maak oor my werk. Ek dink nie ek sou gelukkig en tevrede gewees het as ek dieselfde soort karakter oor en oor gespeel het nie.
Ek is ’n hoflike mens. Partykeer neem mense my saam op ’n reis waarop ek nie wil gaan nie – net omdat ek ordentlik is. Dit het vir my gelyk of dit is wat gebeur het met jou karakter in My Dinner with Hervé? Het dit al met jou ook gebeur?
Ek dink dit gebeur baie. Ek probeer om my ook as ’n hoflike mens te sien, maar dit kan jou in die moeilikheid laat beland. Ek dink as ’n mens in die openbare oog is, word meer van jou verwag. Ek het in die verlede ingestem om dinge te doen wat ek nou besef ek nie moes gedoen het nie. Ek dink ek is nou goed met die bestuur van my tyd en om mense met liefdadigheid te help. Ek probeer suksesvol wees daarmee, maar soms neem dit jou op ’n pad waarop jy nie wil gaan nie.
Met wie sou jy graag ’n onderhoud wou voer?
Waarskynlik Frank Sinatra. Veral oor sy kompleksiteit en sy betrokkenheid by dinge buite die vermaaklikheidsbedryf.
Hy het my nog altyd gefassineer. Hy was groot en het ’n geweldige uitwerking op mense om hom gehad. Mense was bang vir hom. Ek dink dit sou fassinerend wees om ’n aand saam met hom te kon deurbring.
Lees ook: Margaret se Wêreld: ’n Besige blitsbesoek aan New York
Jy het ’n ongelooflike werkskedule wat voorlê. Wat doen jy om gesond te bly?
Die gekheid om twee klein mensies elke oggend gereed te kry vir skool en kleuterskool is genoeg om my fiks te hou. (Hy lag). Gisteroggend moes ek hulle gereed kry voor ek hierheen kon vlieg. My vrou is op die oomblik uitstedig. Dit is wat ek is as ek tuis is: ’n eggenoot en pa, en dit is omvattend. Dit is die rol wat ek as die belangrikste beskou. Dis wat regtig vir my in die lewe saak maak.
Ek hou daarvan om dit te doen wat ek nou doen. Soms raak dit mense op ’n lekker manier en soms is dit suiwer vermaak. Maar in wese is dit vir my ’n werk.
Die werklike lewe is by my huis. Ons woon op die platteland, ’n paar uur buite Londen. Dit is ’n keuse wat ons vir ons kinders gemaak het. Ons wil hulle ruimte gee en om ’n normale lewe te leef weg van die glansligte. Ons verkies dit so en dit is stiller.
Wat is die mees uitdagende deel van gereed maak vir skool?
Ons oudste het pas met groot skool begin. Van nege-uur tot halfvier. En dankie tog, die skool gee ’n lys van alles wat hulle elke dag van die week nodig het. En jy gaan elke oggend histeries deur die lys terwyl jy probeer om vrugte of ’n Marmite-broodjie in hul lywe te kry.
Dit is elke dag soos om deur ’n hinderlaag te hardloop, maar jy kry dit altyd reg om hulle in die kar te laai. Maar net as jy begin ry, onthou een van hulle dat hulle gimklere of iets vergeet het. Daar is altyd iets. Anderdag was dit ballet. Ons was op pad skool toe, toe onthou sy sy het nie haar balletskoene nie. Dit is die soort malheid wat enigeen met kinders ken.
Jy speel dit rol van ’n foto-joernalis. Het jy voor die tyd met die toerusting geoefen?
Ek het, ja. Ek is lief vir fotografie, maar ek is die liefste vir film-fotografie. Ek besit ’n buitengewone aantal kameras wat nog met film werk. Ek hou nie van digitale fotografie nie. Ek moes dus met digitale kameras oefen. Ek het ’n blitskursus gedoen saam met Paul, die karakter wat ek uitbeeld.
Ek moes oefen om die kamera in vinnige aksie-oomblikke te hanteer. Ons het mekaar rondgejaag en foto’s geneem. Dit moes vreemd gelyk het! Ons het dit in ’n kroeg in Amman in Jordanië gedoen waar ons die rolprent geskiet het. Maar ja, ek het probeer om gemaklik daarmee te voel. Soos die mense wat daarmee werk. Vir hulle is dit outomaties, soos ’n verlengstuk van jou hand. Dit moenie voel soos iets waarmee jy hoef te werk nie. Ek het probeer om so gemaklik moontlik te wees.
Probeer jy om meer fotografie in jou private lewe te beoefen?
Digitale fotografie boei my nie soos die skiet met film nie. Ek hou van die ritueel van die film in die kamera laai. Dit was lekker om ’n donkerkamer by die huis in te rig om my films te ontwikkel.
Ek het ’n bietjie daarvan op skool gedoen. Ek het ’n fotografiekursus gedoen. En sommige van my gelukkigste, rustigste tye in my lewe was in ’n donkerkamer. Ek is lief vir daarvoor. Wat jy ook al geskep het, wat gewoonlik nie goed was nie, was lekker. Ek hou van daardie atmosfeer.