Jacques Pauw was ’n doring in die vlees van die apartheidsregering, en sedert die verskyning van sy nuwe boek, The Presidents Keepers, is dit veilig om te sê die netwerk korruptes wat president Zuma op sy wankelrige troon hou, haat hom ook. Binne ’n dag nadat die Staatsveiligheidsagentskap (voorheen Nasionale Intelligensie) aangekondig het hulle wil die boek verbied, is al
20 000 eksemplare uitverkoop (maar daar was intussen weer ’n herdruk), en dit was ook ’n rukkie lank die beste e-boekverkoper ter wêreld. Jacques word sedertdien gedreig met die dood, arrestasie en hofsake, maar van stilbly is daar nie sprake nie.
Hoekom het jy restauranteienaar geword?
Ek was moeg vir joernalistiek. My loopbaan as joernalis het op 1 Januarie 1985 begin. Teen die einde van 2014 was ek tam. Tussendeur het ek vyf boeke geskryf. Maar ek dink joernalistiek bly in jou bloed en ek het skryf gemis. Om joernalis te wees is ’n bietjie soos om aan heroïen verslaaf te wees. ’n Mens mis altyd daardie rush! En toe ’n ou “bron” my bel en sê hy het vir my inligting oor korrupsie en bedrog in die Staatsveiligheidsagentskap, kon ek dit net nie weerstaan nie. Ek het Rusland toe gevlieg, die oud-spioen gaan besoek en begin skryf.
“Om joernalis te wees is ’n bietjie soos om aan heroïen verslaaf te wees. ’n Mens mis altyd daardie rush!”
Jy het seker besef die boek gaan opslae maak, maar het jy hierdie polemiek verwag?
Nee, ek is steeds oorbluf oor wat gebeur het. Mense stop my om my hand te skud en selfies saam met my te neem. Ek’s skoon bang om uit te gaan! Nou die dag was ek in ’n restaurant, en toe ek wil betaal, sê die kelner iemand anders het klaar vir my betaal. Mense stroom na my restaurant dat ek hul boeke moet teken. Ek’s ’n private mens en hou nie van publisiteit nie. Hierdie is amper te veel. Dis oorweldigend. Ek steur my nie aan doodsdreigemente nie – ek het al baie in my lewe gekry. Vir hulle sê ek net waarheen hulle kan verdwyn. Ek het aanvanklik lyfwagte gehad, maar nie meer nie.
Jy onthul verstommende feite oor die staatskaping? Wat was vir jou die ergste?
Die kern van die boek gaan oor hoe Zuma die wetstoepassingsagentskappe (die Valke, die SAPS en die Nasionale Vervolgingsgesag) verwoes het. Toe ek begin skryf, het ek nie verwag dat die verrotting so diep gaan nie. Hoe is dit moontlik dat ons een man kon toelaat om soveel verwoesting te saai? Dat vriende en bondgenote hom so baie geld betaal het, het my nie so erg geskok nie, want ons almal weet Zuma is korrup. Maar dat hy bereid is om basies die land in ’n moeras te laat verval om homself, sy familie en sy vriende te beskerm … Dit het ek onderskat.
Toe ek begin skryf, het ek nie verwag dat die verrotting so diep gaan nie
Kenners verwys dikwels na ’n “tipping point” wat ’n situasie ingrypend verander. Is hierdie ons s’n?
Dit moet wees, want anders gaan ons land in ’n kriminele staat verval en ons demokrasie gaan vernietig word. Daar is nog net drie goed wat tussen ons en ’n gangster-staat staan: die howe, die media en burgerlike samelewing – ek en jy. As ons nie almal nou terugveg nie, gaan ons in ’n posisie beland waarvandaan ons nie kan terugkeer nie.
Hoe sien jy die post-Zuma era?
As Nkosazana Dlamini-Zuma in Desember aangewys word as president van die ANC (hierdie onderhoud het oorspronklik in die Desember 2017-uitgawe van rooi rose verskyn), gaan niks verander nie en is ons in die moeilikheid. Sy het haar omring met korrupte Zuma-bondgenote soos Ace Magashula en David Mabuza. Ons het nuwe, sterk leierskap nodig – iemand wat die wetstoepassingsagentskappe herbou, korrupsie beveg, ’n einde bring aan staatskaping en die Guptas onder hul gatte skop.