Met die langverwagte Paasnaweek pas verby, kon die meeste van ons darem ’n dag of wat asem skep en wegbreek uit die sloer van roetine.
Ek weet nie of dit net ék is nie, maar met die aanbreek van so ’n naweek, neem dit my gewoonlik ’n dag of wat om tot ruste te kom. Dis asof die wieletjie sukkel om stadiger te draai en die hamster se voetjies hou net aan hardloop.
En dan, eensklaps, kom ek tog tot stilstand en dit is asof ’n kwartaal se gejaag in die seesand wegsypel en ek kry weer kans om vars seelug in te asem en te luister na wat die kinders sê, in plaas daarvan om hulle stil te maak met die konstante: “Kom, ons gaan láát wees!”
Wat my telkens laat wonder: Hoekom jaag ons só? Is dit regtig nodig om so ’n strawwe pas vol te hou in die kwartaal? Ek voel deurgaans soos die Horlosiehaas in Alice se Wonderland – maar ek is nie op pad na ’n koninklike teepartytjie nie, ek jaag bloot agter skoolklokke en buitemuurse bedrywighede aan.
As ek luister na vriendinne by die skoolhek, is dit nie die vragte huiswerk, botsende sportwedstryde en nimmereindige skooltake en toetse wat hulle angstig maak nie. Dit is die gejaag van dou-voor-dag tot saans laat om almal oral betyds te hê. As ek luister na van hulle met kinders in verskillende grade en skole, weet ek soms eerlikwaar nie hóé hulle dit regkry nie.
Ek het maar net twee kinders, in graad 1 en graad 3, en dikwels voel ek op ’n Maandagmiddag al skoon sooibrand as ek laatmiddag na skool, sport en skaak by die deur instrompel met die twee moeë skoliere en die week se program in oënskou neem.
Ek vermoed ek grens aan obsessief-kompulsief wat betref organisasie – ek hou daarvan dat dinge op hulle plek is en ek wil weet wanneer en waar wát voorlê. Dalk is dit hoekom ek die skoolweek so gespanne begin?
’n Staatmaak-vriendin is dikwels dik van die lag as ek op ’n Maandag plegtig verklaar dat hierdie week anders gaan wees as ander. Ek gáán met die beste wil in die wêreld diep asemhaal en nie kort-kort op die kinders skree dat ons alweer laat is omdat hulle so draai nie. Ek gáán my bes probeer dat elke tweede sin wat by my mond uitkom, nie is “Kom, julle, ons gaan laat wees!” of “Bly gou stil en maak klaar, ons móét rý!” nie.
My Skeinatonnie het altyd gesê: “Die pad na die hel is geplavei met die kopbene van mense wat goeie voornemens gehad het.”
Ek vermoed die pad na die malhuis is ewenteens geplavei met dié van moeders met voornemens wat gewoonlik reeds dieselfde middag nog sneuwel as die kroos stry-stry by die huis inwarrel.
’n Ander vriendin erken sy sluk op ’n Sondagaand reeds twee Rescue-pilletjies vir die week wat wag.
Ek wens daar was ’n pilletjie te sluk wat ’n paar minute tyd aan elke rit iewers heen sou gun sodat alles nie met soveel gejaag gepaard sou gaan nie. Of ’n pilletjie wat ’n skooltaxidrywer se gemoed meer gemoedelik sou maak.
Maar, ek vermoed daar moet eerder ’n ander oplossing gevind word vir die maagseer van heen-en-weer jaag om betyds te wees en die skoolprogram vierkant in die oë te kan kyk.
As ek net daardie oplossing kan vind.