Is Italië ‘n soort verslawing, soos die agterblad van reisskrywer André Pretorius se boek beweer?
Ek kan nie objektief oordeel nie. As vierjarige dogtertjie het ek my eerste kennismaking met anderland in Rome beleef. Die kelner het die ontbytkamer met ‘n bord vol kersies aan stingeltjies binnegekom, en dieprooi tweelingvruggies oor elk van my ore gehaak. Siedaar, hangoorbelle soos my ma s’n! Sedertdien is ek verlore.
Italië spel op soveel maniere betowering, en André knoop hulle in verskillende patrone saam. Van kuns, argitektuur en geskiedenis tot musiek, mense en kos. Hoor hoe beskryf hy truffels: “Die geur is soos geen ander nie: ryk soos olie, soos wilde sampioene, soos sjokolade, soet soos ‘n sigaar, met die geur van neute en kastaiings.”
Op verskillende tye en met verskillende reisgenote het André Italië deurkruis, maar altyd met ontvanklike sintuie, ‘n fyn waarnemingsvermoë, ‘n gretige verstand en ‘n oop hart.
Italiaanse Intermezzi bied ‘n ryk oes, en is opgedra aan André se kleuterseuntjie, Daniel, wat tien teen een ook vir die res van sy lewe ‘n bietjie bedwelmd sal voel wanneer hy aan Italië dink.
Meer inligting by www.naledibooks.co.za – uitgewersprys R225.