My liefde vir Istanbul strek oor dertig jaar. Vanjaar het ek dit die soveelste maal besoek en hierdie keer wou ek seker maak ek ontdek dele van die stad of strate waar ek nog nie voorheen was nie.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }My verblyf is in ’n woonbuurt skuins onderkant die Galata-toring bespreek, en as die taxibestuurder na middernag deur verlate straatjies verdwaal – met geen ander hotelle in sig nie – begin ek hierdie besluit betwyfel. In die voorportaal van Guesthouse Galata ontmoet die ontvangsklerk en ’n Arabier wat whiskey teug my vriendelik. Hulle verseker my dis naby al die lekker rondloopplekke. Dis ’n groot kamer, sitkamer en badkamer met ’n klein kombuisie vir die totale prys van R300 per nag.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }Vroegoggend word ek wakker gemaak deur die storms der storms en as ek by my venster uitloer, hardloop water soos kanale in die afdraende straatjies. Ek ploeter deur die oorstroomde gang tot by die ontbytlokaal waar jy fyn moet trap om die poele te mis. Al die Turke staan stomgeslaan – sulke oorstromings hierdie tyd van die jaar is ongehoord. ’n Turkse vrou in ’n kopdoek bring vir my olywe, romerige kaas en tamatie-ontbyt en gaan dadelik voort om die water te probeer op-stofsuig. Voorheen het ek altyd in die historiese gedeelte Sultanahmet of die moderne Taksim gebly, maar hierdie deel-wees van alledaagse dilemmas laat my tuis voel en ek besluit summier ek bly aan.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }Steil, en ek bedoel stéíl bult op in die rigting van die Galata-toring, ontdek ek motor-onderdelewinkels, werkswinkels en verder aan beligtingswinkels – van diskoligte tot die fraaiste glaskandelare. Elke nou en dan stop ek om iets te bewonder, maar eintlik is dit om my asem te vind – die steiltes, oooo die steiltes. Ek vind ’n winkel met die mooiste touligte – lang toue met halogeengloeilampe – wat net reg is vir installeer en ek koop dadelik twee. As die vervoer nie so dicey was nie, het ek die gloeilampe ook gekoop – 3€ elk!
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }In die klipstraatjie met die Galata-toring wat aan die bo-punt wink, vind ek die mooiste bakkery en koffiewinkel met die singende naam Sirin Firin Bakery. Na die gestoei met die bulte drink ek sommer twee Coke Zero’s na mekaar. Langs my sit ’n moderne Turkse vrou met krullelokke en ’n sigaret in diep gesprek met haar metgesel. Hy dra ’n ou Pink Floyd T-shirt en deurwinterde charisma.
Net verby die toring is die mooiste straatjie met meer toeristesnuisterye, en hier vind ek egte katoenhanddoeke (die soort wat by hammams gebruik word) vir tussen 10 en 20€. In Sultanahmet en die Grand Bazaar kos dit dubbeld soveel (nadat jy al vir afslag gekibbel het). Dit is ook die plek om musiekinstrumente te koop. Dit maak geen sin nie nie, maar winkels wat dieselfde ware verkoop, groepeer saam en as jy ’n seun het wat musiek eet, slaap en leef, koop jy vir hom ’n Cuha en mooi gekleurde shakers. Vir goeie verhoudinge gooi die winkeleienaar ’n ekstra stel snare en ’n klein mikrofoon wat aan die kas van die instrument vasplak in.
Oral op mure is graffiti en met oorgenoeg restaurantjies val my keuse op ’n bord lams-en-hoender-kebabs op gebraaide aartappels met ’n jogurtsous. Ek kry ’n gratis glas tee vir die spysvertering en gooi geld in die twee Armeense kleutermusikante se blikkie. Hierdie straatjie sluit aan by die Istikhlalstraat van Taksim, maar ná die reality van Galata wys die klatergoud van die ontwerperswinkels in Taksim. Later drink ek ’n koffie in die besige restaurantstrate van die kopersmekka en keer laataand huiswaarts met ’n taxi wat weer eens verdwaal.
Alhoewel ek die Egyptian Spice Basaar naby die Nuwe Moskee van Yeni Camii al baie keer besoek het, het ek nog nooit in die gangetjies agter en direk langsaan en gesnuffel nie. Maar loop eers deur die Spice Bazaar – hier word al vir honderde jare handel gedryf met speserye, Turkse lekkernye, gegeurde tees en seewiere, en niks het in al die jare verander nie. Dis enige entoesiastiese lekkerbek of fotograaf se droom.
Die onderdakstegie reg links van die basaar is gepak met alles wat ’n troeteldier-eienaar mag benodig. Hondelei- en muilbande, hondekos, marmotjies, eksotiese vissies, slaperige wolhaarhondjies en voëlhokke van plastiek en hout oral waar jy kyk. Op een hoek tel die eienaar 37 baba-eendjies uit vir die nuwe eienaar – 37?
Agter die Spice Basaar in Uzumcarsi Caddessistraat ontplof die frille en nylonwêreld van voornemende bruide. Mandjies oorgetrek met rooi satyn en plastiekrosies, sy-blom posies wat uit dakke hang en blommemeisie-rokkies besaai met strikkies, tulle en net verwelkom jou in reënboogkleure. Party winkels stal seuntjiepoppe in outydse sultan-uitrustings uit. Die materiaalwinkels stal egter net die mees eksotiese en smaakvolles uit, in skrille kontras met plastiekskoene en rakke vol vals oogwimpers. By ’n kantwinkel doen ’n ma toegedraai in Nigeriese batiklap en ’n pa in sy beste pak, aankope vir ’n bruid – spierwit kant vir ’n Afrikabruid.
Sy is nie net die eerste dowe vrou om as Mej. Suid-Afrika gekroon te word…
Het jy geweet dat meer vroue jaarliks aan hartvatsiektes en beroertes sterf as mans? Gelukkig kan…
Resep: 'Dairy Gives You Go' Bestanddele 1 ½ koppie gladde medium-vet maaskaas – kamer…
Daar is baie maniere en wenke om vetplante te laat gedy. Hier is nege wenke…
As Karlien van Jaarsveld die horlosie kon terugdraai, sou sy dieselfde keuses gemaak het, want…
Resep: 'Dairy Gives You Go' Bestanddele 2 koppies koekmeel ¾ koppie Amasi ¼…
Hierdie webwerf gebruik koekies.